2022/05/25

'n Preek vir Hemelvaartdag

Hierdie boodskap is op Hemelvaartdag 2021 op Pretoria FM in die aand uitgesaai. 

Lees: Hd. 2:33-36; Ps. 110; Psalm 2:7-12, Dn. 7:13-14

Inleiding

Hemelvaart is tradisioneel een van die vyf groot bakens op die kalenders van Christene: Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart en Pinkster. En nou weet ons, in Suid-Afrika is die viering van Hemelvaart reeds vir ’n geruime tyd geskrap van ons amptelike vakansiedae, en ons behoort dringender as voorheen te vra: Waarom, en wat is die gevolge en implikasies hiervan? Die feit is dat ook die verwaarlosing van die betekenis van die Hemelvaart daartoe lei dat ons nie meer leef uit die volheid van die evangelie nie. Ons vergeet byvoorbeeld te maklik dat daar slegs een rede is waarom al die dinge wat Christus vir ons in die verlede tyd gedoen het, nou, in die hede, ’n werklikheid mag wees – die Hemelvaart van Jesus Christus.   

Broeder en suster, die viering van, en leef uit die betekenis van Hemelvaart is baie belangrik. Dit is selfs in die geseënde tradisie van die Kerk beskou as die hoogtepunt van die verlossing wat Christus gebring het. Daarsonder kan ons nie werklik begryp en waardeer waarom die heilswerk van Christus in die verlede ook in ons dag waar e het in de hede en kan oopblom ook in ons tyd nie. En tog, in Suid-Afrika is dit die Christelike vakansiedag wat weggeval het, terwyl baie Europese lande nog hierdie dag herdenk, al is dit dikwels net in naam. Nou is dit wel so dat Christene se eintlike feesdag elke Sondag op die eerste dag van die week is, maar daar is ook iets soos die kerstening van ’n kultuur. Enige kultuur het die manier om sy kerstening, al dan nie, te reflekteer op die openbare kalender. Dit gee ’n goeie idee van wie die eintlike God of gode van die samelewing is. Ons sou selfs sover kon gaan as om daarop te wys dat die ware god van ’n samelewing aan die lig kom as jy let op dit wat in die openbaar as polities korrek beskou word. Ons sou hierby kon voeg dat jy ook moet let op die publieke vakansiedae (“holy days” wat "holidays" geword het) wat gevier word. Dit verbaas daarom glad nie om te sien dat Hemelvaart van die rol geskrap is nie, want sien, Hemelvaart getuig op ’n baie besondere wyse van wie die eintlike Koning op die troon is.

Ja, Hemelvaart gaan oor die grootste troonsbestyging ooit. Niks kan daarmee vergelyk word nie. Elke aanspraak op ’n nuwe orde met die bedoeling van ’n nuwe troon moet beoordeel word in die lig van die nuwe orde in Christus wat deur sy Hemelvaart ingelei is. In die viering van die Hemelvaart getuig ons wie eintlik op die troon sit – ’n waarheid wat drie jaar oue verbondskinders meer korrek bely as sekere openbare leiers in ons land. En daarom kan ons dit gerus maar weer by die herdenking van Hemelvaart prontuit bely en mekaar daaraan herinner: Die belydenis dat Jesus die Here is, is die grootste politieke uitspraak van alle tye. Hemelvaart getuig kragtig hiervan. En daarom kan die openbare en politieke ontkenning van die Hemelvaart van Christus in ’n samelewing nie sonder konsekwensies bly nie. Ons gaan aan die hand van die Woord na hierdie konsekwensie kyk onder die volgende punte:

  1. ·       Hemelvaart en die staat
  2. ·       Hemelvaart en die Kerk
  3. ·       Hemelvaart en die appél op ons

