Lees: Hand. 5:27-42
Gedagte vir kinders: Gehoorsaamheid aan God is belangriker as enige menslike wet.
Oorsig: In Handelinge 5 lees ons van die
voortgaande werk van die apostels in Jerusalem. Die hoëpriester en die Sadduseërs
was afgunstig en het hulle in die tronk laat gooi, maar ’n engel van die Here
het hulle uitgelei en gesê dat hulle in die tempel aan die volk die woorde oor
Jesus Christus moes vertel (5:17-20). Die hoëpriester het hulle toe weer by die
tempel laat haal en voor die Joodse Raad, die Sanhedrin, gestel. Die
hoëpriester het gevra waarom hulle uitdruklik nie luister nie en steeds in die
Naam van Jesus leer. Hulle het, inteendeel, die hele Jerusalem met hulle leer
vervul (let wel) en die skuld vir Jesus se dood op die geestelike leiers
geplaas (v.27-28).
Petrus en die apostels het toe
geantwoord dat hulle aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense (v.29).
Hulle het toe weer getuig dat die God van hulle vaders (let wel) Jesus opgewek
het, die Een wat hulle (let wel) omgebring en aan ’n kruis(hout) laat hang het.
Dit is Hy wat God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog het om
sodoende aan Israel bekering (let wel) en vergifnis van sonde te skenk (ook
hierdie leiers, v.30-31). Hulle was getuies van die dinge en ook die Heilige
Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Die lede van die Raad was
egter woedend toe hulle dit hoor en wou hulle doodmaak (v.32-33). Toe het ’n Fariseër
met die naam van Gamaliël, ’n leraar van die wet, ook van Paulus, en wat by die
hele volk in aansien was, in die raad opgestaan
en gevra dat die apostels buitentoe geneem moes word (v.34).
Gamaliël het die Raad toe as “Israeliete”
gewaarsku om op te pas wat hulle gaan doen. Hy het gewys op Theudas wat gesê
het dat hy iets besonders was en op 400 mense wat by hom aangesluit het. Hy het
ook gewys op Judas die Galileër in die dae van die inskrywing wat ’n
aansienlike getal afvalllig gemaak het. Hulle het egter altwee omgekom en die
wat na hulle geluister het is uit mekaar gejaag en verstrooi (v.35-37). Daarom
het Gamaliël vir hulle gesê om die apostels uit te los omdat hulle leier ook mos
reeds dood was. As die apostels se voorneme of werk uit mense is, sal dit soos
die ander vernietig word (v.38). As dit egter
uit God was, sou hulle dit nie kon vernietig nie. Dan sou dit beteken dat hulle
selfs teen God stry (v.39). Hulle het
toe na hom geluister maar tog die apostels ingeroep en hulle probeer afskrik
deur hulle (1) te slaan en (2) te beveel om nie in die Naam van Jesus te preek
nie en hulle toe laat gaan (v.40). Die apostels het toe weggegaan, (1) bly dat
hulle waardig geag is om vir die Naam van Jesus Christus oneer te ly. Hulle het
ook (2) nie opgehou om elke dag (2.1) in die tempel en (2.2) van huis tot huis, (2.1.1
en 2.2.1) te leer nie, en (2.1.2 en 2.2.2) die evangelie te verkondig dat Jesus
die Messias (Christus) is (v.41-42).
Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik
is?
Insig: Ons het hier een van vele gevalle in die Woord waar die Engelse uitdrukking, “speaking truth to power” na vore tree. Die waarheid wat hier gespreek word, gaan egter dieper, omdat dit wentel om die Naam van Hom wat die Weg die Waarheid en die Lewe is (vgl. Joh. 14:6). Dit gaan oor die sentrale punt van reddende waarheid waarin die God van Israel vir Jesus Christus opgewek het nadat Hy gekruisig is en deur sy regterhand verhoog het om aan Israel en aan die nasies bekering en vergifnis van sonde te skenk, en dat die Heilige Gees hierdie waarheid bevestig. Dit gaan dus oor die evangelie van die Drie-enige God wat hier voortbou op dit wat in die Ou Testament geopenbaar is.
Daarom het die apostels ook die vrymoedigheid gehad om
hierdie bevrydende waarheid oor die Messias by die huise van die Israeliete asook
by die tempel te verkondig (v.42). Ja, hulle vul die hele Jerusalem met hierdie
sentrale waarheid en dit behoort die Kerk van Christus vandag nog aan te spoor
om ook ons omgewing daarmee te vul. Vir hierdie doel moet ons ook nie nalaat om
ook die digitale media van ons tyd
daarvoor te benut nie.
Maar let ook op die persoonlike
betrokkenheid van die apostels asook op die persoonlike toepassing hier. Die apostels
hou nie terug om die aandadigheid van die geestelike leiers aan te toon nie.
Dit is nie dat hulle bloot wil verdoem nie. Hulle verkondig die heerlike tyding
van Hom wat die dood oorwin het en nou bekering en vergifnis van sonde kan
skenk, ook aan hierdie leiers. Hy is die ewige Koning aan die regterhand van
die vader, maar hy is ook die ewige priester volgens die orde van Melgisedek (Ps.
110; Hebr. 7-8) wat beide bekering en vergifnis skenk. Maar dit veronderstel
dan dat daar ook egte belydenis sal wees oor egte oortredinge wat nie bedek
word nie. Slegs so, in en deur Hom, kan ons van alle ongeregtigheid gereinig
word (vgl. Spr. 28:13; 1 Joh. 1:9).
