Lees: Luk. 14:25-35
Gedagte vir kinders: Jesus vra ons hoogste liefde omdat Hy
Homself vir ons gegee het.
Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om daar vir ons sonde aan ’n kruis te sterwe. Op hierdie pad het hy met die mense oor allerhande dinge van die koninkryk van God gepraat. Baie mense het saam met Hom begin loop, maar die vraag was of almal se harte regtig met Hom was. Hy het Hom toe na die skare toe gedraai en vir hulle en vir ons uitgespel wat dit regtig beteken om saam met Hom die pad te stap. Hy het vir hulle verduidelik dat as iemand na Hom toe kom en nie sy naaste gesinsmense en selfs sy eie lewe haat nie, so iemand nie werklik sy dissipel kan wees nie. Daarmee het die Here Jesus ’n uitdrukking gebruik waarin haat beteken dat in vergelyking met jou liefde vir Hom, enige ander liefde nie in dieselfde asem genoem kan word nie (v. 25-26; vgl. Gen. 29:31; Mal. 1:2-3).
Die Here Jesus het dit verder deur
die beeld van ’n kruis verduidelik. Die Romeinse oorheersers het deur
kruisiging ’n stelling in die openbaar gemaak deur mense wat in opstand kom
teen die owerheid, stadig en naak aan ’n kruis te laat sterf waar almal dit kan
sien. Die Jode het dit nog soveel te meer as skrikwekkend gesien omdat die Here
in die Ou Testament reeds geleer het dat elkeen wat aan ’n houtpaal sterf,
vervloek is (Deut. 21:23; Gal. 3:13). En nou leer die Here Jesus dat elkeen wat
nie bereid is vir hierdie tipe behandeling as gevolg van Hom nie (ja, ook
afsterwe elke dag volgens Luk. 9:23), nie sy dissipel kan wees nie (v.27).
Die Here het toe deur drie verdere
beelde die gevolge verduidelik. Hy het eerstens gewys op iemand wat ’n toring
wou bou as uitkykpunt. As ’n mens nie jou somme maak nie, kan jy dalk halfpad
agterkom dat jy nie alles het om klaar te maak nie. Dan was dit so sinneloos en
boonop spot ander dan omdat jou mislukking vir almal duidelik is (v.28-30).
Daarna het die Here die beeld van oorlog gebruik. ’n Mens gaan maak mos nie
oorlog as jy nie eers deeglik bepaal het of jy kans sien vir die vyand wat dubbeld
meer is nie (10 000 teenoor 20 000). Dit is beter om voorwaardes vir vrede aan
te vra as jy nie werklik kans nie. Die Here verduidelik dan dat niemand wat nie
afsien van al sy besittings, werklik sy dissipel sal kan wees nie (v.31-33).
Hierna het Hy ’n derde beeld van sout gebruik. Soutkorrels was net goed as die
soutsmaak nog in die korrel was. Dan kon dit gebruik word vir smaak, reiniging,
en bewaring. Maar as die sout laf geword het, was dit nie vir die grond of selfs
die ashoop nuttig nie. Dit kon net buitekant weggegooi word. Hy het toe
uitgeroep dat die wat ore het, moes hoor wat dit beteken om sy eiendom te wees
(v.34-35).
Besprekingsvraag: Gaan dissipelskap om iets meer as gewone Christen te
wees?
Om dissipel van Christus te wees gaan
nie oor ’n hoëre vlak van Christenskap nie, maar die enigste vlak van Christenwees.
En hier hoor ons baie pertinent wat die konsekwensies is wanneer ons God se
beloftes en eise, waarvan ons reeds by die kinderdoop verneem, glo en
gehoorsaam. Ons besef dan dat NGB 34 reeds leer dat ons deur die doop
afgesonder word om geheel en al die eiendom van ons Vader te wees. Van
kindsbeen af hoor ons ook dat my enigste troos in lewe en dood is dat ek nie
aan myself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Christene behoort in beginsel
nie aan hulleself nie, en HK 1 help ons om te besef waarom dit ’n troos en nie
’n skrikwekkende gedagte is nie. Die rede is dat Christene behoort aan die
getroue Saligmaker wat met sy bloed ten volle betaal en ons uit die
skrikwekkende heerskappy van die alternatief, die duiwel, vrygekoop het. En dat
Hy ons bewaar en verseker en versterk deur die Heilige Gees vir ’n lewe in en
met Hom (HK1). Gedoopte kinders behoort daarom ingeskerp te word in wat dit beteken
om die eiendom van die Here te wees.
En deel hiervan is kosteberekening.
Die goedkoop soort Christenskap is nie ’n opsie nie. Ons moet besef: Wanneer
Christus ons roep, roep Hy ons om te kom en te sterwe (Bonhoeffer. Vgl. ook sy afwysing
van van wat hy noem “goedkoop genade”). Dit sluit fisiese dood vir Hom in, maar
definitief ook daaglikse keuses. Christus verduidelik dat dit gaan oor jou liefdesprioriteit,
oor sterwe en afsterwe, en af te sien van alle besittings. Die afsien van alle
besittings beteken nie dat almal noodwendig alles moet verkoop nie, maar wel
duidelike afsien daarvan in die hart. Dit bring nie marteling nie, maar juis
ware vryheid. Dit maak ons vry om onbevange vir God in Christus te leef. In die
geskiedenis het dit soms verlies aan familie en sterwe voor die owerheid
beteken, en kan ook steeds in sommige omstandighede. Maar ongeag hiervan, moet ons
almal op een of ander manier leer, op mikro en makro vlak, wat die implikasies
van afsterwe is en wat dit beteken om aan Christus te behoort.
Dit is die enigste wyse waarop ons
waarlik vry kan lewe. En dit word net op een manier ’n werklikheid in ons lewe - in Hom wat van alles afgesien het, om
gehoorsaam te word tot die dood van die kruis. Deur Hom kan ons sterwe aan die
ou mens en opstaan as nuwe mense. Daarvan getuig die doop. Ons hoef nie alles
te weet wat vir ons voorlê voordat ons in die krag van die Gees besluit om
Christus te volg nie. Maar ons word wel opgeroep om Hom te vertrou wat sy lewe
vir ons afgelê het en voortdurend weer onsself oor te gee aan Hom om ons pad te
bepaal. Elkeen van ons om by verskillende kruispaaie waar die oorgawe ook
herbevestig moet word. Laat dit dan so wees, ook wanneer ons die ou mens
daagliks moet afsterf. Want om te besef jy is reeds dood in Christus (met
apologie en Christelike hervorming in Christus teenoor die heiden-generaal, Maximus,
van die film, Gladiator) is om waarlik vry te wees om vir Hom te lewe, totdat
geloof oorgaan in aanskoue.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.