Lees:
1 Kon. 19:9b-21
Gedagte vir kinders: God bring sy oordeel op sy eie tyd wanneer mense nie luister nie.
Oorsig: Elia
het ’n geweldige hoogtepunt in sy bediening as profeet beleef met vuur wat op
die altaar neerdaal op Karmel. En tog, net daarna begin Isebel hom tot die dood
vervolg en hy kom agter (“sien”) dat sy nie teengegaan sal word nie (v.1-3).
Elia onttrek hom toe van Israel tot anderkant die verste suidelike punt van die
land (Berseba) en eindig in die woestyn onder ’n besembos waar hy wens dat hy
mag sterwe. Maar God het hom deur sy engel gevoed en versterk om vir veertig
dae tot by die berg Horeb te loop.
Dit is daar waar die Here in die spelonk na Elia kom en vra wat hy daar doen. Elia antwoord dat hy baie geywer het vir die HERE, die God van die leërskare en hy kla die kinders van Israel oor drie dinge aan: (1) Hulle het die verbond van die HERE verlaat, (2) hulle het sy altare afgebreek, en (3) die HERE se profete met die swaard doodgemaak sodat Elia alleen oorgebly het en hulle nou ook sy lewe soek (v.9b-10). God het hom toe beveel om uit te gaan en te staan op die berg voor die HERE. Daarop het die HERE verbygegaan terwyl ’n sterk wind die berge skeur, maar die Here was nie in die wind nie. Daarna was daar ’n aardbewing en ook daarin was die Here nie. Na die aardbewing was ’n vuur, maar ook daarin was die HERE nie. Daarna was daar ’n sagte koelte waarin die HERE was. Elia draai toe sy gesig met ’n mantel toe en gaan by die ingang van die spelonk staan.
Weer het die HERE hom
gevra wat hy daar maak (v. 11-13). Elia het hom toe met presies dieselfde as
die vorige keer geantwoord (v.14). Die HERE het toe vir Elia drie opdragte
gegee. Hy moes teruggaan op sy pad na die woestyn van Damaskus en Hasael as
koning oor Aram (Sirië) salf. Hy moes ook Jehu as koning oor Israel salf, asook
Elisa as profeet in sy plek (v.15-16). Deur hulle sou God sy oordeel oor Israel
bring deur die swaard van buite (Hasael van Aram) en van binne (Jehu wat die
huis van Agab, insluitende Isebel, sou doodmaak – vgl. 2 Kon. 9), asook deur
die profetiese bediening van Elisa (v.16-17 – vgl. vgl. Hos. 6:5.).
Die HERE het ook die belofte gemaak
dat hy 7000 (volmaakte getal van uitverkorenes uit genade: 7x10x10x10 – vgl.
Rom. 11:4-5) in Israel sal laat oorbly wat nie die voor Baal gekniel en hom
gesoen het nie. Elia het toe weggegaan en Elisa gekry waar hy besig was om te
ploeg met 12 paar osse en hyself by die twaalfde paar. Elia het toe by hom
verbygegaan en sonder ’n woord sy mantel op hom gegooi - ’n simbool dat hy geroep
word om Elia te volg en die roeping as profeet te aanvaar. Elisa het die gebaar
verstaan en toe die osse verlaat en agter Elia aangeloop en gevra om tog net sy
vader en moeder te groet met ’n soen voor hy hom volg. Elia het hom toegelaat,
maar daarop gewys dat hy moes besef wat die roeping van God beteken (v. 18-20). Elisa het toe so gedoen en toe ’n
besondere ding gedoen. Hy het sy paar osse geslag en met die osse se trekgoed,
het hy die vleis gekook. Dit was die teken dat hy alles onherroeplik opgegee het
vir sy nuwe roeping. Hy het (let wel) daarmee feesgevier en aan die ander mense
gegee om saam met hom te eet. Daarna het hy Elia gevolg en hom gedien (v.21).
Besprekingsvraag: Wat beteken dit hier dat God in die gesuis van ’n koelte is?
