Lees: Psalm 46
Gedagte vir kinders: Geen skrik
op aarde kan Christene skei van God se beskerming nie.
Oorsig: Hierdie Psalm beskryf die vaste sekerheid
wat gelowiges selfs in die grootste benoudhede mag hê wat oor die aarde kom. Die
Psalm vertoon drie dele wanneer ons let op die drie selas (vgl. v.4,8,12). Die
woord sela gaan oor ’n ruspose vir diep nadenke, sodat dit in jou hart kan
insak voordat daar verder beweeg word.
In die
eerste gedeelte (v.1-4) word gefokus op God as toevlug en sterkte. Ons lees eerste
van musiekaanduidings. Daar is sprake van ’n musiekleier, die kinders van Korag
(vgl. 1 Kron. 9:2,19), sopraanstemme en ’n lied (v.1). Hierdie lied moet dus georganiseer
word om reg daaraan te laat geskied. Dit begin met die belydenis oor God as (1)
toevlug en (2) sterkte. Hierin is Hy al baie op die proef gestel en nog altyd was
die uitslag dieselfde (v.2). Daarom sal gelowiges nie vrees nie, selfs wanneer
die skepping self dreig om uit mekaar te val (v.3). Die Psalmis nooi selfs uit
dat dit moet gebeur en dan vind ons die eerste sela (v.4)
In die twee
gedeelte (v.8-11) word uitgebrei op die effekte van God se teenwoordigheid.
Daar is stroompies van ’n rivier wat Jerusalem as stad van God bly maak. Dit
verwys na die rustige en lewegewende water, te midde van die onstuimigheid, wat
gevind word in die Godstad, met ander woorde daar waar God woon, en wat
blydskap bring (v.5). Omdat God daar is, sal dit nie wankel nie en sal sy hulp
daar wees as die dag breek (v.6). Die Psalmis wys dan daarop dat nasies al
gebruis het en koninkryke gewankel en die aarde gebewe het as God sy stem
verhef het. (v.7). Hy bevestig dan dat die Here van die leërskare, ook genoem
die God van Jakob, met die gelowiges is, ’n rotsvesting is, en dan volg die
tweede sela.
Die derde gedeelte (v.9-12) begin met ’n uitnodiging. Kom aanskou die skrikwekkende dade van die Here (v.9). Hy laat oorloë ophou oor die hele aarde en Hy doen dit deur die oorlogwerktuie tot niet te maak. Hierdie grootse dade lei dan tot ’n oproep om te “laat staan”, dit wil sê op te hou, met sekere gedrag. Hierdie gedrag kan opstand teen God wees, of angstigheid of murmurering. Die Here bevestig hierna dat Hy hoog sal wees onder die nasies (of heidene) en hoog op die aarde (v.11). Die Psalmis sluit dan af met dieselfde belydenis van vers 8:
Die Here van die leërskare, die God van Jakob, is met ons en ’n rotsvesting vir ons. Ook hier word dit gevolg met die sela wat ons oproep om diep daaroor na te dink (v.12).Besprekingsvraag: Wat beteken dit prakties dat ons moet ophou
of “laat staan” in v. 11?
Insig: Volgens oorlewering het Martin
Luther dikwels in dreigende omstandighede gesê: “Kom, laat ons Psalm 46 in hierdie
omstandighede sing.” Dit is die moeite werd om sy beryming, ook in Afrikaans, na
te gaan en te vergelyk met die Psalmberyming van Totius. Dit gaan in hierdie
Psalm oor die grootste dreiginge denkbaar. “Wilde krygsgedruis” en nasies wat “opbruis”,
soos die beryming dit stel, is hier aan die orde. Die dreigings kan selfs kosmies
van aard wees met die aarde wat waggel en berge wat beef en “wegwankel in die
see”. Ons begin iets hiervan begryp wanneer ons hoor van oorloë en wêreldoorloë,
van wrede soldate en eras wat skynbaar tot ’n einde kom. Maar ons besef nog
meer hiervan as Sinai wil wegsmelt as God daar aan sy volk verskyn (vgl. Ex.
19:16-18; Ps. 68:8-9). Die Hebreër-skrywer sluit hierby aan en stel dat ons by iets
meer gekom het (vgl. Hebr. 12:18-24). Geen wêreld-verskynsel kan kers vashou by
die Godsverskyning nie. Die wederkoms sal eenmaal ook enige gebeure op aarde verdwerg wanneer Christus kom om te oordeel oor die lewende en die dode. Psalm 46 bevestig reeds dat die kinders van God ook hierin rustig kan wees. Hierdie wêreld sal wel geskud word, maar die doel is dat ons by die onwankelbare koninkryk kan kom (vgl. Hebr.
12:26-27).
Let daarom op die treffende teenstelling. Enersyds is daar die dreiginge en druisinge in die wêreld. Andersyds hoor ons van die eenvoud van stroompies van ’n rivier wat die Godstad bly maak. Die teenwoordigheid van God by sy kinders is so kragtig dat dit vrede en rus en blydskap bring onder die benouendste omstandighede. Ons lees in Es. 47 van die lewegewende rivier wat uit die tempel vloei en ook in Openbaring 22 (kyk veral 22:1). Dit wys op die lafenis, volheid, vrugbaarheid en lewe wat in die gemeenskap met God te vind is. Dit is die lewe wat vanuit die troon en van die Lam (en daarom Golgotha se afgehandelde werk - wat Luther herontdek het) na ons vloei en die strome van lewende water wat die Heilige Gees uit ons binneste laat vloei (Jn. 7:37-39). Die goeie nuus is dat die stroompies van die rivier nou reeds gesmaak kan word omdat ons weet dat dit vanuit die troon en van die Lam vloei wat vir ons versoening gebring het. Die Kerk is die besondere plek van die stroom van hierdie genietinge. Dit bring diep gerustheid en blydskap. Waar God so teenwoordig is, sal die hulp gou en betyds – vroegdag - aanbreek. In Hom het ons waarlik "’n vaste burg", soos Luther dit gedig het.
Ons word uitgenooi
om hierin versterk te word. Die struktuur van die laaste deel van die Psalm is: Kom kyk, hou op, hoor, bely. Let op die evangeliese struktuur hiervan. Ons slaan telkens eers ag op wat God doen (indikatief) en dan hoor ons waartoe ons opgeroep word (imperatief). Kyk en aanskou sy dade in die wêreld. Hy is
besig om sy koninkryk te laat kom. Enersyds word mense se harte nuutgemaak en
andersyds word wapens vernietig. Daarom moet ongelowiges ophou met
opstand en gelowiges met kleingeloof en moontlike murmureringe. Ons moet God se
beloftes hoor dat Hy hoog sal wees. Bring dit ook in verband met Christus se woorde oor die Grieke oor wat Hy sal doen as Hy van die aarde verhoog word, deur sy kruis en later deur die verhoging aan die regterhand van die Vader (Joh. 12:32). Hierdie belofte gaan reeds en steeds in vervulling. En ons word opgeroep om saam
met die Psalmis te bely dat spesifiek die God van Jakob, van Israel, van
die Kerk van Jesus Christus, vir ons ’n toevlug is, met ons is, en dit diep in
die hart laat insink.
Geraadpleegde werke:
John Gill
Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary
Matthew Henry
Spurgeon, Treasury of David
Walter Brueggemann, Psalms
Thomas Aquinas, Psalms.