“Ek is 'n ProBoer genoem en, anders as sommige Pro-Boere, was ek baie trots op die titel.” – G.K. Chesterton.
Dit is moontlik al voorheen aangetoon, maar ek kon dit nog nie vind in
internet-Afrikaans nie. Afrikaners kan mekaar daarmee bemoedig dat die Anglo-Boereoorlog
’n besonder rigtinggewende invloed op die Britse
joernalis, G.K. Chesterton (1874-1936), se lewe gehad het. Dit alleen behoort sy
leserstal alreeds by ons te laat styg. Ek het Chesterton voorheen vanuit hoorsê
’n ProBoer genoem, min wetende dat hy dit behoorlik was en dat dit inderdaad
die standaard-uitdrukking in Engeland was om die Britte te beskryf wat teen die
oorlog teen die Boere gekant was.
Volgens oom Ches was daar soms selfs dinees gehou vir ProBoer-gesindes. Dit alles vind ’n mens uit wanneer jy Chesterton se outobiografie lees.[i] Oom Ches se vertelling hieroor is egter vir Afrikaners soveel te meer merkwaardig, aangesien hy die gebeure rondom die besetting van Suid-Afrika verbind aan sy eie ontwaking in identiteit asook ontluiking in die publieke arena van Brittanje. Chesterton verduidelik in sy outobiografie dat hy wel gekwalifiseerde simpatie gehad het met bepaalde doelstellings van die sosialiste en imperialiste, maar dat hy ook ’n bepaalde teësin daarin gehad het:
“’Maar niks van my hart of my verbeelding het met hierdie wye
veralgemenings saamgegaan nie; en iets binne my het altyd onbewus in die
teenoorgestelde rigting gegrawe. Ek het in hierdie vae maar nie heeltemal
ongesonde gemoedstoestand nie, gebly. Daar het ek gehang ... totdat iets in die
uiterlike wêreld gebeur het wat my nie net uit my drome wakker gemaak het soos
'n donderslag nie, maar soos 'n weerlig my aan myself geopenbaar het. In 1895
het die Jameson-inval gekom en 'n jaar of twee daarna die oorlog met die twee
Republieke van Suid-Afrika.”[ii]
Oom Ches vertel dan hoe gretig al die Britte was vir die oorlog, selfs
gretiger as later vir die Eerste Wêreldoorlog. Chesterton was van mening dat die
Eerste Wêreldoorlog baie belangriker en regverdiger was, maar dat dit nie dieselfde
applous ontlok het as die Boereoorlog nie: “Menigtes sou ongetwyfeld teen
Kruger en Kaiser uitroep; maar die Keiser met sy snorre het nooit so 'n gewilde
karikatuur geword soos die President met sy bokbaard nie."[iii]
Oom Ches merk ook later op dat dit maar onthou kan word dat daar politici was
wat vír die Anglo-Boereoorlog was, maar wat later gedurende die oorlog van 1914 beskuldig
is van beskeidenheid of selfs
anti-patriotisme.
Hierdie sentimente van Chesterton is alreeds insiggewend, maar sy vertelling daarna neem sy verbondenheid aan die Boere se saak destyds, na ’n volgende vlak.
Oom Ches vertel op boeiende wyse iets oor die massa-media en massa-histerie van sy tyd. Hy wys daarop
dat dieselfde gees teen die Boere-republieke in die Daily Mail, maar ook
in ander blaaie werksaam was. Daar was dalk variasie in aanslag, maar oom Ches onderskei
allitererend die dieper gees wat telkens deurgekom het: “indien nie in maniere
nie, tog wel in moraal”.[iv]
Chesterton vertel dat hy oral ’n skynbare eenheid oor hierdie oorlog waargeneem
het, selfs onder vriende en familie, en wat dit laat klink het of die oorlog en
die oorwinning daarvan onvermydelik, wetenskaplik en seker was. En dan vertel oom
Ches van sy ontwaking:
“En ek het skielik besef dat ek dit haat; dat ek die hele ding gehaat het
soos ek nog nooit iets vantevore gehaat het nie. Wat ek daarvan gehaat het, was
dit waarvan baie mense gehou het. Dit was so 'n baie vrolike oorlog. Ek het die
selfvertroue, die gelukwensende verwagtinge, en die optimisme van die aandelebeurs
gehaat. Ek het die afskuwelike versekering van oorwinning gehaat. Dit was deur
baie beskou as 'n byna outomatiese proses soos die werking van 'n natuurwet; en
ek het nog altyd daardie soort heidense idee van 'n natuurwet gehaat ... die
noot wat van die begin af ingeslaan is, was die noot van die onvermydelike; iets
wat vir Christene en liefhebbers van vryheid afskuwelik is.”[v]
Chesterton wys dan daarop dat die seges van die Boerenasie en die blitsige
en skitterende ontwykings van De Wet, en die gevangeneming van 'n Britse
generaal aan die einde van die oorlog, telkens die teenoorgestelde toon laat
klink het. Hy het selfs in een van sy eerste artikels geskryf dat die Britte “die
voortekens verontagsaam en die sterre minag”.[vi]
Oom Ches vertel verder dat hy in sy geestesoog eerder beelde van 'n moderne verrysing
van die minderhede by Marathon of Thermopylae tydens die Grieks-Persiese oorloë
gesien het.[vii]
Chesterton reken dat dit wat hom aanvanklik begin afstoot het van die atmosfeer
van die beweging onder sy volk, was dat daar iets onopreg was aan die nasionale
aanspraak. Dit sou hiervolgens gaan oor die uitredding van die kommersiële
