Gedagte vir kinders: Jesus Christus maak van sondaars verloste koningskinders
Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons
sondes sou sterf, het Hy op uitnodiging in die huis van een van die leiers van
die Fariseërs ingegaan om brood te eet op die Sabbat. Die Fariseërs het God se
wet baie belangrik geag, maar ongelukkig het hulle so baie op die uiterlike
kant daarvan gefokus dat hulle die dieper punt maklik gemis het. ’n Mens wonder
ook wat die motiewe was om die Here Jesus te ontvang, want ons lees dat hulle
Hom in die oog gehou het (v.1). Ons lees ook van ’n man wat water gehad het
(opgeswel in dele van sy liggaam was), wat daarop gedui het dat sy organe nie
reg werk nie (v.2). Ons sou selfs ook kon wonder of hierdie man aspris daarheen
gebring is om te sien wat die Here met hom sou doen. Die Here Jesus het toe aan
die wetgeleerdes en Fariseërs gevra of dit reg was om op die Sabbat te genees,
maar hulle het net stilgebly. Hy het toe die man geneem en hom gesond gemaak en
laat gaan (v.3-4). En toe het Hy vir die mense verduidelik deur die voorbeeld
van ’n esel of os (sommige vertalings meld kind) wat in ’n put val op die Sabbatdag.
Die meeste mense sal mos dadelik die dier uit die put optrek. Niemand kon Hom
antwoord op hierdie voorbeeld nie (v.5-6).
Die Here Jesus het ook, toe hulle die belangrikste plekke kies, ’n gelykenis vertel, wat dus ook iets oor God se koninkryk leer. Hy het gesê dat hulle, wanneer hulle na ’n bruilof genooi is, nie die voorste plek moes inneem nie. Die rede: Daar is dalk iemand wat waardiger is as jy. En dan sal die gasheer moet kom en sê dat jy moet plek moet maak vir ’n belangriker man en dat jy dan met skaamte die agterste plek sal inneem (v.7-9). Dit sou wyser wees om die agterste plek in te neem sodat die gasheer wat jou genooi het, eerder vir jou ’n beter posisie laat neem. Dit sou eer bring voor die wat saam aan tafel is. Die Here maak dan die bekende uitspraak dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en wat homself verneder, verhoog sal word (v.10-11).
Daarna het Hy aan die man wat Hom genooi het, gesê dat wanneer hy ’n
oggend of middag-ete gee, nie vriende moet nooi of broers of bloedverwante of
ryk bure nie. Hulle kon ook weer eendag terug uitnooi en so die goeie terug
vergeld. Hy moes eerder wanneer hy ’n feesmaal gee, die (1) armes nooi, (2)
verminktes, (3) kreupeles en (4) blindes. Dit sou ware geluk bring omdat hulle
niks sou hê om te vergeld nie. Die Here Jesus het toe die belofte gegee dat dit
wel vergeld sou word in die opstanding van die regverdiges (v.12-14).
Besprekingsvraag: Waarvan en waartoe maak Christus ons vry in hierdie gedeelte?
Insig: Die Fariseërs
het gedink om deur noukeurige uiterlike onderhouding van die wet die
geregtigheid van God terug te bring in die volk. So ’n streng uiterlike benadering
hou egter nie genoeg rekening met die motiewe van die hart nie. Die vraag is
telkens nie net wat ons doen nie, maar ook waarom ons dit doen en NGB 24 maak
duidelik dat dit nog steeds blote selfliefde of vrees kan wees wat die eintlike
aandrywer van ons dade is. En dan is daar natuurlik ook niks soos die ware Jakob
om die nabootsings van geregtigheid te ontbloot nie. As Jesus Christus tussen
die Fariseërs verskyn, kan hulle die manifestasie van ware geregtigheid nie
verdra nie, want dit ontbloot hulle skynheiligheid. Dit word ook uitsonderlik
illustreer in hul hantering van die Sabbat. Die middel word die doel self. Die Sabbat
met sy beperkinge was bedoel (letterlik) om hulle die rus in en gemeenskap met
God te laat geniet. Maar toe word die beperkinge die doel en daarteen moet ons
steeds waak, terwyl die doel nog steeds voor oë moet bly in ’n samelewing wat
ook sy sin vir bedoeling verloor het.
En dit bring
ook reeds ’n belangrike verdere doel na vore. Dit is dat God ons sal verhef en
ons nie onsself sal verhef in ons doen in late nie. Dit doen God net op een manier
en dit is om sy verheffing uit genade aan ons te skenk deur Jesus Christus. En
hierdie verheffing het gekom deur Een wat dit geen roof geag het om aan God
gelyk te wees nie, en Homself tog verneder het tot die dood aan die kruis (Fil.
2:4-11). Hy is deur God verhef en in Hom kan ons verhef word en tevrede wees
met waar God ons geplaas het. En op daardie punt waar Hy ons geplaas het sal
elke beker ook oorloop. Daarom hoef ons nie iets te dwing om te gebeur nie, en kan ons God vertrou om te
wys waar ons aansit by sy heerlike banket.
So het Dawid
reeds die kreupel Mefiboset laat aansit aan sy koninklike tafel, al het
Mefiboset niks verdien nie (vgl. 2 Sam. 9). So was ons elkeen lam en kreupel en
arm, maar God het Hom oor ons ontferm en ons met oneindige waarde deur sy Seun
beklee. Elke Nagmaal mag ons reeds ’n voorsmaak kry van aansit saam met die Koning.
Bewus van hierdie status, uit genade geskenk deur Hom wat sagmoedig en nederig
van hart is (Mat. 11:29), kan ons ook uitreik na randfigure omdat Christus aan
ons en aan hulle oneindige waarde gee. Hy maak die gee impuls in ons wakker wat
wil gee sonder om iets terug te verwag. Dit is hiertoe wat Christus, ons groot
Gasheer, ons aanspoor. In die evangelie van Christus word ons vry van
wettisisme, vry van slegte ambisies, en vry om aan die geringstes te gee sonder
om iets terug te verwag.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.