Lees: Joh. 2:1-11
Gedagte vir kinders: God se nuwe wyn het
deur Jesus Christus reeds begin.
Oorsig: Ons lees hier van die derde dag vandat die Here Jesus na Galilea begin gaan het. Daar was ’n bruilof in Kana en Jesus se moeder was daar (v.1). Jesus en sy dissipels - ons weet hier in Johannes reeds van vyf - was ook na die bruilof genooi. Om een of ander rede het daar wyn kortgekom en die moeder van Jesus het Hom toe vertel dat hulle geen wyn het nie (v.3). Die Here Jesus het toe ’n bepaalde afstand tussen Hom en sy moeder geskep en haar as “vrou” aangespreek – die amptelike beleefde groetwyse van daardie tyd (v.4). Sy moes so leer dat Hy in sy openbare werk as die Gesalfde meer as net haar seun was. Hy het haar daarop gewys dat sy uur nog nie gekom het nie (v.4). In Johannes wys die uur wat gekom het, telkens op die kruisdood van Christus waar Hy vir ons sondes sou sterf.
Maria het toe vir die dienaars gesê dat hulle alles moes doen
wat Jesus vir hulle sê om te doen (v.5). Daar was by daardie geleentheid ses
klipkanne volgens die reinigingsgebruike van die Jode. Elkeen van hulle het omtrent
so 90 tot 100 liter water gehou (v.6). Jesus het toe vir hulle gesê om daardie
kanne vol water te maak en hulle het dit toe in gehoorsaamheid tot bo toe
volgemaak (v.7). Nadat hulle dit gedoen het, het Hy vir hulle gesê om daaruit
te skep en vir die hoofdienaar (NAB vertaal seremoniemeester) te bring (v.8).
Die hoofdienaar proe toe nie water nie, maar wyn en was
duidelik verbaas, want net daarna het hy die bruidegom geroep (v.9). Hy het nie
soos die dienaars geweet dat die wyn wat hy proe uit ’n ander oord kom nie. Die
hoofdienaar sê toe vir die bruidegom dat dit mos die logiese gewoonte is om
eers die goeie wyn voor te sit en later, wanneer die gaste goed gedrink het,
die slegste. Maar dit was nou glad nie wat hier gebeur het nie. Die goeie wyn
is dan tot op daardie stadium bewaar (v.10). Dit het bevestig dat die water wat
wyn geword het, van die beste gehalte was. Johannes noem hierdie eerste wonderwerk
in Kana in Galilea ’n “teken” (v.11). Die eerste teken sou ook vertaal kon word
as die Jesus se beginsel-teken. Die woord, teken, bevestig dat die wonderwerke
’n dieper doel gehad het – om heenwysings en verduidelikings te wees van die
Here Jesus se verlossingswerk. Deur hierdie eerste teken of beginsel-teken het
die Here Jesus sy heerlikheid as Messias geopenbaar wat feestelikheid en
oorvloed sou bring. Sy dissipels het hierdeur nog vaster in Hom geglo (v.11).
Die bedoeling is dat ons saam sal glo wanneer ons dit hoor.
Besprekingsvraag: Waarom was
dit so gepas dat die Here Jesus se eerste teken by ’n bruilof plaasgevind het
en hoe kan ons hieraan meedoen?
Insig: Dit is baie insiggewend dat die
Here Jesus sy eerste teken of beginsel-teken juis by ’n huwelik doen. Dit sê
meer van ons as van Hom wanneer ons hieroor verbaas is. Die Ou Testament is vol
van huweliksbeelde wat heenwys na die verbondsverhouding tussen God en sy volk
(vgl. Hooglied; Jes. 54:5; 62:5; Hos. 2:16-25). Die beeld van wyn en oorvloed
word ook gereeld in verband gebring met die verwagting van die Messias (Gen.
49:10-12; Amos 9:13; Joel 4:18). Net vantevore in Johannes lees ons dat die
Here Jesus vir Natanael daarop wys dat die dissipels sal beleef dat die hemel
oop is (Jn. 1:52). En hier begin hulle en ons iets van hierdie heerlikheid te
sien.
Dit is insiggewend dat ons
spesifiek van die derde dag lees. Dit is die derde dag na die vorige vier dae
van Johannes 1. Dit verteenwoordig dus ’n volheid van sewe dae en wys tegelyk
ook terug en vorentoe na die derde dag van heerlikheid. Reeds by die berg Sinai
lees ons van die Here wat op die derde dag sy heerlikheid aan die volk openbaar
het (vgl. Ex. 19:10-11,16-20; Hos. 6:2). Daar het die volk telkens gesê dat
hulle alles sal doen wat die Here sê (Ex. 19:8; 24:3,7). Hier hoor ons hoe
Maria, as verteenwoordiger van die getroue Kerk, die dienaars ook beveel om te
doen “net wat Hy vir julle sê”. Dit dui hier op die nuwe verbond wat Christus
gebring het. Die feesvreugde van die Messiaanse eeu was op hande. Christus het
reeds met sy amptelike bediening begin en Hy sou die beloftes van
bruilofsvreugde tussen God en sy volk ’n werklikheid maak. Om dit aan te dui,
sluit Hy aan by die reinigingsgebruike (vgl. Num. 19:9-19). Die kanne moes
volgemaak word met water. En uit die reinigingswater sou die beste wyn voorkom.
Christus sou dus die reinigingswette vervul op ’n heerlike wyse. Water word wyn
in oormaat. Dit dui op vervulling, heerlikheid, volheid en oorvloed. In Christus
kan die Messiaanse feesvreugde begin. Eendag sal dit tot volmaak wees (Op.
19:9).
Maar dit sou slegs op een wyse
moontlik word en die Here verwys reeds daarna as Hy vir sy moeder stel dat sy
uur nog nie gekom het nie. Jesus sien reeds dat die wyn wat Hy sou gee, net ’n voortdurende
realiteit kon word deur die uur van sy kruisdood. Hy sou Homself moes gee om
die Messiaanse feesvreugde ’n werklikheid te maak. En Hy het! So drink ons
vandag nog van daardie wyn wanneer ons in die Nagmaal sy offer herdenk. En die
bedoeling is dat ons saam met die dissipels die heerlikheid van die nuwe
verbond sal sien en smaak en glo.
Geraadpleegde Werke:
Thomas Aquinas se kommentaar op
Johannes.
Francis Martin, The Gospel of John
Matthew Henry
John Gill