Gedagte vir kinders: Jesus Christus het gekom sodat God se vuur ons lewens
kan reinig.
Oorsig: In die bediening van die Here Jesus het hy twee soorte kenmerkende uitsprake gemaak wat verwys na sy Persoon en sy werk. Die een groep is sy “Ek-is” uitsprake (vgl. Johannes 6:35; 8:12; 10:9; 10:11,14; 11:25; 14:6; 15:1,5). Die ander is sy “Ek-het-gekom-om” uitsprake (Vgl. Mt. 5:17; Mk. 10:45; Joh. 10:10; 12:46; 18:37). In hierdie gedeelte sê die Here spesifiek dat Hy gekom het om vuur op die aarde te werp (v.49). Wat beteken hierdie woorde? Die beeld van vuur word in die Bybel gebruik om te wys op God se teenwoordigheid en liefde (Dt. 4:24; Hd. 2:3), sy oordeel oor sondaars (Lev. 10:2; Mt. 22:7) en Goddelike reiniging (Jer. 5:14; 23:29; 1 Pet. 1:7). Johannes die Doper het die beeld spesifiek gebruik om te wys op die reinigende werk wat Jesus as die Messias sou verrig en waarin die krag van die Heilige Gees sou duidelik word (Luk. 3:9,16). En hier lees ons van begeerte van die Here Jesus op pad na Jerusalem wat ons tot stilstand bring wanneer ons hoor dat Hy baie diep wens dat God se vuur al aangesteek was. Daar was dus nog iets nodig voordat dit ’n volle werklikheid sou word.
Die Here
Jesus beskryf dan hierdie iets wat nodig was as ’n doop wat Hy het om mee
gedoop te word. Ons vind iets hieroor in die Psalms wanneer ons hoor van vuur
en water wat oor iemand gekom het (Ps. 66:12; 69:2-3). Dit klink of die Here
Jesus na iets in hierdie sin verwys as Hy die lyding wat Hy sou deurgaan meer as
eenmaal sy doop noem (vgl. Mt. 20:22; Mk. 10:38). Jesus Christus moes dus eers
deur ’n baie spesifieke lyding en beproewing gaan sodat God se vuur daardeur sy
werk op aarde sou doen. En die Here het gesê dat hy daaroor diep benoud (soos
’n swanger vrou voor geboorte) was todat alles afgehandel/volbring sou wees.
Die Here Jesus het hierna daarop gewys dat mense van
mening was dat Hy as die Messias gekom het om vrede op die aarde te gee (vgl.
Luk. 2:14; 19:42; Hd. 10:36). Hy het natuurlik daarvoor gekom, maar daar sou
ook ’n verdeeldheid ontstaan tussen hulle wat sy vrede aanvaar en hulle wat dit
verwerp (v.51). En dit sou duidelik word in die natuurlikste verhoudinge op
aarde, soos in huisgesinne, waar daar in die reaksie op Jesus Christus drie
teen twee en twee teen drie in een gesin verdeeld sou wees (v. 52-53). Deur die
reaksie op wie Jesus Christus is, sou dit gebeur dat ’n vader teen die seun, die
moeder teen die dogter, die skoonmoeder teen haar skoondogter, en die
skoondogter teen haar skoonmoeder sou wees. En tot vandag toe word die mensdom verdeel
in hulle reaksie op Jesus Christus.
Besprekingsvraag: Is God se vuur reeds op die aarde gewerp?
Insig: Ons wêreld het
God se vuur nodig. Dit beteken God se oordeel en reiniging tesame met sy liefde
en teenwoordigheid. Die profete se boodskap gaan oor God se vuur en Johannes
die Doper as laaste profeet van die ou verbond wys na Jesus Christus wat doop
met die Heilige Gees en met vuur. Ons haal graag Joh. 10:10 aan oor Christus se
doel om lewe in oorvloed te bring, maar ons moet dit saamhoor met die vuur wat
Christus op die aarde sou werp. Laat ons ook let op die wens en versugting van
die Here Jesus dat hierdie oordeel/reiniging/verlossing al aangesteek was. Die
brandende begeerte vir God se vuur en geregtigheid in hierdie wêreld hoort by
hulle wat aan Christus behoort. Ons behoort nie maar bloot tevrede in ’n wêreld
te lewe waar soveel sonde en ongeregtigheid nog sigbaar is nie. Die droom van
die Godsryk wat nou al gestalte begin kry, is deel van die vuur wat in God se
kinders se harte brand.
En tog is dit belangrik dat ons telkens sal besef wat die groot
voorwaarde vir hierdie vuur was en is –Jesus Christus se offer deur die krag
van die Heilige Gees. Christus se diep wens in sy aardse bediening dat die vuur
al aan die werk was, staan in die nouste verband met sy diepe benoudheid oor
dit wat moes gebeur om dit ’n werklikheid te maak – sy lyde en sterwe vir ons
sonde. Sonder hierdie lydensbeker sou die vuur nie volbring kon word nie. Die
goeie nuus is dat dit in Hom ’n werklikheid geword het. Christus het onder God
se groot vuur van oordeel deur sy kruisdood gely, sodat dit die basis kon word waarin ons geoordeel,
maar ook verlos en gereinig kon word (vgl. Joh. 3:16-21; Rom. 5:12-6:6). Deur
sy oordeel kon ons gespaar word, verlos word, en bekragtig word met die vuur
van God se Gees in ons harte. Hy was benoud, sodat ons nie benoud hoef te wees nie,
maar vol van vrede en die Gees van God.
En tog is hierdie tipe vrede nie die soort vrede wat die hele wêreld
verlang nie. Want God se vrede beteken vrede op sy voorwaardes en volgens sy
reiniging. Dit beteken dat elkeen moet reageer op wie Jesus Christus is en die
doel wat Hy gehad het en steeds het - om God se vuur van oordeel en verlossing
te bring. Die reaksie op Hom sny selfs deur die innigste verhoudinge van die huisgesin.
Ons word besonders hiervan bewus in bekeerlinge uit die huise van Jode en
Moslems, maar deesdae ook wanneer mense in die naam van politieke korrektheid
nie die volle reiniging en geregtigheid deur Christus wil erken nie. Die hele
menslike geslag word egter verdeel deur die reaksie op wie Jesus Christus is en
wat Hy kom doen het. Daar is geen neutraliteit oor die doel van sy koms en
daarom oor God se vuur moontlik nie.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Ignatius Catholic Study Bible New Testament.
John Gill.
Matthew Henry.