2025/04/12

In die land van die lewendes

Lees: Psalm 116

Gedagte vir kinders: Geniet jou lewe voor die aangesig van God en dank Hom vir Jesus Christus.

Oorsig: Ps. 116 vorm deel van die Hallel-Psalms (Lofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsange wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het by die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het, net voor hulle na die tuin Getsemane gegaan het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het hierdie lied oor verlossing van die dood dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Die Psalm bestaan uit twee basiese dele: vers 1-9 en vers 10-19. In die Spetuaginta (Griekse vertaling: LXX) en Vulgaat (Latynse vertaling) is dit twee afsonderlike Psalms, maar daar is geen rede om dit nie saam met die Hebreeuse Teks as een Psalm te waardeer nie.

In vers 1 stel die Psalmis dat hy liefhet, omdat die HERE sy smekinge gehoor het (vgl. Ps. 18:1). Die HERE het sy oor geneig en daarom sal hy Hom aanroep (v.1-2). Sy krisis was die dood en bande en angste van die doderyk het hom getref (vgl. Ps. 107:3,14). Maar Hy het toe die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel (v.3-4). Dan getuig Hy dat die Here genadig, regverdig en ’n ontfermer is (vgl. Ex 34:6). Ook dat hy die eenvoudiges bewaar. Hy het swak geword, maar die HERE het hom gehelp (v.5-6). Hy praat hierna met homself en gesê dat hy maar kan terugkeer tot rus om dat die HERE goed aan hom gedoen het. Hy praat daarna met die HERE (U) en loof Hom dat Hy sy siel gered het van die dood, sy oog van trane en sy voet van struikeling. Hy doen dan ’n belydenis dat hy sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes  (v.7-9).    

Die Psalmis stel dan dat hy geglo het, ten spyte daarvan dat hy gesê het dat hy diep neergebuig is oor sy omstandighede. Hy het in sy angs gesê dat alle mense leuenaars is (v.10-11). Maar dan gaan hy weer in lof oor en vra wat hy die HERE kan vergeld vir al sy weldade aan hom. Hy antwoord hierop en stel dat hy die beker van verlossing sal opneem en die Naam van die HERE sal aanroep. Hy gaan ook verder en stel dat die geloftes wat Hy aan die HERE gedoen sal betaal in die teenwoordige van sy totale volk (vgl. Num. 30:1-2; Deut. 23:21; 1 Sam. 1:11 ). Hierna stel hy dat die dood van sy gunsgenote kosbaar/duur is in die oë van die HERE. Die bedoeling is dat die HERE juis daarom nie sy kinders daarin oorgee nie (v.12-15). En dan doen hy weer ’n belydenis teenoor sy God: Ag HERE, sekerlik, ek is u kneg, die seun van u dienmeisie. Die rede wat hy gee is omdat die HERE sy bande wat hom aan die dood gebind het, losgemaak het. Hy volg dit dan daarmee op soos in vers 14 dat Hy sy geloftes aan die HERE sal betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (v.16-18). Hy brei hierop uit en stel dat dit gebeur by die tempel – in die voorhowe van die huis van die HERE, ja binne in Jerusalem wat hy persoonlik aanspreek. En dan kom die groot woord van die Hallel-Psalms weer na vore: Halleluja! Dit beteken “Loof die HERE!” (v.19; vgl. Openb. 19:1,3,4,6).

Besprekingsvraag: Wat is die gepaste reaksie op God se genade?

Insig: Die lewe is ’n gawe van God. Soms is dit ’n naby-dood ervaring wat ons die lewe op ’n nuwe wyse laat smaak en proe en geniet – om weer ekstaties daaroor te mag wees om te lewe en dit nogal voor die aangesig van God. Maar die Psalm gaan nie net gaan oor ’n tydelike pouse in die teenstand teen die meedoënloos-naderende mag van die dood nie. Die Psalm spreek oor lewe op so ’n wyse dat dit net voluit waardeer kan word wanneer lewe altyd groter is as die dood.