Insig: God praat
hier met Elia soos met Moses, oor die afvallige volk. Dit breek wel Elia se
hart, soos dit later ook Paulus se hart gebreek het (vgl. Rom. 9:1-6). Afvalligheid
is iets om oor te huil en hardnekkige afvalligheid soveel te meer. Dit is ook 'n wekroep om te besef dat ontkerstening kan saamgaan met veragting van die verbond, die kruis van Christus, asook vervolging tot die dood. Ons moet die
parallel tussen Elia en Paulus raaksien oor die worsteling oor ’n hardnekkige
volk wat hul Here nie wil ken nie, selfs na groot wonderwerke. Dit help ons ook
om die funksie van Rom. 9-11 beter te verstaan. Maar ons leer ook deur Elia en
Paulus se skynbare mislukking in die bediening onder hul eie mense dat God hulle
dra en voed en versterk, tot in die woestyn. Ons moet ook leer om telkens
verfris en versterk te word in God se genade. Hoogtepunte kan maklik omslaan in
teleurstelling en dan moet ons leer om telkens weer by God self uit te kom. ’n
Mens kry die indruk dat Elia deur sy woestyntog teruggaan op die spore van
Israel en die Here se pad met hulle. Hy probeer sin maak van God se beloftes en
moet by God self uitkom vir sy antwoorde. Wat leer hy? God werk op sy tyd en sy
manier en ons moet leer om daarby in te val. God se oordeel is wel ’n
werklikheid, maar hier sou dit eers duidelik word in die tyd na sy dood. Dit is
insiggewend om te leer dat Elisa na wie Elia eerste gegaan het, eers later die
instrumente van oordeel, Hasael en Jehu salf. God se werk is soveel groter as
ons en ons eie beperkte leeftyd.
Elia is ook nie die laaste profeet in
God se werk nie. Hy is die eerste groot vervulling van Moses se woorde dat God
’n profeet soos hy vir die volk sal gee (Dt. 18:15). Soos Moses gaan Elia ook
na Horeb, is ook veertig dae en nagte sonder kos, en verskyn op besondere wyse
voor God se aangesig oor die verbondsverbreking van die volk. Later verskyn hy
saam met Moses op die berg van verheerliking saam met Christus. Hulle is die verteenwoordigers
van die wet en profete en wys ons waarop hul bediening uitloop. Profetiese werk
is altyd gerig op die groot Profeet, Jesus Christus. Daar is ook ’n verder ’n korrelasie
tussen Elia en Elisa aan die een kant, en Johannes die Doper en die Here Jesus
aan die ander kant. Johannes kom in die gees en krag van Elia, trek selfs soos
hy aan (vgl. Mrk. 1:7; 2 Kon. 2:8; Luk. 1:17; Mat. 11:14; 17:12), en wys op die
oordeel van God. Wanneer Johannes in die tronk begin twyfel aan die bediening
van die Here Jesus, wys Hy op wonders wat die woorde van die profeet Jesaja
vervul (Jes. 35:5,6), maar ook op die werke en genade wat Elisa se wonders vervul
(Mat. 11:4-5; Luk. 7:22). Elisa se bediening het ’n genade-kant wat skitter, te
midde van die oordeel. Dit is nog soveel te meer waar van die Here Jesus. Hy
het nie gekom om te oordeel nie, maar om te red. Wie in Hom glo word nie
veroordeel nie (Joh. 3:17-18). Hy is die rede dat ons God soos ’n sagte koelte
mag beleef, soos Hy eens met Adam en Eva gewandel het (Gen. 3:8). Wie nie in
Hom glo nie, maak hul oordeel wel soveel swaarder.
Daar kan egter nie halfhartig met God
se koninkryk omgegaan word nie – nie by ons nie en ook nie by hulle wat in ons
spore volg nie. Ons leer by Elisa dat dissipelskap en werk vir die koninkryk
nie halfhartig kan wees nie. Elisa vra om sy ouers te groet en dit word hom
toegestaan, anders as wat die Here Jesus later ’n voornemende dissipel antwoord
(vgl. Luk. 9:61-62). Die eenvoudigste verklaring is dat die dissipel
verskonings gesoek het en Elisa nie en dat die Here Jesus moontlik juis op Elisa
se reaksie gesinspeel het met sy antwoord. Elisa het sy osse geslag en sy
werktuie as brandhout gebruik en dit was ’n baie duidelike gebaar dat Elisa alles
opgee vir diens in die koninkryk. In terme van skaarste en beperkte tegnologie
het Elisa in ons terme honderde duisende en sy eie lewensonderhoud prysgegee. Hy
doen dit ook feestelik. Want God se koninkryk is ’n voorreg en ons kan telkens
weer verfris word deur gemeenskap met Hom. Ons sien dalk nie altyd die
resultate wat ons verwag het nie, maar in Hom het ons alles en dit wat ons
prysgee is ter wille van soveel meer. En dit is ook goed vir ons groei in Hom
te leer om telkens in lyn te kom met God se wil wat goed en welgevallig en
volmaak is. Wat ons wel weet, ook as dinge nie sin maak nie, is dat sy oordele op
sy tyd en sy manier, ’n werklikheid is. En dat ons intussen God reeds in Christus
mag ken as die gesuis van ’n sagte koelte.
Werke geraadpleeg:
P. Leithart. 1&2 Kings. Brazos
Theological Commentary.
J.
Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year C.
T.
Merida. 1&2 Kings. Christ Centered Exposition.
Matthew Henry.