Gedagte
vir kinders: God roep ons om skatte in die hemel bymekaar te
maak.
Oorsig: Die Here Jesus
was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Sommige noem hierdie
pad sy bewustelike dodemars. Op hierdie pad het Hy die mense deur verskillende situasies
en uitsprake geleer, onder meer oor wat dit beteken om sy dissipel te wees. Op ’n
stadium het een man Hom gevra om uitspraak te lewer teen sy broer, omdat sy
broer nie die erfporsie met hom wou deel nie (v.13). In Israel het die oudste
seun ’n groter verantwoordelikheid gedra en ook die dubbele erfporsie gekry(vgl.
Deut. 21:17), in hierdie geval blykbaar die hele erfporsie, as deel van sy
verantwoordelikheid. En hy wou niks deel met sy jonger broer nie.
Die Here Jesus
het die man geantwoord dat dit Hy nie aangestel was as regter of deler oor
hulle nie (v.14). Heel waarskynlik wou Hy nie die mense aanhelp om Hom as ’n
blote aardse Messias te sien nie. Bowendien het hierdie man Christus in sy
openbare werk gesteur en die Here Jesus het wel ook geweet wat dikwels in sulke
stryde ’n rol speel. Hy het die geleentheid gebruik om almal te waarsku om op
te pas vir hebsug (gierigheid). Die basiese rede is dat iemand se lewe nie
bestaan uit die oorvloed van besittings nie (v.15). Toe het Hy aan hulle ’n
gelykenis vertel (v.16-20). Daar was ’n ryk man wie se grond ’n goeie oes gehad
het. Die man het toe in sy kop so daaroor geredeneer: Hy het vir homself gesê hy moet ’n plan maak, want hy het geen plek om sy oes in te
samel nie. Hy het toe sy plan so gemaak: Om sy skure af te breek en groter te
bou en so sou hy sy hele oes kon insamel en wegbêre. Sy woorde was egter
duidelik baie selfgerig: “Dit sal ek doen...ek sal...ek sal...my opbrengs en my
goed.” In sy gedagtes het hy homself ook op gelukgewens met ’n beloning wat net
op hierdie lewe fokus. In sy beloning vir homself sou hy dan vir “siel” sê dat
hy goed gedoen het vir baie jare en dat hy dan kon rus, eet en drink en vrolik
wees.
Die Here Jesus het toe gewys op wat God hieroor sou sê. Dit is dat die man ’n dwaas was (vgl. Ps. 14:1).
Hy sou in daardie nag deur ander mense se toedoen sterwe. Dit wat hy homself genoem het, naamlik “siel”, sou van hom afgeëis word. Die vraag is dan ook wat dan sou dan word van dit wat hy gereedgemaak het. Wie s’n sal dit dan wees? (v.20). Die Here Jesus het toe die basiese betekenis van die gelykenis vir die mense verduidelik: Dit is hoe dit gaan met iemand wat vir homself skatte vergader en nie ryk in God is nie (v.21).Besprekingsvraag: As rykdom
sleg is, waarom was Abraham en Job dan ryk?
Insig: Dissipels van die Here Jesus behoort ’n duidelike standpunt oor
besittings in te neem en moet voortdurend waak dat hul harte nie geleidelik hieroor
verander nie (v.15; vgl. Fil. 4:11-13). Ons hoor reeds in die gelykenis van die
saaier dat rykdom en die genietinge van die lewe jou lewe kan verstik sodat die
saad nie vrug dra nie (vgl. Luk. 8:5,7,14). Ons weet ook uit die tiende gebod dat
die sonde-kanker diep binne die hart reeds kan begin. In die gelykenis kom dit
wat binne die hart is ook duidelik uit in die taal van die innerlike monoloog. Wat openbaar ons gedagtewêreld oor ons harte? Dit
is opmerklik om meer as ses maal te hoor hoe die denke en planne sentreer
rondom die woord “ek” en “’my” (v.17-18). Ons hoor ook waarop die rykdom
afgestem is – sodat hyself kan rus, kan eet en drink en vrolik wees (v.19). In hierdie
ek-filosofie is God en die naaste glad nie in die gesigsveld nie en hierdie
lewe die enigste fokus. So ’n lewe is dwaas. Die vrees van die Here is die
begin van die wysheid (Spr. 1:7). So begin ons om onsself te desentreer, onsself
te verloën, en gelyktydig sorgvry te wees. (Luk 9:23; Mt.6:19-34).
Hoe behoort dissipels dan oor besittings en die toekoms te dink? Abraham
en Job was tog gelowiges wat baie besittings gehad het. In die gelykenis oor die
arm Lasarus is hy na die boesem van die Abraham gevoer wat op aarde ook baie besittings
gehad het (Luk.16). Ons begin die antwoord kry wanneer ons hoor dat dit daaroor
gaan om ryk in God te wees (v.21). Abraham en Job was ryk in God en het ook nie
in gemaksug geleef nie, maar was diensbaar teenoor God en hul naaste met hul
gawes (vgl. Gen.12-14,18; Job. 31:13-40; vgl. ook Luk 8:5). Rykdom kan die vrug
van fluksheid wees (Spr. 10:4), maar bo alles van die seën van die Here (Spr.
10:22). Dit is moontlik om met rykdom in geregtigheid voor God te leef. Dan
gebruik ons dit as geleenthede om God te eer, en ons naaste te dien (vgl. Ps.
112). Ons moet egter op ons hoede bly en nie die hart daarop sit wanneer rykdom
begin vermeerder nie (Ps. 62:11). Christus
bevestig hier dat geestelike rykdom altyd belangriker as aardse rykdom is. Om
in God ryk te wees, oortref alles. Wie Hom het, het niks anders nodig nie (Ps.
73:25). En Hy is baie vrygewig teenoor sy kinders. Daarom hoef ons ook nie angstig
te wees oor aftreeplanne nie. Ons moet wel verantwoordelik en wys optree, maar dit
behels ook dat ons met oop hande en harte leef deur Hom in wie ons ryk gemaak
is. Ons het nie net ons besittings nie, maar ons hele wese aan Hom te danke. Ons
het ook ons verlossing aan Hom te dank wat ter wille van ons arm geword het.
Sodat ons deur Hom ryk in God mag wees.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.
John Gill.