Gedagte
vir kinders: Ons hemelse Vader verhoor ons gebede op die beste manier.
Oorsig: Die Here Jesus
was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring. Hy het hulle toe
geleer wat dit beteken om sy dissipels te wees. Op ’n stadium was Hy besig om
te bid en een van sy dissipels het, nadat Hy opgehou het, Hom gevra om om hulle
te leer om te bid soos wat Johannes die Doper ook sy dissipels geleer het (v.1).
Die Here Jesus het hulle toe die Onse Vader geleer en hier lees ons van Lukas
se weergawe. Die feit dat dit hier en daar verskil met die weergawe van Mattheus,
wys vir ons dat dit nie gaan om telkens die presiese woorde te herhaal nie. Ons
kan onsself eerder voorstel dat die Here Jesus by verskillende geleenthede
hieroor geleer het en dat Hy sy lering sou aanpas by elke omstandigheid. Tog
kom die wese van wat Hy geleer het baie ooreen met wat ons in Mat. 6 daaroor
leer.
Ons leer ook
hier van die geweldige voorreg dat ons God as ons Vader mag aanspreek, en dat ons moet onthou dat Hy in
die hemel is. En dit gaan eerstens om sy Naam, sy koninkryk en sy wil (v.2).
Eers daarna kom ons behoeftes ter sprake, maar ons mag ook die Vader daarom vra.
Ons vra vir ons daaglikse fisiese behoeftes (ons brood) en ons geestelike
behoeftes (vergifnis en beskerming teen die Bose). Ons moet egter onthou dat
ons moet bereid moet wees om te vergewe as ons God se vergifnis verlang en dit
voor Hom erken dat dit ons gesindheid is (v.3-4).
Daarna het die Here Jesus vir hulle ’n gelykenis vertel om te verduidelik dat ons vir God mag vra sonder om skaam daaroor te wees.
Die gelykenis gaan oor ’n vriend wat in
die middel van die nag kom hulp vra. In daardie dae het die gesin dikwels in
een kamer geslaap en as die man sou opstaan, sou almal wakker word en ons weet byvoorbeeld
wat kindertjies doen as hulle slaaptyd ontwrig is. Tog wys ons Here daarop dat
ons nou eenmaal so is dat ons nie sommer nee in so ’n situasie sal antwoord
nie. (v.5-8). En dan gebruik ons Here die woorde bid en soek en klop. Ons moet voortdurend
bid en soek en klop en die belofte is dat ons sal beleef dat ons ontvang, dat
ons vind en dat deure vir ons oopgemaak word. Hy bevestig dan die belofte: Elkeen
wat bid, sal ontvang en hy wat soek, sal vind, en hy wat klop, sal vind dat daar
oopgemaak word (v.9-10). Hy versterk dit nog verder deur die beeld van ’n aardse
vader wat nooit slegte dinge (klip, slang of skerpioen) vir hul kinders sal gee
nie. Hy wys dan daarop dat as ons wat sleg is, dit nie eens sal doen nie, ons
Vader soveel minder dit sal doen as ons tot Hom bid vir die grootste gawe van
alles – die Heilige Gees se werking in ons lewens (v.11-13).
Besprekingsvraag: Is die Onse
Vader net ’n raamwerk vir gebed of kan ons dit ook net so bid?
Insig: Dissipels van die Here Jesus is onvermydelik ook bidders en ons het die
voorreg om deur die Here self ingelei te word in dit wat die Heidelbergse Kategismus
beskryf as die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe (HK 45). Die eenvoud
van die gebed wat ons by Christus leer, gekombineer met die dieptes daarvan, is
verstommend. Dit is eerstens duidelik dat daar ’n bepaalde prioriteit is wat
ons nooit uit die oog moet verloor nie. Die Naam van God, sy koninkryk en sy wil
kom voor alles. Gelowiges wil dit ook nie anders hê nie, want om te begin met
die Godheid van God is juis waarom daar hoop is vir hierdie wêreld en waarom alles
ten goed sal meewerk. In die sentrum van Christus se verkondiging op aarde was
die Koninkryk van God sentraal en ook in ons gebede kry dit die voorrang. Ware
gebed begin altyd met die feit dat ons nie in die sentrum staan nie, selfs nie
wanneer ons bewus is van ons sonde nie.
En tog is gebed terselfdertyd, te midde van die erkenning van sy Naam, sy
koninkryk en sy wil, ook die voorreg wat Christus ons gee om God as ons Vader aan
te roep. Ons mag ook met al ons behoeftes by Hom inwoon. Ons het Hom nodig vir
fisiese behoeftes (ons daaglikse brood) maar ook geestelike behoeftes
(vergifnis oor die verlede, en beskerming teen die aanslag van die Bose in hede
en toekoms). Ons basiese behoeftes is deel van ons wandel met God gerig op sy
koninkryk. Ons besef in moeilike tye hoe belangrik daaglikse brood is, maar ons
moet weet dat sonde en die Bose werklikhede is waarmee ons net so sterk rekening
moet hou.
En tog is dit ook duidelik dat Hy wat op die troon is en wat alles laat
afstuur op ’n heerlike einde, genadig en oorvloedig is in gebedsbeantwoording. Dit
is een van die redes waarom ons so bly kan wees dat Hy die Koning is en dat sy
wil geskied. Ons mag deur Christus vrymoedig en onbeskaamd na die Vader gaan
(vgl. Hebr. 10:19-23). Die gelykenis van die onbeskaamde vriend appelleer op
die bekende Joodse argument van “hoeveel te meer” ( vgl. ook die Latynse uitdrukking: via
emanentiae). God oortref ons beste oomblikke meer as by verre. Ons het nie,
omdat ons nie bid nie (vgl. Jak.3:5 e.v.). Die gelykenis oor onbeskaamdheid,
saam met die drie oproepe, vra, soek, en klop, tesame die heerlike beloftes daaroor,
laat ons met geen verweer oor nie. Die Een wat op die troon is het in Christus
ons Vader geword. Christus was van God verlate sodat ons dit nooit hoef te
beleef nie. Ons het God as Vader, en in Christus het ons die weg van gebed en die
belofte van sy Gees in ons lewe. Laat ons dan vrymoedige bidders deur Christus
en sy Gees wees en die blydskap leer ken van gebedsbeantwoording.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.
France, R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.