Lees:
Openb. 21:1-7
Gedagte vir kinders: Die beste lê nog voor vir hulle wat
aan Jesus Christus behoort.
Oorsig: In hoofstuk 20 het Johannes die wederkoms van Jesus Christus beskryf. Hier begin hy die nuwe Jerusalem beskryf. Johannes beskryf dit op so ’n manier dat ons moet besef dat Johannes aansluit by beskrywings van die ou verbond in Israel en van Jesaja wat Israel en Jerusalem se vernuwing reeds beskrywe het in terme van die huwelik. Dit het in vervulling begin gaan met die koms van die Messias (vgl. Jes. 62-63; 65:17). Die ou Jerusalem en die tempel en die offers se bedoeling is daarom reeds vervul in Christus. In Hom en in sy liggaam, die Kerk, is die nuwe Jerusalem reeds besig om te kom. Eendag sal die daar ’n nuwe hemel en nuwe aarde wees waarin die nuwe Jerusalem finaal ’n werklikheid vol van glorie sal wees, soos ’n bruid wat vir haar bruidegom versier is (v.1-2). Maar intussen moet ons onthou dat die nuwe Jerusalem nou reeds ’n werklikheid is wat eendag in volle glorie waar sal wees op die nuwe hemel en die nuwe aarde.
Nadat Johannes
die gesig gesien het van die nuwe hemel, nuwe aarde en die nuwe Jerusalem, het
hy ’n groot stem uit die hemel gehoor. Die stem het deur middel van bekende
beelde uit die Ou Testament gepraat en gesê dat die tabernakel, die woonplek van
God, nou by die mense is en dat Hy by hulle sal woon (vgl. Op. 21:22). Hy het
ook die bekende taal oor die verbond van die Ou Testament gebruik en gesê dat
die mense sy volk sal wees en dat God self by hulle sal wees as hulle God (v.3; die 83-vertaling vertaal dit insiggewend genoeg in die meervoud as "volke".). Hy het verder gesê dat God al die trane van gelowiges se oë sal
afvee en dat daar geen dood, droefheid, geween of moeite sal wees nie. Die rede
is dat die eerste dinge verby gegaan het (v.4). Ons hoor dan verder dat Hy wat
op die troon sit, gesê het: “Kyk Ek maak alles nuut.” Hy het ook aan Johannes
beveel om dit op te skryf, omdat hierdie woorde waaragtig en betroubaar is
(v.5).
Toe het Hy vir Johannes gesê: Dit is verby! Hy het ook bevestig dat Hy die Alfa en die Omega is, die begin en die einde en dat Hy aan die een wat dors het, uit die fontein van die water van die lewe verniet sal gee (v.6. Vgl. Jes. 55:1). Hy het verder ook bevestig, soos aan die begin van die boek Openbaring, dat elkeen wat oorwin, alles sal beërwe. En toe het Hy weer die verbondstaal van die Ou Testament gebruik: “Ek sal vir hom ’n God wees en hy sal vir my ’n seun wees.” (vgl. Lev. 26:12; Jer. 24:7; 31:33).
Besprekingsvraag: Hoe kan slegte én goeie ervarings ons heenwys na die
nuwe Jerusalem ?
Insig: Die taal oor God wat gelowiges seuns
noem, kan teruggelei word na Ex. 4:22 en veral Jer. 31:31-33 waar die heerlike
beloftes oor die nuwe verbond gegee word. By die laaste Avondmaal gebruik die
Here Jesus spesifiek hierdie woorde van die nuwe verbond (of testament) wat in sy bloed ingestel
word. Daardeur het Hy bevestig dat die nuwe verbond in sy bloed 'n werklikheid sou word deur sy kruis en opstanding. Wanneer ons daarom hoor van
Jerusalem wat neerdaal soos ’n bruid, moet ons nie net die verheerlikte Kerk
van eenmaal sien nie, maar ook die Kerk as bruid van Christus nou reeds. In en
deur die bediening van die Kerk in Christus, deel ons nou reeds op besondere wyse in die
nuwe verbond en in die hemelse realiteite. Ons drink by die stroom
van die genietinge van die Woord en sakramente wat deur die ampte aan ons bedien
word. Wanneer ons daarom hoor dat God alles nuut maak (v.5), moet ons dit ook
in verband bring met geddeeltes soos Jes. 43:19 wat bevestig dat God lankal al besig is om ’n nuwe ding te doen.
En daarom ons mag vir tyd en ewigheid opgewonde wees oor dit wat God doen en
sal doen.
God is besig om sy teenwoordigheid ’n al hoe heerliker werklikheid vir sy kinders te maak. Johannes gebruik beelde van die
tabernakel en die huwelik om ons op sy teenwoordigheid en innige gemeenskap in
die verbond te wys. Die uitdrukking, kinders van God, is tipiese verbondstaal. Anders
gestel: God se verbond beteken dat Hy van gelowiges familie maak. Dit word
kragtig uitgebeeld deur die beeld van trane afvee. Ons laat net toe dat intieme
familie of potensiële familie so iets doen. Dit is wie die Vader vir ons is en sal wees, in gemeenskap met soveel ander. Dit beteken daarom ook dat ek die Vader se
ander seuns en dogters, my broers en susters, moet raaksien, herken en erken. Daarom
praat ons nie net van die Kerk as pilaar en grondslag van die waarheid nie,
maar ook as die huis van God (vgl. 1 Tim. 3:15).
Hierin kyk ons nie net na nou nie, maar bind die hede aan die heerlike toekomsverwagting waarop dit alles uitloop. Daar kom ’n einde aan alle smart. Alles sal in Christus volmaak herstel word. Die beste lê in Christus nog voor! Die see van vers 1 is simbool van die ou skepping (Op. 5:13; 14:7), die Bose (Op.13:1), die rebelse nasies (Jes. 57:20), die plek van die dooies (Op. 20:13), die gebied van die wêreld se afgodiese markte (Op. 18:11-19) wat verbygaan. In hierdie sin moet ons die see in die eerste plek daarom as beeldspraak en simbool van die Bose verstaan. Wanneer ons verder hoor dat daar geen trane, dood, droefheid, geween of moeite sal wees nie, bring dit ons sterk onder die indruk van die Bose en die slegte wat verbygaan, asook die ewige geluksaligheid van gelowiges. Die skrywer, C.S. Lewis, beskryf dit treffend as ’n toestand en plek waar waar elke hoofstuk beter is as die vorige een. Daarom moet ons mekaar ook altyd daaraan herinner dat daar selfs ons slegste en afskuwelikste ervarings op aarde ’n einde kom, en dat ons beste ervarings maar floue afskynsels is van die heerlikheid wat op pad is.
Geraadpleegde werke:
John
Bergsma. The Word of the Lord. Year C.
Michael
Barber. Coming Soon. Unlocking the Book of Revelation.
Douglas Wilson. When the Man Comes Around: A Commentary on the Book of Revelation (Wilson herhaal in hierdie gedeelte vier modelle van interpretasie van Openbaring wat telkens goed is om in gedagte te hou: futuristies, idealisties-kosmiese gelykenis,, historiese ontvouing, en profeties-preterististies. Hy wys daarop dat dit hier toenemend moeilik word om skoon hokkies en vakkies hieroor te behou.).