Gedagte vir kinders: Ons Vader is die Koning van alles en daarom is ons
nie bekommerd nie.
Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus die offer
vir ons sondes sou bring, het Hy oor die koninkryk van God met die mense
gepraat. Nadat Hy aan hulle deur die gelykenis van die ryk dwaas verduidelik
het hoe belangrik dit is om ryk in God te wees, het Hy “daarom” bygevoeg. Want as
ons ryk in God wil wees, moet ons ook in lyn daarmee optree. Die eerste toepassing
wat die Here Jesus toe gemaak het, is om nie bekommerd te wees oor ons lewe en ons
liggaam en spesifiek oor wat ons sal eet en wat ons sal aantrek nie. Die rede
is dat die lewe meer is as kos en dat die liggaam oor meer gaan as klere
(v.22-23).
Hy het hulle as voorbeeld gewys op die kraaie (roofvoëls)
wat in die Ou Testament nog onrein diere was (Lev. 11:15; Deut. 14:14). Hulle plant
of oes nie en het geen voorraadkamer en skuur nie, en tog sorg God selfs vir
hulle. Mense was tog soveel meer werd (v.24). Die Here het hulle toe ook daarop
gewys dat afgesien van die voorbeeld van kraaie in die skepping, ook
bekommernis self nie in die minste werklik help nie. Dit kan nie een el by jou
lengte voeg of een uur by jou lewe nie (v.25-26; vgl. NAV). Daarna het Hy weer
na de skepping gewys en hierdie keer op die lelies en die gras as voorbeelde
van hoe God sy skepping aantrek. En weer was die konsekwensie vir mense getrek:
Hoeveel te meer vir julle kleingelowiges! (v.27-28).
By die kwessie van bekommernis het Hy toe iets
verder gevoeg. Dit is dat hulle ook nie in die eerste plek gefokus moes wees (“soek”)
op wat hulle sou eet en drink en hulself daaroor ongerus maak nie. Dit is wat
die ongelowiges nasies van die wêreld doen. Die kinders van God kon egter gerus
wees dat hulle Vader weet wat hulle nodig het (v.29-30). Hulle fokus (soek) moes
eerder die koninkryk van God wees. Dit beteken hulle God en sy saak en sy geregtigheid
en sy wil moes soek en hulle hele lewe daarvolgens moes inrig. So kon hulle as God
se gesante sy beeld in hierdie wêreld wat nie glo nie, uitstraal. Hulle sou op
hierdie weg ook beleef hoe al die ander dinge vir hulle bygevoeg word (v.31). Daarna
het die Here die klein groepie gelowiges ’n klein kudde genoem wat nie moes
vrees nie, want hulle Vader sou aan hulle sy koninkryk gee (v.32). Omdat hulle
in Hom so ryk was, kon hulle hulle gerus hul besittings verkoop en aalmoese gee
wanneer nodig. So sou hulle wys dat hulle eintlike beursies en skat in die
hemel is. Hierdie skat kan nie uitgeput word nie en diewe of motte kan dit nie
wegneem of verteer nie. En so wys ons harte ook waar ons eintlike skat is
(v.34).
Besprekingsvraag: Wat leer ons wanneer Christus vrees en vertroue
voor besittings hanteer?
Insig: Die Here Jesus spreek ’n diep kwessie van die menslike psige hier aan. Ons as mense het ’n groot behoefte aan identiteit en ’n omgewing wat daardie identiteit moet beveilig. Die probleem is dat ons dit in ons sonde verkeerd kan aanpak.
Dan soek ons
sekuriteit in ons eie weergawes van wat veilige omgewings is, in pogings om
alles en almal te beheer (beheervrate), in erkenning van mense in aansien, in
onttrekking uit dit wat ons onveilig laat voel in ons eie klein wêreldjies in, of
in anders wees (positief of negatief) om so vir jouself naam en ’n eie veilige
koninkrykie te probeer maak. Dit bring ook kenmerkende gevegte en oorloë met
ander wat dit dan bedreig. Die veg vir gebiede, vir mag, vir beheer, en die
begeerte na wat ander skynbaar hieroor het, wentel dikwels rondom hierdie dinge
(vgl. Jak. 4:1-4). Die geleerdes praat soms hieroor as ons bewuste en onbewuste
angs.
Christus
spreek ons angs en ons fokus hieroor op ’n besondere wyse aan. Hy vermaan ons om
ons nie hieroor te kwel nie, en help ons deur te wys na die skepping wat hiervan
getuig - die diere en die veld. Hy roep ons ook op om die sinloosheid in te
sien van bekommernis wat niks uitrig nie, en Hy bevestig dat God gelowiges se
Vader is en dat hulle soveel te meer op sy sorg kan reken. Die Vader sorg nie
net nie, maar beklee met heerlikheid, en dit vir sy kinders bo alles! Ons moet
die duidelike oproep hierin hoor van Hom wat vir ons kruis toe gegaan het sodat
ons God Vader mag noem. Wanneer ons onsself bly kwel en ons ontstel, moet ons
hoor wat ons naam is – kleingelowiges. Dit pas tog nie by hulle wat God as
hulle Vader in Christus leer ken het nie. Ons moet dit eerder in uitdagende situasies
leer inoefen dat ons Vader alles weet en daarom die verleenthede aangryp om op Hom
te vertrou. Risiko en blootstelling aan gevare en broosheid en swakheid is
eenvoudig deel van die weg waarop ons leer om op ons hemelse Vader te vertrou. En
te midde daarvan bo alles eers sy koninkryk te soek.
Daarin het
Christus ons voorgegaan en die weg geopen deur die dood te oorwin. Hy het angs
verduur sodat ons angs mag wegval en ons verseker mag wees van die ewige
erfenis en die groot skat van God se verlossing. Dit is opvallend dat ons Here
eers die vrees en vertroue van God se kinders hanteer en bevestig dat sy
koninkryk aan hulle behoort, voordat hulle opgeroep word om besittings te verkoop
en aalmoese te gee. Want ons manier van besitting-hantering kan ten diepste net
verander, soos by Saggéüs en die eerste Christene (Luk. 19; Hand. 2:45; 4:36-5:13),
wanneer ons bewus raak van die grootste skat in Jesus Christus.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.