2022/09/07

Die God wat deeglik soek en vind

Lees: Luk. 15:1-10

Gedagte vir kinders: God soek sy afgedwaalde kinders deeglik totdat Hy hulle vind.

Oorsig: Dit is baie insiggewend dat die tollenaars (belastinggaarders) en sondaars (met openlike sondige leefstyle) die gewoonte gehad het om na die Here Jesus te kom en na om

Hom te luister (v.1). Dit laat ons besef dat die Here Jesus iets anders uitgestraal het as die Fariseërs en die Skrifgeleerdes wat die godsdienstige leiers van die volk was, maar duidelik nie baie tyd gehad het vir mense wat afgedwaal het nie. Die wrede Romeinse regering het byvoorbeeld die tollenaars toegelaat en aangespoor om meer as die nodige belastinggeld van hulle eie volk te eis sodat hulle so die staat asook hul eie sakke kon verryk. En tog het die Here Jesus se bediening van ware geregtigheid ook hierdie mense aangetrek en Hy het hulle ontvang en selfs saam met hulle geëet. Om saam met iemand te eet beteken tog dat jy baie nou bande met iemand het. Die godsdienstige leiers was hieroor ontsteld en het gemurmureer (v.2)   

Die Here Jesus het toe aan hulle die gelykenis vertel van iemand wat 100 skape het en een verloor. Enige herder in daardie dae sou die 99 in die woestyn laat staan (waarskynlik by toesighouers) en agter een wat verlore is aangaan (1) totdat hy dit kry (v.3-4). Dit sou ook nie daar stop nie, maar hy sou die skaap (2) op sy skouers sit om terug te dra, en (3) dit sou met groot blydskap gedoen word. En as hy by sy huis kom sou hy nog verder (4) sy vriende en bure roep en vir hulle sê om saam met hom (waarskynlik deur ’n fees) bly te wees omdat hy sy skaap gekry het wat verlore was (v.5-6). Die Here Jesus het toe vir hulle verduidelik dat daar so blydskap in die hemel sal wees oor een sondaar wat hom bekeer, meer as die 99 wat die bekering nie nodig het nie (v.7).

Hierna het hy die selfde saak verder verduidelik deur die gelykenis van ’n vrou wat 10 pennings het en een verloor. In daardie tyd was een penning gelykstaande aan een dag se betaling (loon).’n Vrou wat een van haar 10 pennings verloor het sou tog in daardie dae (1) ’n lamp opsteek, (2) die huis uitvee, en (3) noukeurig soek totdat sy dit kry (v.8). Ook sy sou, as sy dit kry, haar vriendinne en buurvroue bymekaar roep en se om saam met haar bly te wees omdat sy die penning gekry het wat sy verloor het. Die Here Jesus het toe weer gesê dat daar so blydskap voor die engele van God is oor een sondaar wat hom bekeer (v.9-10).        

Besprekingsvraag: Het God in die Ou Testament alreeds sy hart vir afgedwaaldes openbaar?

Insig: Ons vind hier troosryke woorde oor die opsoekende hart van God. Die vraag is (1) of ons Hom hierin herken en (2) of die mense van die Ou Testament heeltemal verbaas hieroor moes wees. Wanneer ons God se openbaring aan Moses onthou wat later soveel keer herhaal is (vgl. Ex. 34:6-7), behoort ons mos reeds te weet dat Hy, hoewel Hy regverdig is en die sonde straf, ook die genadige en barmhartige God is wat lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou is. Hy het dan juis ’n weg deur die offers gebied om telkens in gemeenskap met Hom herstel te word en die Psalmiste sing hiervan (vgl. Ps. 32:1; 130:4). Jesaja het ook alreeds troos gebring oor God wat deur sy Messias sou kom om gevangenes van hul sonde vry te maak, lig in duisternis te bring,  en om sy skape te vergader, en innig te lei (vgl. Jes. 40:10; 49:8-9). Die leiers is ook vermaan omdat hulle nie ware herders oor die volk was nie en God het belowe dat Hy die wat verlore is sal soek (Es. 34:10-17). Is dit hoe ons oor die lewende God dink?

Dit is hierdie God wat die bron van die evangelie en blydskap is. Ons rus en fees is gevestig in Hom wat nie sal nie ophou soek totdat Hy sy afgedwaaldes vind nie. Dit behoort ’n bepaalde rustigheid te bring by die Kerk van Christus wat ook vandag met reg besorg is oor soveel gedoopte afgedwaaldes. Ons is instrumente in diens van Hom wat deeglik en volhardend soek en vind. Daarom is die Kerk se rus en blydskap gevestig in Hom wat effektief opsoek en vind en alles tot die feestelike einde sal bring en waar ons intussen reeds kort-kort juig oor elke sondaar wat tuiskom. Daar is dus afwagtende, uiteindelike, sowel as inbrekende blydskap. Ja, al was daar ook net een afgedwaalde - net ek of jy - sal God soek asof jy sy enigste kind is. Let ook op die aanvullende aksente oor blydskap in die gelykenisse. Die blydskap in die hemel is ook die blydskap voor die engele deur God self! (vgl. v.10 met v.7). Die skaap wat verlore was, word ook die persoonlike verlies van die penning “wat ek verloor het” (vgl. v.6 met v.9).

Wat is nodig om te deel in hierdie blydskap? Eerstens God wat soek en vind en daarmee saam in Hom ook die bekering van sondaars asook gelowiges wat inskakel om saam bly te wees. Christus was by uitstek hierop ingestel en ons lees dat sondaars en tollenaars aangetrek was na Hom. Dit mag ook geld van sy liggaam, die Kerk, wanneer hulle deur sy Gees in en uit Hom leef. So besef ons dat die fees van die Kerk altyd die fees is van die barmhartige en troue God wat deur sy Seun se offer raad het met sondaars en afgedwaaldes. Daarom moet ons waak teen bepaalde gedragskodes en formalisme en wat nie meer die opsoekende liefde en genade van God as fokus het nie. Dit beteken ook dat die Kerk ’n bepaalde styl sal vertoon wat met jubeling kan spreek van die God van verlorenes, en wat soek en vind en feesvier (vgl. Ps. 43:4).   

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.