Hemelvaart en die staat

Psalm 2 het reeds lankal gewys op die konings van die aarde wat alte maklik die bande van God en sy Gesalfde wil stukkend ruk (Ps. 2:2-3). Hulle word dan gemaan om verstandig te wees en hulle te laat waarsku om die Here te vrees, te juig met bewing en die Seun te kus (Ps. 2:10-12). Wanneer die Hemelvaart van Christus nie sy plek kry nie, beteken dit daar nie aan hierdie oproep gehoor gegee word nie en word ’n plaasvervanger by implikasie vir die troonposisie van die Seun voorgestel. Een van die eerste groot aanspraakmakers is dan die staat en wanneer jy mooi oplet, besef jy dat die alternatief - poging tot ’n Hemelvaart van die staat  - nie uitgesluit is nie. Die staat kan maklik optree asof sy troonposisie vanselfsprekend is en een van die duidelikste maniere hoe ons dit sien, is wanneer die staat vanuit die hoogte afkyk op die sogenaamde godsdienstigheid van mense. Een van die eerste skuiwe is dan ook om Christene bloot op een ry saam met al die ander godsdienste te plaas, as net nog ’n manifestasie van spiritualiteit. Dit verg nie veel breinspiere om te raai dat die staat dan ook redes sal begin soek om die speelveld tussen die verskillende godsdienste gelyk te probeer maak nie.

So het ons byvoorbeeld al in die verlede selfs verneem van die staat wat ook wil herbesin oor die amptelike erkenning van Christelike feesdae soos Kersdag en Paasnaweek, aangesien dit diskriminerend mag wees teenoor ander godsdienste. En soos wat ’n samelewing afgly van die kerstening wat daarin plaasgevind het, kan ons verwag dat daar stappe sal wees om dit op die openbare kalender te reflekteer. Dit laat ons besef dat belangrike seine alreeds in die lug was toe Hemelvaart van die rol verdwyn het.

En dit moet ons ook daartoe lei broeder en suster, dat ons vra  vra of dit wat die teoloog Arnold van Ruler genoem het “die brandende vuur van die visioen van ’n samelewing waarin geregtigheid woon” nog in ons harte brand soos dit hoort. Met ander woorde, dat letterlik alles tot eer van God moet geskied, ook die werksaamhede van owerhede soos dit ook in prontuit gestel word in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36. Dit impliseer dat die Hemelvaart en troonbestyging ook deur die owerheid erken moet word. Daarom kan Van Ruler sulke gloeiende woorde spreek oor ’n visie waar ook die owerheid opsien na Christus. Hy sê: 

“...die kerk gaan ’n belangrike stap verder en sê dat die owerheid die volkslewe dusdanig moet regeer dat die gehele volkslewe konkreet en gemeenskaplik diens van God word, so dat die gehele nasionale lewe ’n gekerstende gelaat vertoon. Met ander woorde, die kerk wil meer as ’n regstaat hê, waarin plek is vir die kerk. Die kerk wil ’n Christelike staat hê, waarin daar nie maar net plek is vir die diens van God nie, maar wat self, in al sy gedraginge en uitinge, diens van die God van die openbaring is. En dit vra die kerk van die staat nie ter wille van sigself nie, maar dit vra sy in die eerste plek ter wille van die staat, omdat die staat alleen dan sigself word en tot sy eie bestemming kom, as hy wandel in die lig van die waarheid en luister na die openbaring van God en ooreenkomstig die belofte en gebooie van God die volkslewe regeer. Daarom behoort die staat in die lig van God se Woord te wandel en die chaos v.d. sonde te orden, so, dat die gehele lewe van die heil en van die reg van God deurtrokke word. Dan pas word die staat sigself. Hy ontwaak uit die bose droom dat hy God self op aarde is en hy word tot dienaar, liturg van God, wat die liturgie, die lof van God uit die ganse eksistensie, laat opklim ... daarom vra die kerk ʼn Christelike staat. En dit vra die kerk in die tweede plek ter wille van die volk. Omdat die volk pas dan tot die egte lewensvreugde kan kom.”

Maar die manier waarop dit omgekeer word, broeder en suster, is nie om bloot te vra en te veg en te murmureer oor die gebrek aan uitwendige weerkaatsing daarvan op ons openbare kalender nie. Dit begin by die Kerk van Jesus Christus wat weer leer om die betekenis van Hemelvaart te waardeer.

