2022/05/31

Wanneer God ons planne ondersoek

Lees: Gen. 11:1-9

Gedagte vir kinders: Al die nasies kan deur Jesus Christus saam gehoorsaam aan God wees. 

Oorsig: Genesis 11 vertel die laaste gebeure van die sogenaamde oergeskiedenis. Dit gebeur ná die sondvloed van Noag. Die afstammelinge van Noag se seuns word oorvertel en dan word hierdie geskiedenis van Babel spesifiek geplaas tussen die weergee van twee geslagslyne van die nageslag van Sem. Voor Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Joktan (10:25-26) en ná Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Peleg (11:17-19).  

Ons hoor dat die hele aarde nog dieselfde taal en woorde gehad het (v.1). Soos Adam en Eva en later Kain, trek hulle ook weg na die ooste en vind ’n besondere gebied in die land Sinear (v.2), daar waar Nimrod sy ryk van Babel gehad het (Gen. 10:9-10) en wat later bekend gestaan het as Mesopotamië. Hulle het daar goeie middele vir bakstene en ’n tipe sement (lymgrond vir klei) gevind (v.3). Hulle het verder met mekaar gepraat en mekaar aangemoedig om ’n stad met ’n toring te bou wat tot ver in die hemel sou opgaan. Hulle het gedink om so vir hulleself ’n naam te maak. Die doel hiervan was om in teenstelling met God se bevel (vgl. Gen. 1:28), nie oor die hele aarde verstrooid te raak nie (v.4).  

Hulle het wel gedink dat hul toring tot aan die hemel sou reik, maar ons lees dat die HERE steeds moes neerdaal om die stad en die toring te beskou waaraan die mensekinders gebou het (v.5). Die HERE het gesê dat hulle nou een volk en een taal is, en dat dit net die begin van hulle hulle slegte planne was. As hulle so sou aangaan, sou niks van hulle slegte planne meer onmoontlik wees nie (v.6). Hy het toe in teenstelling met hulle, ook gesê: “Kom, laat ons...”. Daardeur verstaan ons dat Hy met die ander Persone van die heilige Drie-eenheid en moontlik met sy engele gepraat het om hulle planne te laat misluk. God het toe hulle taal daar verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie (v.7). Die gevolg was dat hulle uit mekaar begin gaan het en dat die mense oor die hele aarde versprei geraak het. Dit het ook beteken dat hulle opgehou het om die stad te bou (v.8). Die mense het die plek toe Babel genoem, wat “verwar” in Hebreeus beteken, omdat die HERE daar die taal van die hele aarde verwar het. Later het sommige gesê dit beteken volgens Akkadies eerder “Poort van God”. Dit is wat die mense daarvan gedink het. Ons moet eerder na die Bybel luister en die verwarring in die naam Babel hoor. Want waar God nie is nie, ontstaan verwarring altyd een of ander tyd.    

Besprekingsvraag: Is eenheid altyd ’n goeie ding?

Insig: Babel is tot in Openbaring ’n simbool van afvalligheid en magsoeke en naamsoeke los van God. Sommige sien ooreenkoms hier tussen die toring en die geweldige bergtempels van die ou tyd asook die Babiloniese Ziggoerat wat ’n tempeltoring was. Dit is ’n embleem van ’n Empaaier van hoogmoed, selftevredenheid en selfgenoegsaamheid. Hoe ook al, dit is steeds ’n simbool van elke groot menslike projek sowel as ons eie persoonlike ambisieuse projekte wat nie met God rekening hou nie.

Dit gaan oor elke projek op persoonlike of kollektiewe vlak waar ons soos die mense destyds naam vir onsself probeer maak op outonome wyse. Staatisme, individualisme en iets soos die Verenigde Nasies moet daarom altyd fyn dopgehou word. Die ironie is dat sulke hoogmoed ook saamhang met ’n bepaalde vrees - dat hulle verstrooid en onbeskermd oor die aarde sal raak. Hierdie vrees is in skrille kontras met die kultuuropdrag waarin God die vervulling van die aarde beveel het (vgl. Gen. 1:28, 10:18,32). Hulle kon daarop vertrou dat God sou beskerm en seën wanneer hulle getrou was aan sy opdrag. Deur geloof in en gehoorsaamheid aan Hom hoef ons nie te vrees nie. Maar hoogmoed bring sy eie vrese en hier kom juis dit oor hulle waarvoor hulle gevrees het. God oordeel en verwar hulle spraak en verstrooi hulle. Ons moet egter ook raaksien dat dit om meer as oordeel hier gaan, want God voer ook sy plan teen wil en dank deur en keer so die totale verrotting wat sou plaasvind. Daar is dus ook genade te midde van die oordeel. Nie alle vorme van eenheid is eg en reg nie. Daar is ’n vorm van afvallige eenheid wat gerig is op eie gekonsentreerde krag en selfbehoud los van God. Dit hang ook saam met bepaalde beskouings oor sondelose mense, kennis en wetenskap. Eenheid soos by Babel en waar konings saamspan teen die Here en sy Gesalfde, is afvallige eenheid (vgl. Ps. 2). In sulke gevalle het Christus gekom om verdeeldheid te bring (vgl. Luk. 12:51 e.v.)  

