Lees: Psalm 16
Gedagte vir kinders: God se
kinders kan bly wees, want Jesus Christus het die dood oorwin.
Oorsig: Hierdie Psalm, tesame met Ps. 56-60,
word spesifiek ’n gedig genoem. Sommige Skrifverklaarders reken dit bedoel iets
soos ’n spesiale inskrywing of geheimenis. Wanneer ons in gedagte hou dat hierdie
Psalm deur beide Petrus en Paulus gebruik word om te wys op die opstanding van
Jesus Christus uit die dode (vgl. Hd. 2:25-32; Hd. 13:35-39), maak iets soos
geheimenis of spesiale inskrywing vir ons sin. Hierdie Psalm spreek van Dawid,
maar heenwysend ook na die groter Seun van Dawid. Dit spreek ook van gelowiges
wat deel het aan Christus, maar sekere verse soos vers 8-11 kan net van die
Messias eerste waar wees. Deur Jesus Christus kan dit nou ook waar wees en word
van elke gelowige wat deel het aan Hom. Sy opstanding uit die dode word uiteindelik
die heerlike werklikheid van elke gelowige.
Ons kan die Psalm breedweg in twee dele verdeel. In die eerste deel (v.1-7) hoor ons die woorde van alle gelowiges wat saam met Dawid deel het aan Jesus Christus. Ons hoor van gebed tot God om bewaring in omstandighede waarin die dood dreig. (v.1) en die belydenis dat die HERE die hoogste goed is (v.2). Hierin skaar die Psalmis hom by diegene wat ook soos hy glo en die Here wil dien. Dit is die mense met ware heerlikheid van wie hy baie hou (v.3). Hy stel dit bewustelik op teenoor diegene wat ’n ander god vereer of ook vereer. Sulke mense sal ellende beleef en hy wil geen deel aan hulle aanbidding hê nie. Hy sal nie eers sulke mense se name op sy lippe neem nie (v.4). Dan keer hy terug na wat vir hom vol waarde is.
Die Here self is sy erfenis en verlustiging en sal self onderhou wat aan hom toegewys is (v.5). Die deel wat vir hom afgemeet is, is vir hom lieflik. Ja, dit is sy erfdeel en is vir hom mooi (v.6). Hierdie God het ook vir die Psalmis raad gegee in moeilike omstandighede en daarvoor sal hy die Here loof en die setel van sy emosies, sy niere, help hom om dit ook in die nag te onthou (v.7).In die
tweede deel (v.8-11) kom ons by die gedeelte wat nog duideliker vir ons net in
Christus waar kan wees. Die Gesalfde stel hierdie God wat sy erfenis is, altyd
voor Hom in elke omstandigheid. En met Hom aan die regterhand hoef Hy nie te wankel
(NAB: struikel) nie (v.8) Daarom is daar groot blydskap, juigende eer, en die sekerheid
van veiligheid (v.9). Die rede is dat God Hom nie aan die dood en verderwing sal
oorgee nie (v.10). Nee, die lewende God sal eerder lewe gee, vreugde wat versadig,
en lieflikhede wat in sy regterhand is, vir altyd (v.11).
Besprekingsvraag: Wie is volgens hierdie gedeelte die ware glanspersone
van die lewe?
Insig: Uiters moeilike omstandighede, en selfs
die aangesig van die dood, is nie maklik nie, maar dit help ons ook om te besef
wat en waar ons toevlug is. In sulke omstandighede is dit duidelik wat Dawid se
hoogste goed (summum bonum) is. Die HERE – die Verbondsgod self, is sy alles
(v.2). En die heiliges – die kinders van God, die Kerk – wat saam met hom so optree,
is diegene wat as “heerlikes” beskryf word. Dit is belangrik om die liggaam van
Christus te waardeer en hiermee saam te hoor hoe kinders van God in moeilike
omstandighede optree. Naas die toevlug en vergenoegdheid in God, is dit
opvallend hoe duidelik afwysend daar ook gespreek word oor diegene wat ’n ander
god met gawes vereer. Dit kan ook verwys na hulle wat naas die lewende God ’n
ander afgod stel (vgl. HK 95). In ’n geestesklimaat van pluralisme wat eintlik
maar op politeïsme – veelgodedom – neerkom, is dit belangrik dat die Kerk nie die
lewende God sal verloën nie. Leiers in kerke wat baie van “ruim” en “inklusief”
en “diversiteit” praat, moet fyn
beluister word of hulle nie veelgodedom in die naam van insluiting verkondig
nie. Indien wel, behoort ons sulke kerkleiers geen ruimte of erkenning te gee
nie (v.4).
Saam met
die toevlug in en die tevredenheid met God as die hoogste goed saam met medegelowiges
en die noodwendige afwysing van die teendeel, is daar ook die verlustiging in
die pragtige en mooi erfenis wat Hy gee. Dit het aanvanklik gedui op die
erfenis van Israel, die land van lig en liefde tussen die ander nasies as draer van God se
beloftes. Sommige dink dat dit ook kon wys op die Leviete wat die Here as hulle
deel gehad het (vgl. Lev. 18:20-24). Uiteindelik het dit in Christus voller
betekenis gekry. Deur Hom mag ons geregverdig, erfgename van God en
mede-erfgename van Christus wees (Rom. 8:17; Tit. 3:7). Hierdie ewige erfenis
is vir die Kerk baie kosbaar. Wanneer ons familie en kultuurerfenis hiermee
deurdring word, mag dit ook vir ons kosbaar wees, op voorwaarde dat die belangrikste
die belangrikste bly. Let ook op die skoonheidsterme (pragtig en mooi) wat hieroor
gebruik word.
Dit is
verder opmerklik dat sekerheid en blydskap die ondertoon is in hierdie doodsdreigende
omstandighede. God sal ons nie laat wankel nie. Daarom kan die hart bly wees en
die eer juig (v.9). God sal nie aan die dood oorgee nie, maar opstanding en lewe
gee. Daarom is daar versadiging van vreugde voor God se aangesig (v.11). Hierdie
verse spreek van Christus, en daarom in Hom ook van gelowiges. Opstanding uit die
dood en versadiging van vreugde is in beginsel reeds gelowiges se deel (Joh.
11:25,26). Eenmaal sal dit voluit en volmaak wees.
Geraadpleegde werke:
John Gill
Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary
Matthew Henry
Spurgeon, Treasury of David
Walter Brueggemann, Psalms