Gedagte
vir kinders: Ons rus eers by die Here Jesus voor ons vir Hom
gaan werk.
Oorsig: Die Here Jesus
was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sondes te bring. Hy het mense onder
meer geleer wat dit beteken om ’n dissipel van Hom te wees, en so het hulle op
hul reis by ’n sekere dorp gekom (waarskynlik Betanië) waar Hy tuis gegaan het
in die huis van Martha. Sy was moontlik ’n weduwee wat die huis by haar man
geërf het. Martha het ’n suster gehad met die naam van Maria en in Joh. 11 lees
ons van hulle, waar ons ook hoor van Lasarus, hulle broer, wat uit die dood
opgewek is. Die Here Jesus het moontlik daar oorgebly as Hy opgegaan het na
Jerusalem vir die jaarlikse feeste. Ons weet ook uit die Bybel dat die Here
Jesus hierdie drie mense liefgehad het (Joh. 11:5). Hy kon selfs van Lasarus
teenoor sy dissipels praat as “Lasarus, ons vriend...” (Joh. 11:11). Hier lees
ons van Maria dat sy in die huis van Martha aan die voete van die Here Jesus
gesit en na sy woord geluister het (v.38-39).
Martha, aan die ander kant, was baie besig. Sy was mos die eienaar van die huis en alles moes in orde wees vir die gaste. Maar iets het Martha baie gepla: Sy het toe gaan staan waar die Here besig was en aan die Here Jesus gevra: “Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help.” (v.40). Die Here Jesus het haar op ’n besondere wyse geantwoord. Hy het twee keer haar naam genoem: “Martha, Martha.” Dit wys vir ons dat Hy baie persoonlik en liefdevol met haar gepraat het en tog ook ferm. Hy het haar daarop gewys dat sy besorg en verontrus (onrustig) kon raak oor baie dinge (v.41). Maar daar was eintlik net een ding nodig, het die Here Jesus gesê.
Hy het nie presies gesê
wat dit was nie, maar ons kan aflei wat Hy bedoel het, aangesien Hy net daarna
daarop gewys het dat Maria die goeie deel uitgekies het. Dit beteken dus dat
dit iets met haar keuse te make gehad het om aan die voete van die Here Jesus
te sit en sy genade en woorde in te drink. Die Here Jesus het ook verder
verklaar dat dit nie van haar weggeneem sal word nie (v.42).
Ons hoor ook
later van Maria dat sy by geleentheid die Here met ’n halfliter baie kosbare
nardusolie gesalf en sy voete afgedroog het met haar hare. Die Here Jesus het
toe gesê dat sy dit vooruit gedoen het met die oog op sy begrafnis en dat daar
oral in die wêreld waar die evangelie vertel word, ook vertel sal word van wat
sy gedoen het (vgl. Mat. 26:7; Joh. 12:3. Nie dieselfde vrou as Luk. 7:37-38
nie). Hier hoor ons waar dit begin het: By die keuse om aan die voete van
Christus te sit en sy woorde oor die koninkryk van God ter harte te neem.
Besprekingsvraag: Moet
Christene dan nooit aktief en diensbaar wees soos Martha nie?
Insig: Sommige dink dat dit hier gaan oor ’n voorkeur vir die kontemplatiewe
lewe teenoor die aktiewe lewe. Nee, dit gaan eerder daaroor dat die
belangrikste die belangrikste sal bly: Die gemeenskap met God in Christus.
Martha is baie besig, met goeie dinge besig, maar in die goeie dinge, ja kerklike
dinge, verloor sy die lewegewende gemeenskap met Christus, al is sy ’n gelowige
(vgl. Luk. 10:5-7; Joh. 11:25-27). En die teken van iets wat fout is: Sy
vergelyk haar met ander, is gefrustreerd, en wil Christus selfs tereg wys. Dit
is verstommend hoe ons tot die Here kan nader en dan selfs vir Hom wil
voorskryf. Soms dink ons so, al sal ons dit nie hardop uitspreek nie. Een ding
wat Martha te midde van alles reg doen, is dat sy na Christus gaan. Ons kan net
sowel ook gaan en onsself voor Hom wees, want Hy weet in elk geval wie ons
is.
Ons sien ook hier hoe Christus ons met onse frustrasies hanteer. Die dubbele uitdrukking van Martha se naam is ’n segswyse van intieme kennis en liefde. Ons Here ken ons en vermaan ons dat ons onnodig besorg en omgekrap kan wees oor baie dinge. Ons moet leer om rustig en saghorend te raak aan die voete van Christus. Ons moet leer om sy genadewoorde in te drink. So word ons verander en geheilig (Vgl. Joh. 17:17). Dit is nie dat werke en diens nie belangrik is nie, maar dit is belangrik dat dit voortdurend vanuit die regte bron gevoed word: Gemeenskap met God in Christus deur sy Gees. Ons moet leer om in te asem voor ons uitasem. En perspektief daaroor te hê dat God ons nie nodig het nie. Hy is selfgenoegsaam, die lewe self, en alles behoort aan Hom. Hy is ons Bron van krag, ons Voedsel, ons Lafenis, Rots en Rus. Ons kom erediens toe, maar ontdek telkens dat die Eregas die Gasheer word. Ons word telkens bedien met sy genade in Christus. Ons lees reeds hoe die oudstes op die berg Sinai God gesien en saam geëet het (Ex. 24:9-11). Ons mag ook reeds iets hiervan in die erediens beleef. Ons mag versadig word met sy beeld, sy goedheid en sy heiligheid (vgl. Ps. 17:15; Ps. 65:5).
Hoe maak ons seker dat die een ding wat nodig is, voortdurend in die
sentrum van ons lewe bly? Koester jou stiltetyd wanneer jou lewe dol raak. En
word ordentlik stil in jou stiltetyd voor Hom. Laat die erediens goed beplan wees,
gefokus wees, en die aandag nie afgetrek word deur onnodige bykomstighede nie. Almal
moet hulself in die erediens uit die pad kry van aandagsoekery (maniertjies en sêgoed
op die kansel, lidmate se gedrag of kleredrag, individualisme in aanbidding). Die
kenmerk van “een ding” in ons hele lewe is ononderhandelbaar. So leer ons om telkens
weer by God in Christus rus te vind, verwonderd te wees, te aanbid, en gevoed te
word. Om dan te gaan werk in Hom en met die oog op Hom.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Matthew Henry