Wanneer Christene oor beloning nadink, toon hulle gewoonlik gou ’n gesonde intuïsie. Die rede: Ons besef dat alles eintlik net genade is en dat beloning net binne hierdie atmosfeer van genade hanteer kan word. Daarom verkies gelowiges om met die oog op God eerder van genadeloon te praat.
Abraham as proto-tipe
Die woord genadeloon help ons om gelyktydig van genade en van loon te kan praat,
iets wat sonder die boodskap van die Bybel moeilik sin maak. Ons kan nie by al
die gedeeltes in die Bybel stilstaan wat oor genade en oor loon praat nie, maar
Abraham, die vader van ons geloof, is ’n belangrike proto-tipe om te illustreer
waaroor dit gaan. In Genesis 15:1 lees ons reeds: Ná hierdie dinge het die
woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is
vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” Maar wat het Abraham dan gedoen om
sulke loon belowe te word? Dit is hier belangrik om die apostel Paulus se
woorde hieroor te onthou. Paulus maak dit duidelik dat Abraham nie uit sy werke
geregverdig is nie (Rom. 4:2). Hy stel dit duidelik dat die loon aan Abraham
nie na verdienste toegereken is nie, maar na guns (Rom. 4:4). Ons verneem in
die boek van Josua dat Abraham geroep is uit ’n huis wat ander gode gedien het
(Josua 24:2). Die beloftes toe Abraham aanvanklik geroep is, was dus uit pure
genade (vgl. Gn. 12:1-3). Die wonderlike belofte dat in Hom al die nageslagte van
die aarde geseën sou word, het vooruitgewys na Jesus Christus in wie al die
geslagte geseen sou word. Dit was egter enkel deur God se genade dat hierdie
belofte gegee is.
En tog stel die Here later vir Abraham op die proef deur hom te beveel om sy enigste seun, Isak, te offer. En nadat Abraham bereid was om dit te doen stel die Here deur sy Engel dat Abraham sou beloon omdat hy bereid was om God te gehoorsaam te wees. Die belofte van ’n groot nageslag en dat die nasies van die aarde in Abraham se nageslag geseën sal word, word nou herhaal, maar hierdie keer ook gekoppel aan Abraham se gehoorsaamheid (vgl. Gn. 12:1-3; 22:18). Die vraag ontstaan dan nou watter soort loon dit is wat aanvanklik sonder verdienste gegee word en hier tog ook lyk of dit gekoppel word aan gehoorsaamheid. Dit is hier waar ons die woord genadeloon moet waardeer.
Daar
is loon op die gehoorsaamheid, ja, maar dit is tegelyk ook genadeloon aangesien
hierdie loon aanvanklik nie belowe is op grond van voorwaardes wat Abraham eers
moes nakom nie. Die gehoorsaamheid kon nie iets ekstra toevoeg nie, maar eerder
bevestig wat reeds in werking was. God se loon is ingebed in Hom en sy genade waar
Hy telkens die inisiatief neem, loon uit genade skenk, en waaruit later verdere
gehoorsaamheid en loon spruit.
Israel as kollektiewe proto-tipe
Hierdie selfde patroon sien ons ook in die lewe van die volk Israel. Die
Here maak dit baie duidelik dat Hy hulle nie gekies het omdat hulle so
voortreflik was nie (vgl. Dt. 7:7-8). En tog word hulle verantwoordelikheid en
gehoorsaamheid ook ingeskakel in die verbond: “En omdat julle na hierdie
verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou
die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy
sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou
liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die
aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan
jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.” (Deut. 7: 12-13).
Hierdie verbondsvloeke en verbondseeninge op grond van gehoorsaamheid of
ongehoorsaamheid kom besonder helder na vore in Deut. 27-28 en word verder
bevestig deur die lied van Moses in Deut. 32. Daar is natuurlik diegene wat op
grond van Galasiërs 3 hierdie verbondsgehoorsaamheid as voorwaardelik sien en
dat net Christus dit kan vervul en reeds vervul het. Tog is daar ook diegene
wat dit erken, maar ook steeds ’n deelnemende kant in die verbond sien as deel
van die verbondsgehoorsaamheid wat ons in die krag van Christus en die Gees
doen en juis daarom dat ons tot in Openbaring verneem van gelowiges se werke
wat beloon word (vgl. Op. 22:14).
