Gedagte vir kinders: Jesus Christus roep ons op om ons geld te gebruik vir sy
Koninkryk.
Oorsig: Net na die Here Jesus se gelykenis van die verlore seun wat
sy pa se goed verkwis het, vertel die Hy ons van ’n onregverdige bestuurder wat
sy ryk meester se besittings ook verkwis het en toe aangekla is (v.1). Die ryk
man het dikwels in vertroue maar min van sy bestuurder se werksaamhede geweet
(vgl. Josef en Potifar), maar nou is gevra dat hy verslag moes gee van sy
bestuur en hy het reeds kennis gekry dat hy daarna nie meer bestuurder sou wees
nie (v.2). Die bestuurder het toe in homself gedink wat hy sou doen. Hy kon nie
regtig hande-arbeid soos spit doen nie, en was te skaam om sommer net te bedel
(v.3). Hy het toe sy plan so gemaak dat die mense wat by sy heer in die skuld
was, hom in hulle huise sou ontvang (v.4).
Hy roep toe die skuldenaars en vra wat hulle skuld. Die een
het 100 vate olie geskuld (+/_drie jaar dagloner-salaris). Die man het toe die
helfte van die skuld (50%) afgeskryf. ’n Ander een het 100 mud koring (+/_ nege
jaar dagloner-salaris) geskuld en hier het hy dit met 20% verminder na 80 toe
(v.5-7). Sommige verklaarders wonder of dit die deel was wat hy of die eienaar
telkens in hul eie sak gesteek het. Die ryk heer het interessant genoeg die
onregverdige bestuurder hieroor geprys omdat hy so verstandig opgetree het.
Sommige reken dit was omdat hy dit nie toe van sy skuldenaars kon terugeis
sonder ongewildheid nie en enige optrede teen die bestuurder sou met simpatie
beskou word. Dit was daarom ’n baie vernuftige plan. Ander is van mening dat
die ryk man hom geprys het omdat hy sy eie wins laat vaar het met die oog op die
toekoms. Hoe ook al, in beide gevalle wys dit iets van iemand wat op ’n slim
manier verlies aanvaar met die oog op die toekoms.
Die Here Jesus wys dan daarop dat sulke mense eintlik
verstandiger optree as die kinders van die lig (v.8). Hy het ons daarom opgeroep
om slim te werk met die onregverdige geldgod, Mammon, sodat ons ook vriende het
wat ons kan ontvang wanneer ons hierdie lewe verlaat (na die “ewige tente” -
v.9). Hy het ook daarop gewys dat as jy in klein dinge hieroor getrou en
regverdig is, jy ook in groot dinge getrou en regverdig sal wees, en omgekeerd.
Hy het ook daarop gewys dat as ons nie eens getrou kan wees met wat nie ons s’n
is nie, hoe ons dan met die ware goed van die koninkryk getrou sal wees wat bestem
is as ons eie (v. 10-12). Hy het ook daarop gewys dat geen huiskneg twee here
terselfdertyd kan dien nie. Daarom moet ons ook weet dat ons nie God en die
geldgod, Mammon, saam kan dien nie (v.13).
Besprekingsvraag: Bespreek die verskil tussen skelm en verstandig te wees in
die Koninkryk.
Ons word hier opgeroep om slim en strategies te werk met die oog op die toekoms, die toekoms van die ewige tente anderkant die dood. Ons weet hoe verstandig aardlinge te werk kan gaan om ’n goeie toekoms te verseker, so asof die mylpaal hierdie kant van die graf is. Die vraag is hoe ons strategiese toekomsplanne hierdie kant van die graf vergelyk met planne vir die ewigheid.
Dit wat nou aan ons toevertrou is, is toetsgrond en geleenthede vir
die ewigheid. Heidene gebruik die geestelike om aardse welvaart te dien, maar
Christene gebruik aardse besittings om hul geestelike erfenis te dien –’n offer
waardeur iets van God se integriteit en vrygewigheid en genade sigbaar word in
ons lewens.
Let op die afgodstatus van geld wat Christus hier aantoon.
Die liefde vir geld het ’n besondere vermoë om ons afvallig en korrup te maak.
Laat ons bewus wees van die mag wat dit op ons kan uitoefen. Kinders van die
Here kan tog nie as geldjagters bekend staan nie. Maar laat ons ook raaksien
dat Christus ons hierdeur wys hoe enigiets in God se skepping jou afgod kan
word. Geld word Mammon wanneer dit jou lewe beheer, maar net so kan skoonheid (Aphrodite)
of tegnologie (Techno?) of wat ook al, jou afgod word. HK 34 definieer afgodery
as enigiets wat in die plek van God of naas Hom gestel word. Afgode is ons
verleentheid, maar die lewende God bied ook die geleentheid om in moeilike
omstandighede ons ware vertroue in Hom en ons diepste visie uit te leef.
Daarvoor het Christus gekom om vir die vreugde wat voorlê, selfs die kruis te
verdra en die skande te verag, sodat ons deel aan die ewige erfenis kan hê
(vgl. Hebr. 12:2).
Daarom moet ons perspektief behou oor die aardse. Vir die
gelowige is dit net die begin en die poort na die ewigheid. Dit maak die aardse
baie belangrik, maar dan as weg na dit wat nog belangriker is, die “ewige gewig
van heerlikheid” (vgl. 2 Kor. 4:17). Hier leer ons ook dat die ewige selfs meer
konkreet is. Die aardse word beskryf in terme van “ander se goed”, maar die
ewige as “die grote”, “die ware goed” en “jul eie” (vgl. v.10-12). Vgl. Lewis
se gelykenis in The Great Divorce, waar die hemelse juis meer konkreet
is. As ons dan slim te werk gaan met die oog op die toekoms van die tydelike,
hoeveel te meer behoort ons nie wys om te gaan met die oog op die ewige nie.
Ons behoort strategies met ons hulpbronne planne te maak om die poorte van die
hel te bestorm. Ons behoort vir die wêreld ook met ons geld te wys dat die Kerk
van Christus omgee, sodat hulle vriende word, en dalk by Christus uitkom, omdat
hulle mense ontmoet het wat waarlik na Hom heenwys. Laat ons dan gee en belê in
die ewigheid.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.