Gedagte
vir kinders: Omdat Jesus terug was by God, is die Heilige Gees
nou by ons.
Oorsig: Petrus bring
hierdie boodskap op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ons
fokus in besonder op die tweede deel van sy preek. In die eerste gedeelte
verdedig Petrus die gebeure by Pinkster toe die gelowiges in allerhande tale
oor die groot dade van God deur Jesus getuig het. Dit was die vervulling van
dit waaroor die profeet Joel geprofeteer het – God se Gees op al sy kinders. Daarna
verduidelik Petrus wat dit met Jesus te make het (v.22 e.v.).
Petrus wys daarop
dat Jesus die Nasarener, ’n man was wat deur God aangewys is deur kragte en
wonders en tekens en wat niemand kon ontken nie. Deur God se raad en voorkennis
is Jesus toe oorgelewer en deur heidene, goddelose manne, het die Jode hom laat
kruisig en ombring (v.22-23). God het Hom egter opgewek, nadat Hy die smarte
van die dood ontbind het (let wel, “nadat”), want dit was onmoontlik dat Jesus
daardeur vasgehou sou word (v.24). Petrus wys dan op Ps. 16:8-11 waar Dawid
reeds profeties hiervan getuig het. Daar getuig Dawid van Christus dat Hy die
Here altyddeur voor hom sien en dat God by Hom was dat Hy nie sou wankel nie.
Daarom was Jesus Christus se hart bly en sy tong het gejuig en kon sy vlees rus
in hoop. Hy het ook geweet dat God sy siel nie aan die doderyk sou oorlaat of
sy Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Die Here sou eerder aan Hom die
paaie van die lewe bekend maak en Hom vervul met vreugde by sy aangesig
(v.25-28).
Petrus wys dan daarop dat die Psalm nie van Dawid waar kon wees nie, aangesien Dawid se graf nog steeds by hulle is. Dawid was egter ’n profeet en het geweet dat God vir hom gesweer het dat die Christus uit hom gebore sou word om op sy troon te sit (vgl. Ps. 132:11; Luk. 1:32). Dawid het dus vooruit gesien en profeties gespreek van die opstanding van Christus en dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (v.29-31).
Petrus verklaar dan dat hulle
getuies daarvan is dat God hierdie Jesus opgewek het. En nadat Christus deur
die regterhand van God verhoog is (deur sy opstanding en Hemelvaart), en van
die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort
wat almal op Pinksterdag kon sien en hoor (v.32-33). Dan haal Petrus ook uit
Ps. 110 aan en wys dat Dawid ook daar nie van homself spreek nie, maar spreek
van sy Here wat aan die regterhand van God gaan sit het totdat sy vyande
onderwerp is. Petrus sluit dan af en stel dat die hele Israel moet weet dat die
Jesus wat hulle gekruisig het, deur God Here en Christus gemaak is (v. 34-36).
Besprekingsvraag: Waarom kan
ons sê dat Pinksterdag dui op die werk van God Drie-enig?
Insig: Die
uitstorting van die Heilige Gees help ons om waarlik profete onder die leiding
van die Woord en Gees te wees. Petrus is die sprekende voorbeeld hiervan. Sy preek onder leiding van die Gees is ’n kragtige en
besonder keurige boodskap vol dimensies, en in die sentrum daarvan staan Jesus
Christus. Hy weerlê die lawwe praatjies deur basiese logika, maar hy doen ook
baie meer. Hy gebruik die Woord van God om perspektief te bring. Hy wys op ’n
gedeelte uit die profete (Joël) om sin te maak van wat gebeur. En dan bring hy
dit verband met die woorde en dade van Jesus Christus waarvan ons in die Nuwe
Testament hoor. En dan verwys hy weer terug na Skrifgedeeltes uit die Ou
Testament (Ps. 16 en 110) om te bevestig hoe dit alles net in en deur Christus
waar kon word. En natuurlik hoe Christus se heilswerk die verklaring bied van
wat geprofeteer is en van wat op Pinksterdag gebeur het. Petrus wys in die
proses ook hoe die Bybel ’n eenheid in Christus vorm. Hy is ook onbeskaamd saam
met die ander apostels getuie van dit wat hulle gesien het. Hy skroom ook nie
om daarop te wys dat die Jode moet besef het wat hulle gedoen het, al is dit
ook so in die raad van God bepaal.
Wat is die implikasies van Petrus se woorde op
Pinksterdag vir ons? Pinkster bevestig dat die eskatologiese eindtyd waarvan
Joel reeds getuig het, aangebreek het. Ons leef in die laaste dae, maar Bybels
gesproke is dit die hele tyd vanaf Hemelvaart en Pinkster tot en met die
voleinding - die “groot en deurlugtige Dag van die Here” (v.20). Dit is ’n
tydperk waarin alle gelowiges vervuld deur die Gees van God mag lewe te midde
van uitdagings. Let op: Petrus bring die werk van die Gees direk in verband met
Christus wat terug is by die Vader. Net Christus se versoening kon dit bewerk
dat die toegang tot die Allerheiligste oop is en dat God deur sy Gees nou
kragtig onder al sy kinders werksaam is. Dit is daarom die Drie-enige God se
werk en ons het die ontsaglike voorreg om steeds uit die werklikheid van sy verlossing
te leef.
Daar is ’n
sekere ironie in die liggewig interpretasie van Pinkster dat die gelowiges vol
soetwyn (of nuwe wyn – vgl. KJV) is. Daar is wel sprake van die nuwe wyn van
die nuwe verbond, maar dit lei nie tot belaglike optrede nie. Dit lei eerder
tot juigende en profetiese optrede soos die van Petrus. Ons mag nou dronk wees met die nugter invloed van die Gees wat sonde
doodmaak en lewe aan die hart gee (Cyrillus van Jerusalem). “Hy wat dronk word van wyn, wankel, maar
hy wat dronk word van die Heilige Gees is gewortel in Christus. Hoe uitstekend
is hierdie dronkenskap nie wat die nugterheid van die siel voortbring!”
(Ambrosius).
Geraadpleegde werke:
John Bergsma.
The Word of the Lord. Year C.
William. S Kurtz. Acts of the Apostles:
Catholic Commentary on Sacred Scripture.
Jaroslav Pelikan. Acts: Brazos
Theological Commentary.
Ben Witherington III. The Acts
of the Apostles: A Socio-Rhetorical Commentary.