Genadeloon sonder hefboom
Ons sien ook reeds in die Ou Testament dat dit duidelik word dat ons
gehoorsaamheid en verbondseëninge en loon nie in ’n een-tot-een verhouding moet
verstaan nie. Die uitnemendste voorbeeld is sekerlik die boek Job. Daar is ook
die boek Prediker en Psalms soos die bekende Psalm 73 wat worstel oor die
skynbare voorspoed van die goddelose. Dit word duidelik dat ’n mens moet oppas
om gehoorsaamheid te hanteer soos ’n hefboom waarmee jy God kan beweeg om na
jou sin te handel. Die loon word op God se tyd en sy manier uitgedeel soos dit
Hom behaag. Maar selfs hier bly die loon nie uit nie. In tyd en in ewigheid
word dit voltrek, maar altyd afhanklik van sy wil in elke geval.
In die Nuwe Testament sien ons hoe die kwessie van genade en loon verdiep.
Dink maar aan ons Here Jesus se gelykenis van die arbeiders wat op verskillende
ure gehuur is en dieselfde loon ontvang het (Mt. 20:1-16). Daar is egter ook ander
gelykenisse waarin daar duidelik sprake van genadeloon is: “En elkeen wat een
van hierdie kleintjies net ‘n beker koue water laat drink, omdat hy ‘n dissipel
is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie. (vgl.
Mt. 10:40-42); En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde
wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die
minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.”(Lk. 19:16-17).
Hierdie oorwegings bring natuurlik ook die kwessie van valse loon na vore.
Omkoopgeskenke is ’n goeie voorbeeld van valse beloning en daarteen waarsku die
Skrif dikwels (vgl. Jes. 1: 23; 27:25; Ps. 15:5). Ons word ook opgeroep om
kwaad met goed te vergeld en nie goed met kwaad nie (1 Sam. 24:17-19; Ps. 7:4;
Spr. 17:13; 25:21-22). Ons moet ook nie dink dat ons God kan omkoop nie (Dt.
10:17).
In ons belydenisskrifte is die duidelikste gedeelte oor die kwessie van
genadeloon waarskynlik Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 24, vraag en
antwoord 63: “Verdien ons goeie werke dan niks nie, terwyl God hulle tog in
hierdie en in die toekomende lewe wil beloon? Antwoord: Hierdie beloning
word nie uit verdienste gegee nie, maar uit genade.” Die insiggewende is dat
die bewysplaas in die Skrif by hierdie gedeelte Lk. 17: 10 is: So ook julle,
wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is
onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te
doen.”
Gevolgtrekking en toepassing
Uit hierdie gedeeltes is dit duidelik dat die woord, genadeloon ’n besonder
kosbare woord vir die Kerk is, aangesien dit die woord is wat poog om om getrou
te wees aan die hele Bybel. Ds. Awie
Coetsee van die GKSA het dit by geleentheid besonder helder soos volg
verduidelik: ”Nee, dit gaan nie oor dienaarsloon gemeet aan pligte wat vervul
is nie. Dit gaan oor genadeloon uit liefde van die Vaderhart. Die vader gee
opdrag aan sy seun. Die vervul dit met liefde, flink, vinnig en met ywer. Dan
sê die vader: "Mooi so, my seun. Hier is vir jou 'n geskenk." 'n
Geskenk uit die liefde van die vaderhart. Nie ooreengekome loon volgens verdienste
nie, maar genadeloon.”
