Gedagte vir kinders: Jesus bring deur sy redding geloof
en dankbaarheid in ons lewe.
Oorsig: Vanaf Lukas 9 tot 19 lees ons van die Here Jesus se pad na
Jerusalem – daar waar Hy vir ons sonde sou sterf. Hier verneem ons van die
vierde van vyf wonderwerke wat hy gedoen het op daardie pad (vgl. 11:14;
13:10-13; 14:1-4; 18:35-43). Dit het gebeur toe Hy op die grens tussen Galilea
en Samaria was (v.11. vgl. NAB). Toe Hy in ’n sekere dorp ingegaan het, het 10
melaatse manne Hom tegemoet gekom wat op ’n afstand bly staan het (v.12).
Melaatse mense se siekte was aansteeklik en kon wissel van permanente skurfte
tot erge swere, en self tot ledemate wat
septies word en afval. God se wet het bepaal dat sulke mense vanweë die siekte nie
by hulle geliefdes en tussen ander nie, maar eenkant moes leef (Lev. 13:45-46;
Num. 5:2-3). As hulle ’n wonder beleef en wel gesond word, moes die priester
dit eers bevestig en dan kon hulle na bepaalde offers weer vry saam met ander leef
(Lev. 13:18-28; 14:1-11).
Hierdie 10 melaatse manne het hard geroep en Jesus Meester genoem en gevra dat Hy hulle genadig sal wees. Toe die Here Jesus hulle sien, het Hy vir hulle gesê om hulle aan die priesters te gaan vertoon. Dit kon hulle net doen as hulle moontlik gesond was. Hulle moes Hom dus op sy Woord neem dat Hy hulle op afstand gesond kon maak en solank begin loop na die priesters wat die genesing kon bevestig.
Hulle het geluister en terwyl hulle weggaan, het hulle gesond en daarom ook rein geword (v.13-14). Die wet het melaatse mense in die Ou Testament onrein verklaar, en daarom was mense wat gesond geword het, dan ook weer rein.Een van die tien het, toe hy sien dat hy gesond was,
omgedraai na die Here Jesus toe en (1) God
met ’n groot stem verheerlik. Hy het (2) op sy aangesig by Christus se voete
geval en (3) Hom gedank. Hierdie man was
’n Samaritaan (v. 15-16). Die Samaritane was van Samaria en was die mense wat
hulle godsdiens by die heidene aangepas het toe hulle agtergelaat is toe die
Israeliete se gesiene mense na Babel weggevoer is (vgl. 2 Kon. 17:24-41). Die
Here Jesus het na hierdie man se dank, gevra of daar dan nie tien mense was wat
rein geword het nie en waar die ander nege was. Hy het gevra of daar dan
niemand onder hulle te vind was wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie
man wat nie eens ’n Jood was nie (“vreemdeling” - vgl. v.17-18). Hy het toe met
die man gepraat en bevel gegee om op te staan en te gaan en hom verseker dat sy
geloof, bedoelende die Een in wie Hy geglo het (die “’wie” en “wat” saam met
die “dat” van sy geloof - inhoud van sy geloof), hom gered het (v.19).
Besprekingsvraag: Wat maak ons as die aanbidding in ons lewe of ons gemeentes
opdroog?
Deur die eeue heen word gelowiges gekenmerk deur twee belangrike
kenmerkende – geloof en dankbaarheid in Christus. Hierdie wonder bied ’n
besondere prent hiervan. Geloof en dankbaarheid tree egter nie op sigself na
vore nie, maar in kontak met wie Christus is en wat Hy doen. Hy is hier reeds deur
die leiers verwerp, en tog, wanneer daar nood is, gee Hy steeds gehoor. Hy
bevestig dat Hy naby die is wat Hom aanroep en dat Hy gewillig is om te help
wanneer mense glo en gehoorsaam. Hy bevestig ook dat Hy op afstand kan red deur
net ’n woord te spreek. Selfs diegene wat skynbaar dubbeld hopeloos is volgens sommige
mense (melaats en Samaritaan), word gehelp wanneer hulle Hom aanroep. Ja, sulke
mense beskaam ons soms. En hier leer die randfiguur ons dat dit nie net gaan om
gehelp te word nie, maar om ’n erkentlike verhouding met Hom wat uitredding
gebring het (vgl. Ps. 50:15).
Geloof en dankbaarheid in Christus kan nie anders kan as om
uitdrukking te vind in aanbidding nie. Ons kan dit ook so stel: God in Christus
deur sy Gees is die rede vir geloof en dankbaarheid, en geloof en dankbaarheid dring
weer tot ware aanbidding. Wanneer ons aanbidding opdroog, moet ons ondersoek
instel na waarom ons geloof en dankbaarheid getaan het. Dit kan herstel word in
hernude geloofskontak met die lewende God. Elke erediens is aanbidding wat meer
omvat as lering in die prediking. Die erediens is daarop gemik om ’n struktuur
en atmosfeer te bied waarin aanbidding en daarom geloof en dankbaarheid en lofprysing
“met ’n groot stem” (v.15; vgl. Ps. 33:3), kan floreer. Ja, ons kom ook erediens
toe om reiniging van gesindhede te beleef sodat geloof en dankbaarheid weer kan
gedy.
Die behoefte aan reiniging beteken dat ons almal sonder God
geestelik melaats is. Melaatsheid is in die Bybel ’n tipe wat heenwys na wat
die sonde aan ons doen. Dit ontneem ons gemeenskap met God en sy geheiligdes, en
veroorsaak wegkwyning. En tog ook: Dink net wat die sieklike melaatses moes
beleef toe hulle op Christus se Woord begin beweeg het na die priesters. Skielik
begin hulle gesond word en daarom rein. Dit is wat Christus nog steeds vir elkeen
doen wat Hom aanroep oor hulle sonde. Dit gebeur steeds deur sy Woord en bevel.
En wanneer ons in Hom vrygespreek word, kan ons ook in geloof en dankbaarheid leef
in elke nuwe uitdaging. Watter dinge is tans in jou lewe, ons lewe, wat opnuut die
struktuur van geloof en dankbaarheid in Hom vra? Roep God dan aan, beweeg uit
in die geloof, en eer Hom wat jou lewe verlos van die verderf en jou siel versadig
met die goeie (vgl. Ps. 103:3-5).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.