Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.
Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.
Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.