Gedagte vir kinders: Roep die Here aan as dit swaar gaan en jy Hom
nogtans dien.
Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se
wet en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik aan die
hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van die
alfabet het dan agt verse wat met daardie letter in die Hebreeus begin om te
praat- met God oor sy wet. Dit gaan dus
in ons taal oor die A tot Z van God se wet, in gebed. God se wet gaan hier
oor God se omvattende onderrigting aan Israel. Daar is in werklikheid agt verskillende woorde wat God se wet telkens
beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt beskrywings gebruik, maar
elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten minste ses van hierdie
woorde.
Ons lees in vers 153 onder die Hebreeuse letter,
Resj, dat die Psalmis hier vra dat die HERE tog sy ellende sal raaksien en hom
sal red, omdat hy die HERE se wet (thora
-onderrigting/instruksie) nie vergeet nie (v.153). Hy gaan verder en vra dan
spesifiek dat die HERE hom lewend sal maak volgens sy belofte (imra -
vgl. v.154). Hy bely dan dat die heil (verlossing) ver van die goddelose is
omdat hulle nie die HERE se insettinge (choqim - dekrete) soek nie
(v.155). Hierna is die Psalmis verder in gebed. Hy erken dat die barmhartighede
van die HERE menigvuldig is en vra dan weer dat hy lewend gemaak sal word.
Hierdie keer vra hy dat dit sal gebeur deur die HERE se verordeninge
(regverdige bepalinge/oordele - mishpatim).
Die Psalmis wys dan daarop dat hy vervolgers en
teenstanders het en dat hulle baie (talryk) is. Tog se hy in sy gebed dat hy
nie van die Here se getuienisse (statute - edot) afgewyk het nie. Hy
gaan verder in sy gebed en wys daarop dat hy die mense gesien het wat troueloos
handel. Hy maak dan in sy gebed ’n sterk stelling en sê dat dit hom gewalg het
dat die trouelose mense nie die HERE se woord (dabar) onderhou nie
(v.158). Hy vra dan dat die Here sal aanskou dat hy sy bevele (mitsvot) liefhet en dan vra hy weereens om lewend gemaak
te word, hierdie keer volgens die HERE se goedertierenheid (chesed – troue verbondsliefde v.159). Hy
sluit hierdie gedeelte af en bely voor die HERE dat die hele inhoud van sy
woord (dabar) waarheid is en dat al sy regverdige verordeninge (ordinansies/oordele
- mishpatim) tot in ewigheid is (v.160).
Besprekingsvraag: Wat is die verskil in kenmerke hier tussen die getroues
en die ontroues?
Insig: Hoe nader ons aan die einde van hierdie gelade Psalm beweeg, hoe intenser en dringender word die woorde. Ons begryp dit, want ons beleef ook sekere node op sekere tye intenser in ons lewe. Saam met die Psalmis beleef ons die behoefte, op ons hart gedruk deur die Heilige Gees, aan uitredding deur niemand anders as God self nie. Die Psalmis praat van sy ellende. Dit kan wees as gevolg van omstandighede of eie sonde (vgl. Ex. 3:7-8; Klg. 1:9). Hier is wel duidelik sprake van daadwerklike vyande (v.157).
Hulle is nie net veraf nie, maar staan vyandig en kla aan en vervolg
(v.154;157). Die satan en sy magte en die wêreld vind dikwels rede om vyandig
te raak, want die basiese agenda verskil radikaal van die kinders van God. Die
woord ellende kan ook met beproewing vertaal word (KJV: afflictions). Ellende en peproewinge word die gelowige nie gespaar
nie en dit kan soms vreet aan jou siel. In
sulke omstandighede moet ons weet waarheen om te gaan (Jak 5:13; Jes. 43:26). En
die bedoeling is nie bloot verligting nie, maar uitkoms (v.153-154; vgl. Ps.
50:15). Daarin deel gelowiges reeds in beginsel. Hulle advokaat en Losser (vgl.
Voorspraak van 1 Joh. 2:1; Go’el in Ou Testament: familielid wat toetree tot
benoude omstandighede) is in die hoogste hof waar hy vir hul intree) is in die
hemel en boonop beskerm en onderhou Christus as Koning ook sy Kerk. Daarom kan
ons vrymoedig wees en word ons ook opgeroep om na die genadetroon te gaan.
