Gedagte
vir kinders: In die Naam van Jesus Christus hoef ons nie te
vrees vir die Bose nie.
Oorsig: Die Here Jesus
was bewustelik op pad na Jerusalem om gekruisig te word en op te staan uit die
dode (Luk. 9:51). Hy het reeds sy 12 apostels voor Hom uitgestuur, maar hier lees
ons ook van 70 ander wat Hy twee-twee voor Hom uitgestuur het na elke plek waar
Hy sou kom (v.1). Hy het ook vir hulle gesê dat die oes groot en die arbeiders
min is en dat hulle die Here van die oes moes bid vir arbeiders (v.2). Die
gestuurdes sou dus later nog meer word.
Hulle moes dan
gaan soos lammers tussen wolwe, en hulle moes niks ekstra saamneem soos ’n
beursie of reissak of skoene nie. Dit was dringend en hulle moes hulself nie
eens ophou met allerhande groetery op die pad nie (v.3-4). Hulle moes vrede oor
die huis uitspreek waar hulle ingaan en as dit aanvaar is, sou die vrede daarop
rus. Andersins sou dit na hulle terugkeer (v.5-6). Hulle moes in daardie stad dan daar
bly en vrymoedig eet en drink wat vir hulle gegee word vanweë hulle werk, en nie kieskeurig in huise rondgaan nie. Hulle moes ook nie huiwer om enige
kos (moontlik onrein) van sekere stede te eet wat voorgesit word nie (v.8). Hulle
moes daar die siekes gesond maak en daarop wys dat dit in verband staan met die
koninkryk van God wat naby hulle gekom het. Indien ’n gemeenskap hulle nie wou ontvang
nie, moes hulle uitgaan op die strate en sê dat selfs die stof uit die stad
afgevee word, maar dat hulle steeds moes weet dat die Koninkryk naby hulle
gekom het. Vir die veroordeelde stad Sodom sou dit dan beter wees in die
oordeelsdag as vir daardie stad (v.9-12).
Hierna het die
Here Jesus dorpe soos Gorasin en Betsaida verwyt dat heidense stede vol
boosheid soos Tirus en Sidon hul lankal hartgrondig sou bekeer het as daar in
hulle sulke kragtige dade plaasgevind het. Vir sulkes sou dit in die oordeel
verdraagliker wees. Veral Kapernaum moes hoor dat dit tot die doderyk (hades)
toe neergestoot sou word. Die Here Jesus het hulle toe daarop gewys dat wie
luister of verwerp eintlik na Hom luister of Hom verwerp, sowel as die Een wat Hom gestuur het
(v.13-16). Ons hoor dan dat die 70 met blydskap teruggekom het en vir die Here vertel
het dat selfs die duiwels hulself onderwerp het in sy Naam. Die Here het toe
vir hulle verduidelik dat dit is omdat die Satan soos ’n bliksemstraal uit die
hemel geval het deur sy bediening. Hy het hulle ook verseker dat Hy hulle mag
gee oor die Bose en al die krag van die vyand en dat niks hulle sal skade doen
nie. En tog het Hy hulle daarop gewys dat hulle eerder moes bly wees dat hulle
name in die hemel opgeskrywe is (v.17-20).
Besprekingsvraag: Waarom sal
dit vir Sodom verdraagliker sal wees in die oordeel?
Insig: Dit is
insiggewend dat hierdie gedeelte vertel word net nadat ware dissipelskap van
Christus aan die orde was. Ons kan die 70 ware dissipels hier sien as verteenwoordigers van gesante aan die 70
nasies van Genesis 10. Hulle kan ook verbind word aan die 70 oudstes van Israel
op wie die Gees van die Here gekom het. Moses het gewens dat die hele volk soos
hulle profete sou wees (Num. 11:16-29). Dit het op Pinksterdag waar geword toe
die Gees op alles soorte gelowiges gekom het. Dit is ook insiggewend dat
Christus die 70 oproep om te bid vir verdere arbeid. Ons kan hierdie gebeure daarom
sien as ’n inleiding tot die werk van die Kerk van Christus en die missie van
die Kerk as koninklike en gestuurde gesante van die Here. Ons kan daarom ook afleidings maak
oor dissipelskap en kerkwees. Die Kerk as liggaam van Christus kan eenvoudig
nie afsydig staan teenoor haar roeping as koninklike gestuurdes in hierdie wêreld nie.
Dit is ook opwindend om te hoor van die oes wat groot is. Die resultate
is nie klein nie. Maar die arbeiders is min. Die dinamika is duidelik een van koninklike gesante wat hoor,
opdragte van heling en vrede bring uitvoer, verder bid, fokus en baie ligte reistasse vir die reis. Die
oesinsameling is vol avontuur en hang noodwendig saam met donker
realiteite van mense wat groot nood het, van die werklikheid van die Bose wat
dit teenstaan, en van God se oordeel. Dit is nie bloot ’n geval van oes wat ryp
lê en rustig en ingesamel word nie. Daar is definitiewe
gevare van wolwe en van die Bose en van mense wat die
boodskap midde God se dreigende oordeel verwerp. Ons moet ook Christus se
wee-uitspraak oor hulle wat die voorreg gehad het om Hom te beleef nie lig taks nie. Ons moet dit in verband
bring met die Ou Testament se oordeel oor heidenstede (vgl. Gen. 19, Jes. 23,
Jer. 25:22; 47:4; Es. 26:3-28:24; Joel 3:4-8; Amos 1:9-10) en hoor hoe Christus dit nou verdiep. Dit gaan te maklik by ons verby dat dit vir Sodom verdraagliker sal wees as hulle wat die tasbare openbaring van die Messias verwerp. Hoe meer lig ons ontvang,
hoe groter is ons verantwoordelikheid. Wee ons as ons die lig wat ons ontvang
het, klakkeloos afmaak.
Hierdie lig gaan oor die Naam wat ware bevryding bring. Dit is hierdie
Naam wat toegang tot die Vader gee (v. 22 vgl. Joh. 14:6) en deur wie die dissipels en die Kerk vandag nog oorwinning het oor duiwels. Die dissipels was verwonderd hieroor, maar Christus help
hulle en ons reg op twee vlakke. (1) Dit is alleen deur Christus se bediening dat
die satan en die Bose neergevel is en dat die Kerk mag het. (2) Ons moenie fokus op
uiterlike mag en tekens nie. Ons blydskap ("wees liewer bly" - voortdurende teenwoordige tyd) is eerder
geleë in die feit dat ons kinders van God is (v.21-24) wie se name in die hemel opgeskrywe is. Die res is voetnotas. Christus
is daar, sy Naam is daar en in Hom is ons name daar. In Hóm is ons geseënd met alle geestelike seëninge
(Ef. 1:3,12).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.