Daarom kan die apostels enersyds nie stilbly oor die duidelike
oortreding van die geestelike leiers nie (vgl. Joh. 19:11), maar andersyds vanweë
die kragtige versoening ook die hoop na hulle uithou wat onder oordeel is. Dit
gee ons ook ’n wenk van hoe ons met twee gesigspunte teenoor alle mense en
magte hierdie evangelie mag bedien. Maar dit kan net vir ons elkeen gebeur
wanneer die persoonlike sonde in die oë gekyk en dit dan na die verhoogde
Heiland van die evangelie geneem word in wie ons die wonder mag vind dat
bekering ons vind.
Wanneer hierdie waarhede ook van
toepassing gemaak word op die vlak van hoë gesag en van owerhede en nasies en
selfs ryke, beteken dit noodwendig dat vrae ontstaan oor hoe ons God se gesag
teenoor mense se gesag beskou. En wat gebeur wanneer gesag misbruik word en hierdie
sentrale waarheid oor die verhoogde Heiland nie geëer word in gesagsinstansies
en owerhede nie. Dit kan gebeur dat ’n mens, maar ook ’n hele kultuur-stelsel “Godvegters”
(Schreiner; vgl. theomachoi) word wat
teen God se waarheid stry. Ons sien dit in die Bybel reeds by diegene soos Farao
en Agab en Isebel, en deur die geskiedenis heen was daar telkens nuwe
voorbeelde. Dit gebeur selfs in die Kerk soos by Luther teenoor Karel V op die
Ryksdag van Worms (Pelikan). Daarom het dit spreekwoordelik geword om, wanneer
dit daarop aankom, aan God meer gehoorsaam te wees as aan menslike verordeninge.
Dit roep die kwessie van moontlike martelaarskap na vore en verplig ons om diep
na te dink oor die koste van die dissipelskap en kompromie. Dit hou direk verband
met ons gewete en dit wat die Woord van God duidelik leer. In die geskiedenis
en tradisie het dit gegaan oor enige verbreking van die morele orde en skending
van mense se menswees wat na die beeld van God geskape is. Meer spesifiek meen
sommige dit gaan oor enige beginselsaak wat duidelik teen die Woord van God is.
Maar in sy diepste kern gaan dit veral om die evangelie-waarheid oor Jesus
Christus as die gekruisigde Messias en Here wat die dood oorwin het. Daar is
soveel lande en owerhede en gesagsinstansies wat hieroor wetgewings het wat dit
ondermyn. Dit lei dan ook tot allerhande vorme van intimidasie van gelowiges en
daarom moet ons luister wat die apostels hier doen onder leiding van die Gees
voordat die vervolging in volheid uitbreek.
Ons sien hier ’n soort tussenfase
raak tussen volle martelaarskap wat by die breekpunt verby is soos Stefanus in
die volgende hoofstuk, en dit wat hier nog opbou. Soms is dit juis die moeilike
deel waar dinge nog hangend is na die een of ander kant toe. Hier word daar
word nie doodgemaak nie, maar beveel en gedreig, nie tot die dood toe vervolg
nie, maar wel geslaan om te intimideer. Veral die leiers van gemeentes moet
kennis neem aangesien die apostels hier deur hul blye dog onverskrokke en
ywerige leiding die gesindheid van ander aangevuur het. Ons sien by hulle iets
raak wat vandag “antifragile” genoem word (Taleb; vgl. Schreiner). In ’n kultuur
wat erg ingestel was op eer en skaamte, het mense soms selfmoorde gepleeg as
die skaamte in die kultuur ondraaglik geword het. Die apostels toon egter
eerder blydskap oor die vervolging en sien raak dat hulle waardig geag is om
vir Christus te ly (vgl. Mt. 5:10-12; 1 Pt. 1:6; 4:13; Rom. 5:3; 2 Kor. 6:10).
Hulle gaan ook ywerig voort om dit te doen wat hulle nog altyd gedoen het en laat
intimidasie nie toe. Die Kerk van Christus kan miskien vervolging begin beleef,
maar dit kan steeds gedy te midde van skynbare chaos en dreiging en seerkry. Hier
beskik die Here Gamaliël, waarskynlik in die tradisie van die sagter benadering
van die Hillel-denksool, om nie hier tot die uiterste toe oor te gaan nie. Deur
die geskiedenis was daar in God se beskikking dikwels ook sulke figure. So leer
ook ons hoe om oor nuwe bewegings en opstande te dink. Die toets is dikwels wat
gebeur as die voorbokke nie meer daar is nie. Maar dit bevestig ook waarom
niemand die Kerk van Christus kan stuit nie. Want Hy het die Leidsman geword
wat die dood oorwin het en Hy sit aan die regterhand van die Vader totdat al sy
vyande gemaak is ’n voetbank vir sy voete. Intussen kan daar steeds nuwe martelare
wees. Maar Hy wat op die troon is om te oordeel, sal in tyd en ewigheid oordeel
oor hulle wat sy oogappels aanraak, hulle wat Hy met sy eie bloed gekoop het.
Werke geraadpleeg
Patrick
Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary
Jaroslav
Pelikan, Acts: Brazos.
Ben
Witherington, The Acts of the Apostles.
William Kurtz, Acts of the Apostles.
N.T. Wright, The Challenge of Acts.