burgers van Engeland in Johannesburg. Hulle is deur die mense van Transvaal die
Uitlanders genoem. Oom Ches stel dan dat dit ’n baie geloofwaardige pleidooi
sou gewees het as die sogenaamde redding eg was. Dan sou daar te minste gesê
kon word dat die Boere vir hul land veg, en die Britte vir hul landgenote. Maar
hy voeg ook by dat dit juis daarom des te meer afstootlik sou wees indien dit
skynheilig was. En Chesterton reken wel dat dit vol skyn was omdat die name van
die wat omgekom het en wat deurgegee is, geblyk het nie landgenote te wees nie,
maar mense van ander volke. Sy gevolgtrekking was dat hulle wat die Boere as Uitlanders
(Outlanders) benoem het, ook maar buitestaanders (Outsiders) genoem sou word
deur eerlike Britte, maar nie landgenote nie. Oom Ches is daarom in sy
sentiment teen die Imperialisme versterk:
"Ek is 'n ProBoer genoem en, anders as sommige Pro-Boere, was ek baie
trots op die titel. Dit het presies uitgedruk wat ek bedoel het, baie beter as
sy idealistiese sinonieme. Sommige intellektuele het die term verontwaardig
verwerp, en gesê hulle is nie Pro-Boere nie, maar net liefhebbers van vrede of
pasifiste. Maar ek was nadruklik 'n ProBoer, en ek was uitdruklik nie 'n
pasifis nie. My punt was dat die Boere reg was om te veg; nie dat enigiemand
verkeerd moet wees om te veg nie. Ek het gedink dat hul Boere heeltemal geregtig
was om perd en geweer te neem ter verdediging van hul plase en klein
boerdery-gemenebes, toe dit binnegeval is deur 'n meer kosmopolitiese ryk op
bevel van baie kosmopolitiese finansiers."[viii]
Oom Ches wys dan op ’n belangrike saak oor onderskeide wat mens moet onthou
by die naamgewery van destyds. Hy het eintlik ’n minderheid binne ’n minderheid
van Pro-Boere verteenwoordig, aangesien die meerderheid Pro-Boere se motiewe
nie die van ’n ware patriot was nie. Nee, heelwat Pro-Boere was eerder
anti-militariste. Chesterton het hom dus enersyds verset teen Jingoïsme
(dweepsieke lawaaierige patriotisme of Engelse chauvinisme) en andersyds
Pasifisme (of dan anti-militarisme). Hierdie baie spesifieke posisie wat hy
ingeneem het, het sy hele lewe in ’n bepaalde rigting begin neem en sy
identiteit in die openbare arena téén onwaardige Engelse optrede help vestig.
Dit behoort sekerlik menige Boer se aandag te trek. Langenhoven het by geleentheid
opgemerk dat jy nie sy vriend kan wees as jy nie kan wys wie jou vyand is nie.
En dit waarvan oom Ches die vyand was en wat hy gehaat het, was die
skynheiligheid en triomfalisme van ’n soort heidendom wat hy onder sy eie mense
beleef het. Dit behoort aan Boere te wys wie hul vriend is en rede te gee
waarom ons volkie hom gerus maar kan lees. En tog kon Chesterton ook lief vir
sy eie volk bly, iets wat ons ook kan waardeer en waarby ons weer sal terugkom.
Maar hy het definitief ook die moed gehad om sy volk se sondes by die naam te
noem toe ’n gewaande euforie skynbaar oor die hele volk gekom het tydens die
Boereoorlog.
En nou die vingers wat terugwys: Wanneer ons as Afrikaners oom Ches hieroor
met genoegdoening lees, moet ons ook raaksien watter spieël hy in die proses voor
ons ophang. Sou ons ook vanuit egte Christenskap, egte vryheidsopvattings, en
egte patriotskap in staat wees om om die
valse weergawes hiervan onder ons eie mense uit te ken? Ook wanneer gewaande,
meesleurende strome oor ons volk kom? Want dit is duidelik dat Chesterton juis
sy sieninge aan iets hoër as blote volksliefde gekoppel het. En daarom was dit
vir hom moontlik om dit vír sy volk teenóór sy volk op te neem. Maar
juis daarom kan beide Boer en Brit vandag steeds na oom Ches luister.
[i] Chesterton, G.K. 1936. Outobiography of
G.K. Chesterton. Rare Treasures. Hiermee dan ook dank en erkenning aan my
student, Peet Schütte, wat my op hierdie spoor gebring het. Wat hier
oorvertel word, kan in hierdie uitgawe gevind word op bladsy 71-77.
[ii] Chesterton, G.K. 1936. Outobiography of
G.K. Chesterton. Rare Treasures. S.l. p. 71
[iii]
P. 71
[iv]
P. 72
[v]
P.72
[vi]
P.72
[vii]
P. 72. Die Slag van Thermopylae (480
vC) asook die Slag van Marathon (490 vC) gaan oor die Griekse leër wat die
groter oormag Perse aanvanklik nederlae toegedien het. Terwyl die Slag van
Thermopylae tegnies 'n nederlaag vir die Griekse koalisie was, was dit ook 'n deurbraak.
Dit was die begin van verskeie belangrike Griekse verowerings teen die Perse en
het die begin van 'n moraalverskuiwing onder die Grieke moontlik gemaak. Die
Slag van Marathon was die hoogtepunt van die eerste poging deur Persië, onder
koning Darius I, om Griekeland te onderwerp. Die Griekse leër het die oormag
Perse 'n verpletterende nederlaag toegedien, wat 'n keerpunt in die
Grieks-Persiese Oorloë veroorsaak het.
[viii]
P.73