Lees: Jer. 33
Gedagte vir kinders: Wanneer die
Here sonde vergewe, is daar groot vreugde in ons harte
Oorsig: Die profeet Jeremia was opgesluit
in die voorhof van bewaking van die koning. Dit was in die tyd toe Babel besig
was om Juda te verwoes en in te neem. Daar in die voorhof het die Here alreeds aan
Jeremia geopenbaar dat hoewel Juda as gevolg van hulle sonde swaar gestraf sou
word, hulle uiteindelik sou terugkeer en wonderlike seën van die Here sou belewe.
En toe kom die Woord van die Here vir ’n tweede keer tot Jeremia daar in die
voorhof.
Hierin bevestig
die Here eerste wie dit is wat spreek en dan bevestig Hy dat Hy, die Een wat
kan, aangeroep moet word wat groot en ondeurgrondelike dinge bekend maak
(v.2-3). Hy bevestig eerstens dat dit Hy
is wat die verwoesting en onheil oor Jerusalem gebring het (v.4-5). Dan herhaal
Hy sekere gedagtes oor die wonderlike herstel wat ook in die vorige hoofstuk
genoem is. Daar sal genesing kom en die lot van Juda en Israel sal verander
(v.6-7). Die rede is dat die Here hulle sal reinig en vergewe en so sal daar
weer vreugde in Jerusalem wees en die nasies sal met emosie daarvan kennis neem
(v.8-9). Hierna weerklink twee maal die woorde: So Spreek die Here. Telkens
word daar gewys op hoe die volk “sonder” mense en inwoners is, maar dan word
twee beelde gebruik om te wys op wat God sal gee – die beeld van bruidegom en
bruid en van herder, kudde en vredevolle landskap (v.10-13).
Die volgende beeld wat gebruik word is baie kragtig. Daar word gewys op die beloftes oor die koningshuis van Dawid. Daar sal Iemand kom wat reg en geregtigheid doen in die land en wat die rede sal wees vir die genesing en herstel van Juda en Israel. Jerusalem sal genoem word met ’n baie spesifieke Naam wat vroeër aan die Een wat kom, gegee is (Jer. 23:5-6): DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Dit beteken dat die verlostes deel sal kry aan die geregtigheid van die Here wat in die Messias gesetel en uit die Here self afkomstig is (v.14-16).
Hierna bevestig die Here dat hy die koningskap (van die huis van Dawid) en die priesterskap (van die Leviete) vir altyd sal herstel (v.17-18). Om te bevestig hoe kragtig hierdie beloftes van die Here af is, vergelyk hy dit met die konstantheid van sy verbond met die dag en met die nag. So seker as mense dit nie kan verander nie, so seker sal mense sy beloftes oor die koningshuis en die priesters nie kan verander nie (v.19-21). Hierdie belofte word verder verbind aan die beloftes aan Abraham oor getalle sand en sterre. So sal sy beloftes oor die koningshuis, Leviete en die kinders van Jakob sekerlik in vervulling gaan wanneer Hy hulle lot verander (v.22-26).
Besprekingsvraag: Waaroor gaan die groot en
ondeurgrondelike waarvan vers 3 praat?
Insig: Ouer kommentare het tereg hierdie
gedeelte se beloftes wat uitgedruk word in Ou Testamentiese taal, verstaan as God
se beloftes van seën wat in vervulling gaan in die nuwe verbond. Hierin moet
ons drie vlakke van toepassing onderskei. Die beloftes het in vervulling begin
gaan toe Israel teruggekeer het uit die ballingskap (eerste vlak). Die volheid is
egter nie hiermee bereik nie. Daarvoor was dit nodig dat die Messias eers die
nuwe verbond moes inbring deur sy dood en opstanding en hemelvaart. So kon die
ryk beloftes verder in vervulling begin gaan (tweede vlak). Jesus is die Seun
van Dawid aan wie se koningskap daar geen einde sal wees nie (Lk. 1:32-33). Hy is
ook die vervulling van die Leviete se offers toe Hy Homself geoffer het en so
ons ewige Priester geword het (Hebr. 8-10). Daar is ook ’n derde vlak van
toepassing wanneer die Kerk hierdie beloftes eenmaal in die voleinding in al hul
volheid sal smaak. Tussen die alreeds en die nog nie lewe ons in vloed en ebgetye
van die geskiedenis en onsself met die wete: Hierdie beloftes sal nooit oud
word nie.
Dit is
duidelik dat die groot en ondeurgrondelike dinge waarvan daar aan die begin
gepraat word, niks anders is nie as die heerlike beloftes aan die Kerk van die
nuwe verbond. Die wêreld stuur af op vreugde vir die Kerk – op komedie en nie
tragedie nie. Ons word opgeroep om die Here aan te roep om hierdie ryk beloftes
nou reeds meer en meer vir ons oop te maak sodat ons daarin kan wandel. Waar
ons steeds hunker na die volheid, help dit ons om ewigheidsperspektief te behou.
Wat wel seker is, is dat die nuwe verbond groot en ondeurgrondelik is. Ons moet
streef om altyd dieper daarin te wandel. En altyd poog om die vreugde oor die
eerste koms van die Messias reeds in verband te bring met sy tweede koms.
Dit is ook
belangrik om te waardeer dat die realisme van geloof anders as die “realisme” van
die wêreld sonder God is, en te make het met God se beloftes en sý groot en ondeurgrondelike dinge.
Uit sonde bring Hy die teenoorgestelde voort, sonder Israel se toedoen. Dit
maak net sin in Jesus Christus. Deur die kruisdood heen bring Hy die nuwe lewe
voort. Dit is so gepas dat Hy genoem word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. Dit is
God se geregtigheid wat dit doen, nie ons nie, maar sy geregtigheid mag ons deel
word. Dit is die oop geheim van sy genade. Maar dit gebeur nie sonder dat ons
sonde hanteer word nie. Vreugde en genesing kom deur vergifnis en reiniging (v.8).
En die beelde wat hierby aansluit van die herder en die groen weivelde en van
die bruid en die bruidegom help ons om te besef dat Jeremia en Psalm 23 en
Openbaring se einde alles met mekaar te make het. Dit is inderdaad groot en
ondeurgrondelik.
Geraadpleegde werke:
John Gill
Jammieson-Fausset-Brown
Bible Commentary
Matthew
Henry
Walter Bruegemann,
A Commentary on Jeremiah
Christopher
Wright, The Message of Jeremiah (Wright gee ’n goeie verduideliking van die
drie horisonne waarteen die Ou Testament gelees moet word.)
Keil &
Delitzsch