Die vraag is natuurlik watter toepassings ons hieruit kan maak vir ons
daaglikse lewens as Christene. Met ander woorde: Hoe word die Christelike
lewenswandel verryk deur hierdie perspektief? Ons sou eerstens die saak om kon
toepas op ouers en kinders. Ouers moet daarop bedag moet wees om verskillende
vorme van beloning met hulle kinders toe te pas. Kinders moet enersyds weet dat
beloning vir goeie dade gegrond is in ’n onvoorwaardelike ouerliefde. Nooit
behoort die kind te voel dat goeie dade die enigste manier is om pa of ma se
liefde te kry nie. Daarom behoort die kind ook by geleenthede te beleef dat
hulle iets verrassend kry, sonder dat hulle enigiets daarvoor gedoen word. Maar
soms kan harde werk ook inderdaad beloon word. Dit behoort egter ook afgewissel
te word met die feit dat jou kind maar ook soms mag beleef dat hulle harder as
die anders kinders bygedra het en tog steeds dieselfde beloning kry. En ander
kere kan hulle ook maar beleef dat daar geen voor die hand liggende beloning
dadelik is nie, en eers agterna besef dat hulle gesindheid getoets is. Hierdie
fasette sou ook van toepassing gemaak kon word op die verhoudings tussen
werkgewers en werknemers.
Die saak van geskenke tussen vriende vertoon ‘n ander struktuur, maar werk
eintlik met dieselfde uitgangspunte. Dit het veral aktueel geword met die
herwaardering van die geskenk in die twintigste eeu. Diegene wat geneig is tot
utopiese denke, het in die geskenk die teenvoeter teen kapitalisme gesien waar skynbaar
alles “verdien" moet word. Dit het egter gou by nadenke en eerlike
navorsing geblyk dat ook geskenke gee maklik kan ontaard in die verwagting van
teenprestasies, en indien dit nie gebeur het nie, kon dit ook lei tot oorlog.
Diegene wat dit ondersoek het, het tot die gevolgtrekking gekom dat geskenk
uitruiling die sinvolste plaasvind wanneer die teruggee van geskenke nie
dadelik gebeur nie, nie presies diselfde soort geskenk is nie, en wanneer die
tyd van teruggee sowel as die aard van die geskenk verrassend van aard is. Dit
is insiggewend dat ook hierdie strategieë iets van beide loon (teruggee) en
genade (verrassing) vertoon. Omkoopgeskenke is natuurlik die valse weergawe.
Hier gaan dit oor geskenke tussen mense in die geheim en waar die beloning dikwels
buite die maat met die guns is. Ten diepste moet ons ook daarteen waak om God
te probeer omkoop deur ons opofferings, goeie werke, goeie denke of goeie
gevoelens.[1]
Dit is om die hele saak van geregtigheid op valse gronde te bou. Dit geld ook
vir ons optrede teenoor ons naaste. Laat ons hierdie grondreëls onthou wanneer
ons geskenke vir mekaar gee. En laat ons dus altyd die oog op God hou en nie te
veel van mekaar te veel verwag nie.
Met die oog op ons hemelse Vader, kan ons ten slotte opmerk: Almal van ons
kom by plekke in ons lewe waar ons iets beleef, ja dikwels ’n baie flou
weergawe van Job se ervaring of die van Psalm 73, dat dit lyk of dit eerder
slegter met my gaan omdat ek die Here dien. En die Here neem ons daardeur om
die motiewe van ons harte te openbaar en die vraag te beantwoord: Nou waarom
dien jy nou eintlik die lewende God? Hy neem ons so deur ‘n proses waarop ons
duideliker begryp en waardeer wat genadeloon is. Hoe wonderlik wanneer ons saam
met die Psalmis van Ps. 73:25-26,28 by die regte gevolgtrekking
kan uitkom: ”Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op
die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my
hart en my deel tot in ewigheid…Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby
God te wees; in die Here Here het ek my toevlug gestel, om al u werke te
vertel.”
[1] Ek steun hier op die insigte van Margaret Visser se werk, The Gift of Thanks: The Roots and Rituals of Gratitude.
PS: 'n Geredigeerde weergawe van hierdie artikel het in Die Boodskapper verskyn.