Hemelvaart en die Kerk

Die verwaarlosing van dit waarvoor Hemelvaart staan, verklaar nie net ’n klomp gebeure in ons samelewing nie; dit verklaar ook waarom ons as Christene en as liggaam van Christus – die Kerk -  so maklik armsalig is. Die viering van Hemelvaart bied soveel rykdom waaruit ons kan put en te maklik benut ons dit nie en leef ons nie uit die heerlike werklikhede waarvan Hemelvaart getuig nie. Om maar enkele sake te noem: Hemelvaart bevestig dat daar wel Iemand is wat daar gegaan het waar, om Star Trek se bekende frase so ’n bietjie op sy kop te keer, niemand nog ooit voorheen gegaan het nie. Dit is so belangrik in die Bybel, dat ons reeds in die Ou Testament hiervan verneem. Dink byvoorbeeld aan Daniel 7:13-14 wat ons vandag weer gehoor het oor die Seun van die mens wat in die hemel aankom en dat Hy heerskappy en eer en koningskap ontvang. Alle mag word met ander woorde aan Hom gegee, iets wat ook in die Here Jesus se woorde weerklink in sy Groot Opdrag net voordat Hy opgevaar het na die hemel (vgl. Mt. 28:18-20). Ons het verder in die Skriflesing gehoor dat Petrus op Pinksterdag die uitstorting van die Heilige Gees direk aflei uit die feit dat Christus terug was by die Vader (Hd. 2:33). Hy haal dan net daarna Ps. 110 as motivering aan, die Ou Testamentiese gedeelte wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. Een teoloog het hom daarom verstout om uitlokkend te sê: Ps. 110 is God se mees geliefde teks in die Bybel. Dit lyk of die skrywer van die Hebreër brief saamstem as ons let op die sentrale rol wat Ps. 110 in die brief vervul. Is Ps. 110 een van ons mees geliefde tekste? Dit behoort te wees, want daar hoor ons van God se liefde vir ons wat met eedswering gepaard gaan. Daarom mag ons, so sê die Hebreërskrywer, ’n anker van die siel hê (Hebr. 6:19). Het u al so daaraan gedink? Hemelvaart waarborg aan u en my ’n anker van die siel omdat ons mag weet dat Jesus Christus ook op hierdie oomblik in die Allerheiligste vir ons intree en ons daarom ook bekragtig mag word met die Heilige Gees.

Christus aan die regterhand van die Vader is verder die bevestiging dat ons lewe in die hemele mag eindig en dat ons mensheid oneindige waarde het. Dit is gewoon verkeerd om die algemene gesegde na te praat dat ons net een keer leef. Nee, ons sterf net een keer hierdie kant van die graf. Om die waarheid te sê, Hemelvaart bevestig dat ons nou reeds ons posisie in die hemele het deur Christus as ons Hoof (vgl. Ef. 1). Die Hemelvaart bevestig verder dat ons kragtig in die Naam van Christus kan bid en mag beleef dat ons alles ontvang wat volgens sy wil is. Ja, dit bevestig ook dat ons deur Hom telkens die Troonkamer mag nader en met gesigte wat blink, soos Moses s’n, van ons knieë kan opstaan om die heerlikheid en die stukkie hemel wat ons ontvang het, in hierdie wêreld in te dra. Verder bevestig die Hemelvaart dat ons hiervoor bekragtig word, want Hemelvaart staan in die nouste verband met Pinkster. Die uitstorting van die Heilige Gees het juis plaasgevind omdat Christus deur die Hemelvaart sy plek weer ingeneem het by die Vader (vgl. Hand. 2:33). Christene is dus werklik bekragtig om met durf en planne te lewe. Soos die bekende ds. Veldkamp dit gestel het, ons is nou in hierdie wêreld besig, nie met wêreldmyding nie, maar met wêreldwyding. Ons het alle rede om te sê dat die lewe sin maak en dat ons uit genade en in sy krag medewerkers is van daardie wonderlike bede: “...laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.” Hemelvaart het dus alles te make met die vraag waarom die wind van God se Gees kragtig in hierdie wêreld waai. Om ’n beeld te gebruik: Windpompe wat in die wind staan, pomp water – lewegewende water. Ook in wintertye pomp windpompe water daar waar die wind waai. Wanneer dit dus op soveel plekke geestelik dor en droog is, kan ons ook deur middel van die Godgegewe wind van die Heilige Gees vars water voortbring. Geen staat kan dit keer nie, want die Troon is reeds bestyg deur die Prins van die heelal. Die ware Wind van verandering sal nooit weer ophou waai nie en die Hemelvaart van Christus getuig kragtig daarvan.

