Lees:
Luk. 16:19-31
Gedagte vir kinders: Eerder swaar kry en die Here ken, as om
ryk maar verlore te wees.
Oorsig: Die Here Jesus het ’n besondere gelykenis aan die mense
vertel waarvan ons net in die evangelie volgens Lukas lees. Dit gaan oor die
ryk man en Lasarus. Daar was ’n ryk man wat klere gedra het wat gelyk het soos
die van ’n koning – pers stowwe (purper) en fyn linne. Hy was ook elke dag
vrolik en het soos ’n ryk man gelewe (v.19). Maar daar was ook ’n baie arm man
met die naam van Lasarus (die Griekse weergawe van die naam Elieser). Hy was vol
swere en het voor die ryk man se poort gelê. Lasarus het verlang om maar net
vol te word van die krummels van die ryk man se tafel maar net die honde (wat
waarskynlik wel die krummels geëet het), het gekom om sy swere te lek
(v.20-21). Ons lei dus af dat die ryk man hom moes gesien het maar nooit
werklik aandag aan hom gegee het nie.
Maar toe die bedelaar, Lasarus sterf,
het die ware lewe wonderlik vir hom begin. Hy is deur die engele weggedra na
die bors van Abraham (v.22. NAB: die ereplek langs Abraham). Die ryk man het
ook gesterwe en is begrawe. Van Hom lees ons net dat hy sy oë in die doderyk
opgehef het en in smarte was. Hy het Abraham van ver gesien met Lasarus aan sy
bors (v.23). Die man roep toe Abraham aan as vader, soos die Jode vir Abraham
genoem het, en vra dat hy barmhartig sal wees en Lasarus sal stuur (hy het hom
dus herken) om die punt van sy vinger in water te steek en sy tong te kom
verkoel, want hy het baie swaargekry in die vlam (v.24).
Abraham het toe geantwoord dat hy reeds sy goeie dinge in sy lewe ontvang het en Lasarus die slegte. Nou was alles omgekeer en Lasarus is getroos, maar die ander man het smarte gely. Meer nog, dit kon nie omkeer nie, want Abraham het gewys op ’n groot kloof sodat niemand in staat was om van die een kant oor te gaan na die ander kant nie (v.25-26). Die man het toe gevra dat Lasarus dan wel na sy vader se huis toe moes gaan om sy vyf broers dringend te waarsku, sodat hulle nie saam met hom in daardie plek van pyniging sou beland nie (v.27). Abraham het toe geantwoord dat hulle die Ou Testament het (Moses en die Profete). Die man antwoord toe dat as iemand uit die dode na hulle gaan, hulle hul wel sal bekeer (v.28-29). Abraham het egter geantwoord dat as hulle nie na Moses en die profete luister nie, hulle ook nie oortuig sou word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan (v.31).
Besprekingsvraag: Hoe was Abraham anders welgesteld as die ryk man van
die gelykenis?
God se Woord, die Ou Testament
ingesluit, is baie kragtig. Nie eens tekens en wonders of selfs opstanding uit
dood, sal mense eerder tot bekering bring nie. Sondaars se harte is verdorwe en
’n wonderwerk is nodig deur God se lewegewende Woord. Daarom moet ons die Woord
van God hoog ag, omdat dit lewend maak asook koers aanwys (vgl. Ps. 19:8-15). Laat
ons mooi luister wat God se Woord oor rykdom en armoede, geloof en werke, leer
(vgl. Jak. 2:14-16). Abraham was self ryk en tog is hy en Lasarus in dieselfde
plek. Maar mense soos Abraham en Lot was diensbaar aan ander met hul rykdom
(vgl. Gen. 14; Job 19). Verder is die Skrif vol van opdragte
oor die armes (vgl. Deut. 14:28–29;
15:1–3; 7:12; 22:1–2; 23:19; 24:7; 25:13–14; Jes. 3:14–15; 5:7–8; 10:1–3;
32:6–7; 58:3, 6–7, 10; Jer. 5:26–28; 7:5–6; Es 18:12–18; 33:15; Amos 2:6–8;
5:11–12; 8:4–6; Miga 2:1–2; 3:1–3; 6:10–11; Sag 7:9–10; Mal. 3:5.). Die ryk man wat geweet het
om Abraham Vader te noem en wat Lasarus se naam was, het ook saam met sy broers
geweet van Moses en die profete. Maar hulle het nie geluister nie.
Daar kom ’n tyd wat dit te laat is om
op God se Woord ag te slaan. Ewige beslissings word in hierdie lewe gemaak wat
nie weer omgekeer kan word nie. Dit lei tot ’n lewe van ewige troos of ewige
verderf. Hoe tragies om hierdie lewe as die een en al te hanteer. Hoe
vertroostend om te weet dat hoe verskriklik dit ook al hier op aarde mag gaan,
daar kom ’n ewige troos waar alle trane afgevee sal word. Ons word daarom opgeroep
om elke dag baie bewus voor die aangesig van God en in die lig van die ewigheid
te leef. Sommige wys daarop dat hierdie gelykenis net ’n gelykenis is en dat nie
in alles letterlik verstaan moet word nie. Dit is hoogstens gedeeltelik waar,
maar dan moet ons onthou dat die gelykenis heenwys na dit wat nie minder nie,
maar nog meer letterlik waar is as die gelykenis self. Dit sluit die ewige
straf of vertroosting in. Daarom moet ons vandag as ons sy stem hoor, ons harte
nie verhard nie.
Dit is ironies om te hoor dat Lasarus
wat uit die dood opstaan nie sal kan help om ongelowiges te oortuig nie. Dit is
presies wat met ’n ander Lasarus gebeur het, en die mense wou hom toe doodmaak
(vgl. Joh. 12:10-11). Dit was juis die teken van Christus se groot oorwinning
oor die dood en daarmee ons regverdiging. En gelowiges wandel in die spore van
Abraham en glo in God wat die goddelose regverdig (Rom. 4:5,11-12). Christus se
opstanding is die bevestiging van Moses en die profete en dat ons skuld betaal
is. Hy het die versekering gebring dat die een wat in Hom glo, die ewige lewe
het en nooit sal sterf tot in ewigheid nie (Joh. 11:25-27).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.