Naas die uitkoms waarom gebid word, het ons hier ’n besondere
bede wat drie maal in die gedeelte herhaal word: “maak my lewend...” Die
Psalmis bid om opgerig en herstel te word en om die ervaring van nuwe
lewenskrag in sy situasie. Kyk mooi hoe hy dit telkens vra: Maak my lewend
volgens u belofte ...[vanuit u menigvuldige] barmhartighede ... volgens u
veroderdeninge ... na u goedertierenheid (v. 154, 156, 159). Hierdie lewendmaking
word dus gevra met beroep op die Verbondsgod se beloftes, sy menigvuldige barmhartighede,
en word gemeet aan sy verordeninge. Ten diepste word dit begrond in sy chesed – sy verbondstrou, sy lojale
liefde, sy goedertierenheid. Gelowiges kan nie in hulself stand hou nie, en hul
kom by plekke waar hulle baie nodig het om te beleef hoe die getroue God self
nuwe krag gee (vgl. Jes. 40:31). Die goeie nuus is dat Hy dit gee. Elke Sondag vier
ons opnuut die onvernietigbare lewe wat God deur die kruisiging en opstanding
van sy Seun gegee het. Dit is nou al werksaam en daarom mag ons sy vernuwing
telkens weer van hom afbid. Ja, ons word opgeroep om dit by Hom te gaan haal
deur die gebed.
Wie mag hierdie wonderbare weg ken? Die eenvoudige
antwoord is elkeen wat getrou en eg met God in sy verbond lewe. Die bewys dat dit
eg is, kom telkens deur in die gedeelte: u wet vergeet ek nie, van u getuienisse
wyk ek nie af nie ... dit walg my dat hulle u woord nie onderhou nie....
aanskou dat ek u bevele liefhet ... die hele inhoud van u woord is waarheid en
al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid (v.153, 157-160). God se Woord
is hier kosbaar, want dit resoneer met ’n hart in wie die wet van die HERE
gegee is. Die Psalmis self is nie volmaak daarin nie, maar wys wel heen na
Christus van wie dit volkome waar was, en kyk net waaruit is Hy gered, vir ons.
Deur sy Gees leef die ware gesindheid ook in die Psalmis en elke gelowige se
hart. Daarom het die gelowige ook behae in God se Woord. Veral Protestante kan
hierby aansluit en daarop wys dat nie die duiwel nie, maar die genade, in die
detail van die Woord lê. Dit het niks te make met wettisisme of moralisme nie,
maar eerder met lojale en opgewonde lewe in die verbond. Dit gaan oor iemand
wat as seun of dogter van God hulle hart vir die Here gegee het om hulle te vul
met sy ewige Woord (Spreuke 23:26).
Hierteenoor staan die goddelose, waarvan sommige hier
moontlik selfs binne die belydenis van ’n verbond met God staan. Hulle kenmerke
word hier ook duidelik beskryf. Hulle soek nie die Here se insettinge nie, is vyandig
teenoor God se kinders, handel troueloos, is vervolgers en teëstanders van
getroue verbondsmense, en hou nie die HERE se Woord nie (v. 155,157, 158). Dit
is duidelik dat hier ’n totaal ander visie aan die orde is. Ons word opgeroep
om ondersoek in te stel en te antwoord: Is jy trou aan die God van die verbond
en aan sy kinders, of is jy teenstander? Watter beskrywings is waar van jou
lewe? Net die een groep kan ware uitredding en lewendmaking beleef. Ons word
opgeroep om die ware verbondslewe wat hier geskets word proefondervindelik te
leer ken. Jy word opgeroep om God se Woord en uitkoms en lewendmaking te ken,
sodat jy teenoor ander kan getuig dat hierdie Psalm eg en waar is en waarlik rigting
gee in benoudheid.
Werke geraadpleeg:
Grogan,
G. Psalms (Two Horozons Old Testament Commentary – THOTC).
Ash, C.
The Psalms: A Christ-Centered Commentary, Volume 3.
Donner,
JH. De Psalmen, Psalm 1-72.
Reardon,
PH, Christ in the Psalms.
Alkin, Daniel L. Exalting Jesus in Psalm 119.
Keller, Tim en Kathy. The Songs of Jesus.
Matthew Henry.