En daarom kan ons nie vrede hê met ’n denkwyse waarvolgens die staat eintlik die Messias is nie en wat maklik op direkte of indirekte wyse ’n posisie inneem wat afkyk op die geloof van die Christendom as sogenaamd net nog ’n manier waarop mense godsdienstig is. Dit kan net gebeur as jy nie raaksien wie werklik op die troon van die heelal is nie. Hierdie Hemelvaart van die staat is egter nie die enigste manier waarop Hemelvaart ontken word nie. Dikwels loop die Hemelvaart van die staat hand aan hand met mense se eie-ek en mense wat wil vry wees tot by die punt wat ons hoor van die vryswewende individu. Saam met hierdie valse vryheid moet daar dan ’n staat wees wat hierdie eie-ekkigheid borg. Natuurlik kom dit eintlik net neer op slawe wat met sekere plesiertjies beloon word, maar dit word nie altyd so hard gesê nie. Die feit is, broeder en suster, dat enigiemand uit die hoogte en neerbuigend kan begin optree en maak of jy en jou idees koning is. Die oomblik wat dit gebeur, raak dit ongemaklik om die troonsbestygingsfees wat reeds plaasgevind het, in herinnering te hou. Met die woorde, jy en jou idees, kom ons egter by meer toepassings as net die staat. Ons kom by onsself en wat die Hemelvaart vir ons beteken.

Hemelvaart en die appél op ons

Die groot kollektiewe aanspraakmaker op die troon ken ons, maar laat ons onsself en die hordes enkelinge nie vergeet nie. Elke kind van Adam het die vermoë om met dieselfde troon-truuk as die staat vorendag te kom. Die basiese rede hiervoor kan met een woord opgesom word: hoogmoed. Trotse oë het die manier om te wil afkyk op ander, selfs op die Hemelvaart van Christus. Hoë oë loop hulself daarom een of ander tyd tromp-op vas teen Hom wat reeds op die troon is. So ’n stryd is meer as verlore. Dit moet ons noodwendig neervel. Die Britse joernalis en voortreflike verdediger van die Christelike geloof, G. K. Chesterton, het treffende woorde hieroor uitgespreek. Hy het daarop gewys dat die satan geval het weens die swaartekrag van hoogmoed. In ’n ander konteks het Hy woordspelend daarop gewys dat die engele kan vlieg, juis omdat hulle hulself ligtelik opneem. Hoe waar is dit nie! Te veel van ons dra heeltemal te swaar aan ons eie-ek. Of nee, kom ons noem dit by die naam. Ons dra te swaar aan ons verskuilde en minder verskuilde hoogmoed.

Ons gebruik die hoogmoed-woord nie graag nie; altans, nie wanneer ons van onsself praat nie. Ek sal nog heel fatsoenlik sê dat ek moet werk aan die eie-ek in my lewe, of dat die Afrikaner hardkoppig is, maar ek sal dit nie sommer erken dat ek of my volk moet werk aan hoogmoed nie. Die uitkoms hiervan is dat die las in ons lewens nie juis ligter word nie. Die resultaat is dat ons heeltemal te min vlieënde Puriteine en heeltemal te veel beswaarde puriste in ons kringe het. Dit is nogal opvallend dat wanneer die Here Jesus diegene wat vermoeid en belas is, uitnooi om na Hom toe te kom, Hy op iets treffends wys; dat sy ligte las en rus vir die siel saamhang met iets van Hom wat ons nie altyd raaklees nie – nederigheid van hart (Mt. 11:28-29: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele…”).

