2021/11/05

Halleluja wat jou oopmaak

Lees: Psalm 146            

Gedagte vir kinders: Loof die Here uit die dieptes van jou hart, ook as jy nie reg voel nie.

Oorsig: Psalm 146 begin en eindig met die woord “Halleluja”. Om die waarheid te sê, vanaf Psalm 146 tot en met die einde van Psalm 150, begin en eindig elkeen van die laaste vyf Psalms met die woord “Halleluja”. Dit beteken letterlik: “Loof die HERE!” Dit gaan daaroor dat die Here met heilige jubeling besing word vanuit die diepste van jou wese.

In die Psalms het ons met mense te make wat eerlik is oor hul emosies. Ons hoor dikwels van teëspoed, worstelinge, aanvegtinge, sondebesef, hartseer, terneergedruktheid, en klaagliedere. Maar feitlik altyd werk die Psalms deur na hoop en lofprysing aan die einde. En waar dit nie so eindig nie (byvoorbeeld Ps. 88), bevat net die volgende Psalm die wonderlikste elemente van hoop en lof. Gelowiges is dus nie gevrywaar van beproewinge nie, maar daar word altyd deurgewerk na die punt van geloof, hoop en danksegging. Die Psalms as geheel eindig in die groter prentjie ook so met die laaste vyf Psalms wat reën met Hallelujas. Dit bied ook 'n prentjie op die einde van elke gelowige. Dit wys ons ook hoe gebede eindig wanneer gebed lank genoeg aanhou.

Die Psalmis begin om eerste homself op te roep om die Here te loof (v.1) Hy brei dan hierop uit. Hy wil dit doen solank hy lewe (v.2). Hierna gaan die Psalmis voort om ander ook op te roep, en hy doen dit deur spesifiek te fokus op vertroue. Ons is so gemaak om verwonderd en liries te wees oor dit waarin ons vertroue eintlik lê. Die Psalmis leer ons eers op wie ons nie ons vertroue moet stel nie (prinse en mensekinders) en ook waarom nie (v.3 en 4). Daarna wys hy op wie ons wel ons vertroue moet stel - die God van Jakob (v.5). Hy toon dan in besonderhede aan waarom juis op Hom (v.6-10). Daar word eerste gewys op God se skepping en dan op sy voorsienigheid (v.6-7). Daarna is die fokus op wat Hy aan mense in moeilike omstandighede doen. Selfs blindes kan sien. Dit kan in sy volheid natuurlik net kan waar wees van die ryk van die Messias (vgl. v.8-9). Die Psalmis wys dan daarop dat hierdie God se koninkryk tot in ewigheid sal wees  - van geslag tot geslag (v.10). Dit beteken dat hierdie God nooit verleë is oor die ervarings of ontwikkelings wat in die geskiedenis plaasvind nie. Dit beteken ook dat net hierdie God die punt van geloof en hoop is vir elke nuwe geslag. Heel gepas eindig die Psalm dan ook met die woord waarmee dit begin het: Halleluja!

Besprekingsvraag: Lees op die internet na oor Leonard Cohen se lied “Halleluja” en gesels dan oor die ooreenkoms en verskil met hoe die Psalms die woord “Halleluja” gebruik.

Insig: Halleluja teenoor wanhoop: Die woord Halleluja is baie kosbaar. Juis daarom skreeu dit so wanneer dit ontspoor. Dit spreek enersyds van ons diepste geestesgesondheid. Dit wys dat ons duidelik bewus is waar die grootste lof op aarde hoort en dat ons ook daaraan deelneem. Andersyds dui dit ook die weg aan na geestesgesondheid: Werk daaraan om die Here te loof, ook wanneer jy nie so voel nie. Dit kan jou begin oopmaak vir nuwe dinge. By alle kritiek op die sekulêre ondertone in Leonard Cohen se lied, Halleluja, is daar ’n waarheidsoomblik - dat wanhoop (en nihilisme en skeptisisme of selfs net dat niks vir jou sin maak nie) nooit die laaste sê het nie. God kan selfs in die diepste dieptes geloof word. Maar ons moet die woord Halleluja nie saam met Cohen bloot horisontaal aanwend (sekulariseer) nie. Ons moet eerder die woord saam met die Bybel en die Psalms in God self grond (sakraliseer die werklikheid) – Hom in wie dit alleen sin maak.    

Halleluja teenoor glansfigure: Dit is opvallend dat die Psalmis die “Halleluja” opstel teenoor die vertroue op prinse en mensekinders. Dit gaan hier oor die mense van naam wat in die skynbaar indrukwekkende magstrukture van die wêreld top-posisies beklee. Hulle vergestalt dikwels vir mense die mag en dinamika van die lewe en die hoop op die toekoms. Die Psalmis wys op die voor die hand liggende. Hulle asem is in hulle neus (Jes. 2:22). Daarom kan ons nie ons heil by hulle wil vind nie, “want as God hul gees ontbind, keer hul na die aarde weer, en hul raadslag stort terneer.”

Halleluja teenoor (in) God: Hoe roep die Psalmis die regte soort Halleluja in ons na vore? Hy wys ons op die God van Jakob, uit die wie die Messias gebore sou word en daarom ook die God van die Kerk. Hy is nie sommer enige god nie. Hy is die Verbondsgod wat trou bly tot in ewigheid (v.6) Hierdie God het bepaalde eienskappe: Hy is die almagtige - die Skepper wat alles gemaak het. Hy onderhou alles ook steeds in sy voorsienigheid en trou. Daarom kan mense wat onreg beleef, hoop hê. Sien raak watter tipe persone Hom as hulp beleef - verdruktes en hongeriges en gevangenes, blindes en die wat neergebuig is, vreemdelinge, wees en weduwees. Marxiste wys na sulke gedeeltes om hul saak te regverdig. Let egter op: Die woorde word gekombineer met “regverdiges” teenoor “goddelose” (v.8,9). Magstrukture wat skynbare onreg wil omverwerp deur nuwe onreg, kan nie hierop aanspraak maak nie. Ons word wel uitgedaag om duidelik te sien met wie God medelye het en in pas met Hom op te tree (vgl. Mt. 25:31-46). Dit is baie duidelik dat die God van die Kerk die God van gebrokenes is. Daarom is daar ook hoop vir ons. En blindes wie se oë geopen word (v.8), kan net van die Messias-ryk en daarom Jesus Christus waar wees. Daarom was sy wonders wat ook blindes ingesluit het, so veelseggend. Daarmee het Hy bevestig dat Hy die lank verwagte Messias is. Die Kerk van Christus behoort daarom gekenmerk te word deur heenwysings na die Messias-ryk en optrede teenoor gebrokenes wat daarmee strook. Eenmaal sal dit sy volheid bereik. Intussen kan gelowiges en hul kinders – van geslag tot geslag - reeds begin met Halleluja omdat ons weet dat die God van die Kerk (Sion) die Koning is. Hy sal alles, ook ons, in Christus en sy Gees, volmaak herstel.

Geraadpleegde werke:

John Gill

Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary

Matthew Henry

Spurgeon, Treasury of David

Walter Brueggemann, Psalms 

Tim en Cathy Keller, The Songs of Jesus