Lees: Luk. 18:9-14
Gedagte vir kinders: Elkeen wat
homself voor God verhoog, sal verneder word.
Oorsig: Die Here Jesus het op pad na Jerusalem, waar Hy vir ons
sondes sou sterf, mense oor die koninkryk geleer. Hy het mense dikwels deur
gelykenisse geleer en hierdie gelykenis oor die Fariseër en die tollenaar het
Hy spesifiek vertel met die oog op sommige wat op hulself vertrou het dat hulle
regverdig is en ander verag het (v.9). Hulle het dus op hulleself en hulle prestasies
staatgemaak om daardeur voor God en ander mense regverdig te wees. Hy vertel
hulle toe van twee manne wat na die tempel gegaan het om te bid. Die een was ’n
Fariseër. Die Fariseërs was belangrike mense in die volk. Hulle was baie godsdienstig
en het streng geleef volgens sekere godsdienstige reëls. Die ander een was ’n
tollenaar. Tollenaars was die teenoorgestelde van die Fariseërs. Die mense het
nie vir hulle respek gehad nie, omdat hulle in diens van die Romeine, hulle oorheersers, gaan staan het. Hulle het dan belastinggeld
(tolgeld) vir die Romeine afgedwing by hul eie mense en so ook self geld gemaak
(v.10).
Die Fariseër het gaan staan en by homself
gebid. Dit klink uit die Here Jesus se woorde of hy nie regtig tot God gebid
het nie, maar meer met homself besig was. Tog hoor ons dat hy soos die
tollenaar later begin met “O God”. Maar ons hoor vyf keer daarna, selfs wanneer
hy dankie sê, dat hy van “ek” praat: Ek is nie soos ander sondaarmense nie – rowers,
onregverdiges, egbrekers, of soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee maal in ’n
week (net tweemaal ’n jaar was nodig), ek gee tiendes van alles wat ek verkry (v.11-12).
Die Fariseërs het die tiendes tot in die kleinste dinge toegepas en selfs
tiendes van saadjies soos anys en koljander afgetel. Vgl. Mat. 23:23). Die
Fariseër dank dus God dat hy so wonderlik is. Die tollenaar het heeltemal
anders gebid. Hy (1) het ver weg gestaan omdat hy onwaardig gevoel het. Hy wou
(2) selfs nie sy oë ophef na God nie omdat hy sy sonde besef het. Hy het (3) op
sy bors geslaan as teken van sy berou en gesê: “O God, wees my wat ’n sondaar
is, genadig!” (v.13).
Die Here Jesus het toe vir die mense gesê
dat die tollenaar na sy huis gegaan het as iemand wie se saak met God reg is
(geregverdig), eerder as die Fariseër. Hy het dit toe vir hulle verduidelik dat
elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en dat hy wat homself verneder,
verhoog sal word (14).
Besprekingsvraag: Watter twee soorte godsdiens sien ons in hierdie
gedeelte raak?
Insig: Twee mense het dieselfde ding gaan doen by tempel, maar met twee totaal verskillende harte en twee soorte godsdienste. Dit herinner ons reeds aan Kain en Abel wat lank gelede ook met twee verskillende harte tot God genader het.
Hier sien ons dat die een godsdiens gaan om verdienste en die
ander om genade. Die een gaan om hoogmoed en wat ek doen en nie doen nie; die
ander gaan om ootmoed en ontvangs en regverdiging deur God. Die Reformasie se “genade
alleen” beteken dat “Christus alleen” regverdig is en dat ons Hom deur die
geloof Hom net maar kan ontvang as God se versoenende en verlossende antwoord
op ons sonde. Daarom kan ons onsself in Christus verlustig as ons hoor hoe volkome
regverdig en heilig Hy was wat die offer vir ons sonde gebring het. En daarom
kan ons weet dat die hemel se poorte oop is omdat Hy dit oop laat gaan het (vgl.
Ps. 118:19; Joh. 1:52).
Christus is nie hier besig om sekere
sondes goed te praat nie, maar eerder om te wys hoe goeie werke geen waarde het
as die kanker van hoogmoed nie hanteer is nie. Dit is uit die gedeelte duidelik
dat daar ’n verband is tussen hulle wat hulleself verhoog en om op jouself te
vertrou vir geregtigheid en op ander neer te sien (v.9,11). Wanneer ons verder
lees, sien ons dat dit ook saamhang met die eie-ek wat selfs in gebede sentraal
staan en dat die gebed so verdraai word dat dit eintlik klink of jy vir jouself
bid (v. 11-12). Die selfverheffende gedaante van hoogmoed (vgl. v.14) kom in
allerhande gestaltes na vore en die gelykenis leer ons dat dit selfs met godsdienstige
handelinge so kan wees. En ’n soort wettelose mens wat God dank omdat hy nie so
skynheilig soos die Fariseër is nie, is daarom ook skuldig.
Laat die skok van die slegte tollenaar
wat genade ontvang nie by ons verbygaan nie. Let wel, sy lewe word nie goedgepraat
nie. Hierdie mense het hulle nie net oorgegee aan die vyandige regering nie,
maar eintlik hul eie mense vir geld verraai. Hulle was soos hensoppers, of
dwelmmagnate wat hul mense vir eie gewin uitgebuit het. Die bedoeling is hier dat
ons sal hoor dat daar hoop is vir sondaars uit die mees veragtelike stande
wanneer God ootmoedig genader word. Ons hoor en sien drie dinge: (1) Die hart
vol ootmoed en berou; (2) die aanroep om genade; (3) die erkenning van sonde en
sondaar te wees (vgl. v. 13 se elemente met Ps. 51:3, 5, 7, 19). Hier word net
een beroep gedoen en dit is om genade en vergifnis wat alleen kan gebeur as God
toedek en reinig en vergewe (Ps. 32:1-2; Ps. 51; Rom. 4:7-8). Laat ons ook
raaksien wie die Een is wat regverdig verklaar (v. 14). Hy kan, want Hy sou die
offer bring wat die grondslag sou bevestig dat ons onsself mag beroep op God se
genade en ook leef uit sy genade. En waar hierdie genade ontvang word, verander
dit ook ons lewe (vgl. Luk. 19:8-10).
Werke geraadpleeg:
Bergsma, J.
The Word of the Lord. Year C.
Bock, D.L.
Luke: NIV Application Commentary.
France,
R.T. Luke: Teach the Text Series.
Sproul,
R.C. Luke: An Expositional Commentary.
Matthew
Henry.
Afgesien van Henry se kommentaar op die gedeelte, sê hy in die kommentaar op Gen. 4 die volgende:
"That hypocrites and evil doers may be found going as far as the best of God's people in the external services of religion. Cain brought an offering with Abel; nay, Cain's offering is mentioned first, as if he were the more forward of the two. A hypocrite may possibly hear as many sermons, say as many prayers, and give as much alms, as a good Christian, and yet, for want of sincerity, come short of acceptance with God. The Pharisee and the publican went to the temple to pray, Luk 18:10."