Die boodskap van die Bybel is op hierdie punt so duidelik: Hy, die nederigste van almal, het die hoogste troon bereik. Die weg na God se heerlikheid loop eenvoudig nie langs die pad van hoogmoed nie. Nederigheid is egter nie iets wat ons deur inspanning bereik nie. Dit sou die skreeuende teenstelling van roem oor nederigheid tot gevolg hê. Nederigheid gebeur eerder wanneer ons in God se krag ons roem en hoogmoed laat vaar. Om nederig te wees, beteken dat ons juis erken dat ons dit nie in onsself het nie en dat ons Christus nodig in wie se nederigheid ons verhoog word om saam met Hom ons posisie in die hemele in te neem.

Hoogmoed, aan die ander kant, streef basies daarna om hoog te wees sonder Christus – streef na ’n hemelvaart sonder Christus. Die hoogheilige weergawe hiervan is wanneer jy Christus erken, maar Hom dan in jou diens probeer stel sodat jy of jou planne of idees hooggeplaas kan wees. Die ideoloog, in die negatiewe sin van die woord, is iemand wat ’n bepaalde idee buite die maat verhoog het, dit verabsoluteer en naas of in die plek van Christus gestel het. Alles in die lewe word dan in die lig van hierdie idee beoordeel. Ideoloë wil, bewus en onbewus, die Koning van die Kosmos inspan om ’n bepaalde idee te verwerklik. Om egter so te werk te gaan, is om werklikheidsvreemd, misleidend en/of selfmisleidend en saai te raak. Die Koning van die konings laat Hom eenvoudig nie indruk in die kassie wat ons pas nie. Die Hemelvaart van Christus konfronteer daarom nie net die onheilige aspirasies van die staat nie. Dit kon fronteer ons elkeen - elke mens, maar in die besonder elke maghebber en filosoof en ideoloog: Kom uit in God se werklikheid. Die kern daarvan is Christus wat langs die weg van nederigheid reeds die plek ingeneem het aan die regterhand van die Vader. Werp al jou idees en planne voor sy voete neer. Soos iemand dit by geleentheid gestel het: Kom uit jou benoude en vervelige klein wêreld van die ego-drama, sodat jy jou kan verlustig in die fassinerende wêreld van die Teodrama. Teodrama beteken Godsdrama, daar waar die lewende God die Regisseur en die Draaiboekskrywer is. In hierdie werklikheidsdrama is avontuur en oorvloedige genade en daar gebeur dinge met jou. Jou werklikheid word verruim sodat jy God en sy wêreld en die lewe en mense, alle soorte, kan liefkry soos wat Hy liefhet. Daarom konfronteer Hemelvaart ons opnuut: Klim af van jou troon, van jou eie idees en laat God se verbond in Christus jou begelei in die groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie (vgl. Ps. 25:14: “Die verborgenheid van die Here is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Jer. 33:3: “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”)

Ons mense praat baie van verootmoediging, maar ongelukkig klink dit dikwels of die verootmoediging as ’n tipe hefboom bedoel word. Dalk moet ons eerder begin praat van nederigheid. Hoogmoed kom voor die val, ook van ’n volk. Oppervlakkige verootmoedigingsretoriek gaan dit nie verander nie. Ons sal baie meer moeite moet maak om te vra op watter maniere hoogmoed selfs vassit aan ons regruk-aksies. Vir ’n begin kan ons vra waarom die verootmoediging in elke gesonde erediens dan so lig geskat word. ’n Volk wat hulself waarlik voor die Koning verneder, kan reken op die belofte om verhoog te word op die regte tyd (vgl. 1 Petr. 5:6: Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.).

Ten slotte

Broeder en suster, die geloofwaardigheid, voortbestaan en vrugbaarheid van elke Kerk van Jesus Christus word drasties verbeter wanneer ons ook die hoogtepunt van Hemelvaart, met al sy konsekwensies uitleef en onverskrokke aan mense deurgee. Christus is reeds op die troon en die nuwe orde is reeds ingelei. En God het dit so bepaal dat diegene wat voor Hom buig, die Seun kus en Hom aanroep, in Hom verhoog word om Koningskinders te wees en nou reeds in gemeenskap met God te tree. So word elke orde wat opgestel word teen die orde wat Christus ingebring het, effektief teengestaan. So leef ons oorwinnend totdat alles aan die Here en sy Gesalfde onderwerp is en ons die groot feesmaal voor sy aangesig in sy volheid mag vier. Amen.