Wat behoort dan eintlik te gebeur? Ons moet hoor op watter weg God self aan ons ’n naam gee. Daarop word reeds gesinspeel deur die geskiedenis van die toring van Babel tussen die oorvertelling van die nageslag van Sem te plaas, die een wat in Noag se profesie reeds geseën is (Gen. 9:26-27). Die naam Sem beteken naam. Aan hom is die beloftes van God gegee en in sy nageslag deur Abraham hoor ons hoe God aan Abraham ’n naam gee (vgl. Gen. 12:2). In Abraham kon al die geslagte van die aarde geseën word, want so is die Een gebore deur wie se Naam ons waarlik geseënd kan wees (vgl. Gal 3:14). Seën kom nie deur ons projekte en prestasies wat na die hemel reik nie, maar deur die Hemel wat na ons afkom in Christus, nie om soos by Babel te oordeel nie, maar om ons oordeel te dra sodat die seën in Hom na ons kan kom. In Hom kan ware eenheid ook weer moontlik word. Teenoor sondige eenheid en sondige verskeurdheid is daar ’n eenheid en verskeidenheid wat beide in Christus gegrond is. Dan is dit moontlik om ’n geestelike eenheid te hê waarin al die nasies een is in hul dissipelskap en tog ook gelyktydig gewillig is om in hul verskeidenheid die hele aarde te vervul omdat daar op die lewende God vertrou word. So word sy heerlikheid oral op veelkleurige wyse sigbaar. Daarom is dit nie sondig, verskeurd of ongehoorsaam, in teenstelling met die dwaling van die Gnostisisme,  dat daar verskillende families, tale, lande, en nasies is nie. Wat wel moet gebeur, is dat al hierdie verbande onder die gesag van die Koning is en die eenheid saam gevind sal word in verbondenheid aan die lewende God. (vgl. Jes. 2:3).

Op Pinksterdag het dit op besonder wyse waar geword, omdat Christus die offer vir ons sonde gebring het en terug was by die Vader. Die Heilige Gees is toe uitgestort en so kon Babel se oordeel in Christus en die Gees omgekeer word (vgl. Hd. 2:33). Maar die verskillende tale verdwyn nie nou skielik nie en dit word ook nie as sleg aangebied nie. Elkeen wat luister, kan nou in sy eie taal hoor van die groot dade van God in Christus (Hd. 2:8-11). En omdat die Gees van God werksaam is, kan elkeen ook waarlik hoor en tot inkeer kom. In Christus en deur die Gees word dit nou moontlik dat daar ware eenheid gevind kan word in die Drie-enige God wanneer die nasies sy dissipels word (Mt. 28:18-20). Die volle simfonie van soveel volke en kulture oor die hele aarde heen mag saamsing in Christus. Daartoe roep die Psalms dikwels op. Al die stemme klink nie dieselfde nie, maar al die verskillende stemme harmonieer wel om ’n magtige koor van lofprysing tot eer van God te wees.  

Geraadpleegde werke:

John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.

Brueggemann, W. Genesis: Interpretation, A Bible Commentary for Teaching and Preaching. (Brueggemann se nadenke oor valse eenheid en Babel wat beide vloek en seën is, kom merkwaardig ooreen met die van Kuyperiane van ’n vorige geslag in Suid-Afrika. Soveel te meer merkwaardig omdat hy Segundo aantoon as sy bron van denke hieroor.)

Rushdoony, RJ. Genesis: Commentary on the Pentateuch.

Kidner, D. Kidner Classic Commentaries.

Sailhammer, JH. Genesis: The Expositor’s Bible Commentary. Revised Edition.