Hierdie artikel is goedgunstiglik in 2020 geplaas in die feesbundel wat die die 150ste bestaansjaar van die teologiese opleiding van die GKSA herdenk. Hier is die voorsmaak tot die res:
Die gereformeerde teologie behoort in die leer van die Triniteit vandag ten
minste twee uitdagings te hanteer. Die meer algemene uitdaging gaan daaroor dat
gerekende reformerende teoloë soos Robert Letham (2004:5–6)
daarop kan wys dat die meeste Westerse Christene praktiese modaliste is. Letham
(2004:5–6)
haal ook vir Colin Gunton aan wat beweer dat die neiging tot modalisme aan die
wortel van die ateïsme en agnostisisme lê wat die Westerse kerk konfronteer.
Intussen was daar ‘n sogenaamde Trinitariese renaissance, ook genoem
oplewing (vgl. Vanhoozer 2014:31),
wat in die twintigste eeu plaasgevind het en bepaalde antwoorde hierop begin
gee het. Dit het daartoe gelei dat iemand soos Stanley Grenz (2004:1–5)
die bydraes rondom die leer van die Drie-eenheid kon beskou as waarskynlik van
die verreikendste vir die teologie in hierdie tydperk. Dit bring reeds die
tweede uitdaging na vore wat in besondere sin op ons tyd gerig is. Wat is
gereformeerdes se bydrae vandag in hierdie verband? Venter (2011:6–7)
wys byvoorbeeld aan die hand van Van den Brink en Van Erp daarop dat daar, met
uitsondering van Noordmans, ’n opvallende afwesigheid van produksie oor die
Triniteit in Nederland in die twintigste en een-en-twintigste eeu was. Intussen
het die produksie in Suid Afrika nie agterweë gebly nie, en Ernst Conradie (2019)
het onlangs ’n handige oorsig oor geleerde bydraes oor die Triniteit in
Suid-Afrika gegee.
Hierdie artikel tree die beweging tegemoet deur
eerstens kenmerkende aksente in die oplewing te beskryf. Daarna word voorlopige kritiese opmerkings gemaak. In die volgende afdeling word daar opsommend na twee reformatoriese teoloë gekyk wat vanuit die tradisie vernuwende antwoorde op die uitdagings begin ontwikkel het. Ten slotte word ’n paar gevolgtrekkings asook enkele voorstelle gemaak vir verdere ondersoek.