Lees: Hebr. 4:1-16
Gedagte vir kinders: Glo en geniet God se rus deur Jesus Christus.
Oorsig: Hebr. 3 het
aan die hand van Psalm 95 reeds gewys op die voorbeeld van die Israeliete wat
gered was uit Egipte, en tog nie die rus van Kanaän ingegaan het nie. Hoofstuk
4 bou hierop voort. Christene wat deel geword het van die nuwe verbond in
Christus, moet met goddelike vrees seker maak dat hulle nie soos die Israeliete
in die woestyn afvallig raak en die Here se beloftes van rus mis nie (v.1).
Daar is ’n sin waarin die evangelie aan die Israeliete en aan ons verkondig is.
Die rede is dat ook hulle die Here se beloftes gehad het. By hulle het hul wel die Woord van God gehoor, maar dit was nie met die geloof verenig nie
(v.2). Die wat wel glo in die beloftes van God en daarom gehoorsaam, gaan sy
rus in.
Die Hebreërskrywer gaan dan voort om te verduidelik wat hierdie rus, wat hy later ook sabbatsrus (v.9) noem, beteken. Daar is eintlik drie maniere waarop hierdie rus ter sprake is. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag (v.4). Daar is ook (2) die rus wat die volk voorlopig kon beleef met die intog onder Josua in die beloofde land Kanaän (v.8). Die Psalmskrywer maak ons bewus van (3) ’n verdere rus met ’n nuwe toepassing vir “vandag” ná Kanaan (v. 7-9). Kanaän is dus ’n tipe en heenwysing na ’n ander groter rus, want anders sou daar na Josua nie meer nodig wees om van ’n ander “vandag” te spreek nie (v.7-8). Dit is die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde (vgl. v. 9). Ons kan nou reeds in beginsel in die rus deel deur die geloof in God se beloftes wat in Christus ook ons deel is.
Dit beteken dat ons rus van ons werke soos wat God gerus het op die sewende dag van sy skepping (v.10).Hierna volg
’n oproep om ons te beywer om in die rus in te gaan sodat ons nie val in die
voorbeeld van ongehoorsaamheid van die Israeliete wat in die woestyn omgekom
het nie. Die Woord van God wat ons het, is lewend en kragtig en openbaar ons
diepste motiewe en niemand van ons kan vir God wegsteek wat ons met sy Woord
doen nie (v.12-13). Maar ons moet ook die aanmoediging in dit alles raaksien.
Ons het meer as die Israeliete wat onder Moses gelei is. Ons het die groot
Hoëpriester, Jesus Christus wat deur die hemele deurgegaan het (v.14). Hy het
medelyde en ken ons versoekinge (v.15). Dit gee ons vrymoedigheid om na die
troon van genade te gaan en God aan te roep en op die regte tyd verhoor te word
(v.16).
Besprekingsvraag: Wat is die verband hier tussen glo,
gehoorsaam, vashou en gaan?
Insig: Die rus van die nuwe verbond: Rus, en met
name sabbatsrus, is ’n grondliggende saak en simbool in die Woord van God. Dit
staan vir afhandeling, verlustiging en feestelikheid. Iets daarvan kon in die
beloofde land gesmaak word, maar uiteindelik kon net Christus die ware rus
bring. Hy het die werk van ons verlossing afgehandel en uitgeroep dat dit
volbring is (Joh.19:30). Daarom kon die voorhangsel van die tempel skeur en bevestig
dat die weg na rus en gemeenskap met God oopgemaak is (Lk. 23:45). Dit beteken
dat verlustiging in en feestelikheid oor God se werk in Christus en die
skepping, kenmerkend van God se kinders (Sondagskinders) is. Daartoe word ons
geroep, ook as ons soos Israel in die woestyn uitdagings beleef.
Die roeping
van die nuwe verbond: Dit gebeur op die weg van glo, gehoorsaam, vashou, en gaan
(v.2,3,6,14,16; vgl. 3:18-19). Die vier woorde veronderstel mekaar en ons moet
waak om een ten koste van die ander uit te sonder. Daar is egter wel ’n
bepaalde volgorde. Die geloof is grondliggend en is gerig op wat God gesê en
gedoen het. Dit is die wyse hoe ons oop is vir God se woorde en dade. Die wyse
waarop dit sigbaar word, is ons gehoorsaamheid deur die geloof en dat ons
vashou wanneer dit moeilik gaan en dat ons na God gaan in ons beproewinge.
Wanneer ons egter self probeer gehoorsaam en vashou en gaan sonder geloof, vind
ons dat dit maklik óf knersend
en krampagtig óf lusteloos
word. Daarom behoort ons aan al die beskrywende woorde vas te hou en ons
daarvoor te beywer. So vermy ons dit om verhard te word (v.7, 11).
Die rykdom van
die nuwe verbond: In die Lutherse leksionarium word Teksgedeeltes uit die Skrif
oor geld en goed saam met hierdie gedeelte behandel. Uitdagings en vervolging
kan ons geloof en gehoorsaamheid aanval, maar ook rykdom. Veral wanneer dit die
beloning is vir diegene wat Christus nie meer as enigste Hoëpriester en Herder
na waters van rus bely nie (vgl. Ps. 23:2). Hou in gedagte dat tegnologie ’n
vorm van kollektiewe rykdom is met al die versoekinge van rykdom om jou lewe
daarop te bou. Uit Prediker is dit duidelik dat ons rykdom wel voor die aangesig
van God kan geniet (Pr. 5:17-19), maar ook perspektief moet hê dat dit ons niks
baat wanneer ons sterwe nie (Pr. 5:14). Daarom moet rykes en ryk kulture ook
vermaan word om goed te doen en nie die vertroue te stel op rykdom nie, maar op
die lewende God (1 Tim. 6:17-18). Valse vertroue was Christus se groot waarskuwing
teen rykdom (Mk. 10:23-24). Vergelyk hierteenoor die rykdom van die Woord in Ps.
119:9-16. Daarna word gesoek, dit word in die hart gebêre, dit kom oor die
lippe, dit bring vrolikheid en word beskou as ware rykdom, dit vul die
gedagtes, dit gee verlustiging, en deurtrek selfs die geheue.
Geraadpleegde werke:
John Gill
Jammieson-Fausset-Brown Bible Commentary
Matthew Henry
The Orthodox Study Bible