Gedagte
vir kinders: Christus roep ons om in sy krag graag ander mense
te help.
Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem om die offer vir ons sonde te bring en in hierdie tyd hoor ons baie van dissipelskap. Hier leer ons hoe dissipels van die Here Jesus se liefde vir die naaste lyk. Op die Here se pad het ’n sekere man wat in die wet van God geleerd was, gekom en die Here Jesus getoets deur vir Hom te vra wat Hy moes doen om die ewige lewe te beërwe (v.25-26). Die Here het hom met ’n teenvraag geantwoord en gevra wat hy in die wet daaroor lees. Die man het toe geantwoord dat jy God met alles (let op die drie dimensies: hart, siel, krag. Die verstand, gewoonlik ingesluit by die hart, word hier bygevoeg) in jou moet liefhê en jou naaste soos jouself. Die Here het geantwoord dat hy reg was en dat hy dit moes doen en lewe. Die Skrifgeleerde wou homself egter regverdig (let wel), en het toe gevra wie sy naaste is (v.27-29). Die Ou Testament het hieroor alreeds duidelike riglyne gegee (Lev. 19:18,34) en die Here Jesus het toe hierdie riglyne se bedoeling verder gevoer. Hy het hom geantwoord deur ’n gelykenis te vertel.
Daar was ’n
sekere man wat afgegaan het van Jerusalem na Jerigo. Dit het was ongeveer 25km en het steil na onder geloop en ongeveer 1000m gesak tot by die see. Op die pad
het rowers het hom aangeval, uitgetrek en geslaan en toe weggegaan en hom half dood
daar laat lê. Daar het toe ’n priester met daardie pad afgekom (dus vanaf Jerusalem en die tempel af na Jerigo, en hom gesien,
maar anderkant verbygegaan. Ook ’n Leviet wat nie ’n priester was nie, maar
gehelp het met werk by die tempel, het daar gekom en die man gesien, maar ook
anderkant verbygegaan (v.30-32). En toe het daar iemand anders gekom wat
heeltemal anders opgetree het. Hy was ’n Samaritaan (Samaritane was nie op
goeie voet met die Jode nie). Toe hy op sy reis op die gewonde man afgekom en
die man sien, het hy (1) hom baie jammer gekry, (2) na hom te gegaan, en (3) sy
wonde verbind en (4) olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom verder (5) op sy eie
pakdier gehelp en (6) die man na ’n herberg geneem en (7) vir hom daar gesorg.
Asof dit nie
al genoeg was nie, het hy (8) toe hy die volgende more weggaan, twee pennings
uitgehaal (Die waarde van twee dae se werk vir ’n dagloner en wat iemand ’n
hele paar dae kon versorg) en dit aan die eienaar van die herberg gegee om die
versorging te behartig. Meer nog, (9) hy het gesê dat indien daar enige onkoste
meer is, hy dit sal betaal wanneer hy terugkom (v.33-35). Die Here Jesus het
toe die wetgeleerde se vraag omgedraai. Hy het nie gevra wie die Samaritaan se
naaste was nie, maar wie die naaste was van hom wat nood gehad het. Die
Skrifgeleerde het toe nie bloot geantwoord dat dit die Samaritaan was nie, maar
dit beskrywe as “hy wat barmhartigheid aan hom bewys het”. Toe het die Here
Jesus hom geantwoord dat hy moes gaan en net so moes doen (v.36-37).
Besprekingsvraag:
Wat leer ons oor naasteliefde wanneer Christus die man se vraag omkeer?
Insig: Ons kry in die onmiddellike verband te make met allerhande dimensies van dissipelskap. (Die koste: 9:57-62; die missie:10:1-24; Christus: 10:38-42; God en gebed: 11:1-13). Hier hoor ons van dissipels se liefde - tot God en (uitgebrei) tot die naaste. Dit is opvallend dat die Here Jesus se lering hier drie groot kenmerke het. Hy maak dit (1) baie konkreet deur ’n gelykenis, Hy gebruik (2) ’n onverwags-ontblotende voorbeeld, en (3) Hy draai die rigting van die vraag oor wie my naaste is heeltemal om. Ons het nodig om meermale so hanteer te word.
Oor konkreetheid in ons geloofsake: Telkens konfronteer hierdie gedeelte
ons met die woord “doen”(v. 25,28,37) en dit waarmee doen in verband staan
(v.34-35). Ons kan so maklik abstrak raak in ons besprekings, veral oor die
vraag oor wie ons naaste is. Dit kan ook saamhang, soos hier, met die feit dat
die vraagsteller homself eintlik hieroor wou regverdig (v.29). Konkrete doen-voorbeelde
en ontblotende verhale kan dan help om die spieël op te hou en ons uit ons
selfregverdiging te kry. Ons begryp verder nie altyd hoe skokkend die voorbeeld
van die Samaritaan hier is nie. Sommige wil die angel uithaal en daarop wys dat
die Samaritaan die naaste was omdat die gewonde man ’n Samaritaan was en juis
daarom dat die priester en Leviet verbygehou het. Hierdie verklaring probeer egter
wegkom van Christus se skokbehandeling. Die Samaritane wou Christus nie eens
ontvang nie vanweë die vyandskap met die Jode (Lk. 9:51-53). Hulle voorgeslagte
was uit die laer stand en het vermeng met die heidene (2 Kon. 17:7-41). Hulle
het hulle eie tempel op hul eie berg gebou (Joh. 4:16-26), en hulle het hul
Bybel gemeng met ander tradisies. Die voorbeeld kom dus uit die geledere van
vyandiges uit ’n ander volk, ’n ander godsdiens, ’n ander kultuur, en
dwaalleringe.
Maar hoe verkeerd Samaritane ook al was oor die tempel, hierdie man het
dit uitgeleef dat barmhartigheid beter is as offerande (Hos. 6:6). Ons kan ook
deur dwalendes beskaam word as ons nie ons naasteliefde voluit wil handhaaf in
samehang met die liefde vir God nie. Die twee veronderstel mekaar altyd. Christus
help ons verder ook hieroor deur die vraag om te keer: Om eerder in liefde te vra
vir wie ons ’n naaste kan wees (vgl. Mt. 5:44). Let op die innige jammerte wat op
“sien” volg, anders as by die priester en Leviet, en ook op die doen-woorde wat
betrokke is tot by die volledige herstel van die gewonde man. Dit ontbloot ons
karigheid, maar dit laat ons ook op Christus fokus. Want Hy het die groot
Samaritaan vir ons geword. Hy is gerig op ons volle herstel. In Hom kan ons so
begin lewe teenoor hulle wat ons pad kruis.
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C. (Bergsma wys tereg daarop dat die verdere vlak
van betekenis van Christus as ons Samaritaan, verdedig kan word. Vir 'n voorbeeld van 'n totale vergeestelik/allegoriese interpretasie in hul tradisie, kyk hierna. Hierdie volle weg hoef egter nie voluit bewandel te word om tog waarde uit die Christologie hiervan te put nie. Vir die oorspronge hiervan, kyk na die skakel by PS).
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Chris van Wyk: Bybelskool.
PS: Hierdie artikel bied sewe insiggewende gesigspunte oor die gelykenis.