Lees: Ps. 128
Gedagte vir kinders: Die Here seën
elkeen wat Hom vrees en getrou lewe in die kultuuropdrag.
Oorsig: Hierdie Psalm is een van die bedevaartsliedere wat strek vanaf Ps. 120 tot Ps. 134. Die
Israeliete het hierdie liedere jaarliks gesing wanneer hulle opgetrek het vir
hulle feeste in Jerusalem. Ons sing dit vandag nog op pad na die hemelse Jerusalem.
Psalm 128 sluit aan by Psalm 127 en vertel van ware seën. Ons moet hoor dat die
hoogste vorm van geluk (“welgeluksalig”) deel is van elkeen wat die Here vrees
(aanbid, met heilige ontsag, eerbied en respek voor Hom lewe – v.1)
Sulke mense is nie lui nie, maar werk met hulle hande en die
Here seën dit met opbrings wat seker is. Hulle is gelukkig en dit gaan met
hulle goed (v.2). Hierdie seën strek ook verder as die individu na die hele
gesin. Die vrou van die man word vergelyk met ’n vrugbare wingerdstok binne-in
die huis. Die wingerdstok het ondersteuning nodig, maar is vol vrug wanneer dit
versorg en gekoester word. Die kinders word weer vergelyk met jong olyfboompies (v.3).
Die staan hier onder meer vir kragtige potensiaal vir die toekoms. Die Psalmis bevestig
dan dat diegene wat die Here vrees, so geseën sal wees (v.4).
Hierna word die seën verder oor sulke mense uitgeroep en ons hoor van die bron van hierdie seën – uit Sion. Dit is die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is. Die seën kom vanaf die tempel – daar waar die versoening en lewe met God bedien word.
Die voorspoed van Jerusalem word hierby betrek as
omgewing waarin die wens waar sal wees vir al die dae van die geseënde se lewe.
Dit gaan dus oor almal se voorspoed wat lewe vanuit God se versoening. Vandag
pas ons dit toe op die Kerk van Christus wat die vervulling hiervan is. Dit
gaan dus om ’n bede tot seën vir die godvresende enkeling, en die gesin, saam
met al die kinders van God en die wens is ook vir al die dae van jou lewe (vers
5). Dit gaan egter nie net oor al die dae van ons eie lewe nie, maar ook om die
lewe van die toekomstige geslagte en dat ons ook die kinders van ons kinders
mag aanskou (v.6). Die kindskinders is die teken van die Here se seën oor hulle
wat kom en Hom ook sal ken en dien. Op hierdie wyse brei die seën uit en word
die Shalom van God (“vrede”) uitgeroep oor die Israel van God
wat in die Nuwe Testament die kinders van God genoem
word.
Besprekingsvraag: Wat is die
verskil tussen verbondseën en voorspoedsteologie?
Insig: Hierdie Psalm leer duidelik, soos
Matthew Henry reeds opgemerk het, dat ware godsdiens en godvresenheid die beste
vriende is van uiterlike voorspoed. Hulle wat waarlik heilig lewe, is ook waarlik
gelukkig. Ons moet wegkom van die idee dat godvresenheid met lang gesigte
vereenselwig word. Heiligheid beteken eenvoudig om konsekwent te wandel in die
reiniging van God. Dit is ten minste gelyk aan iemand wat nie vuil en slordig rondloop
nie. Positief gestel: Die Shalom van God waarmee die Psalm hier eindig,
gaan oor die diepste reiniging, vrede, vervulling en florering denkbaar. Eendag
sal dit volmaak wees, maar dit begin reeds in hierdie lewe. God se Shalom
is omvattend. Dit sluit die geestelike en materiële saam in. Ons hoef nie in
teenreaksie op die voorspoedsteologie op te tree asof alle seëninge net geestelik
of net eendag waar sal wees nie. Die probleem van voorspoedsteologie is dat dit
verdienstelik redeneer, op ’n plat vlak, en op ’n een-tot-een basis. Gedeeltes
soos Job en Ps. 73 help ons om ’n diepte-beskouing hieroor te behou waarin ons
ons plek voor God ken en tevrede is met die misterie wat dit steeds omring. Ons
bly op spoor hieroor wanneer ons Hom voor alles stel. Dit is egter duidelik dat
God wil seën in tyd en ewigheid.
Dit is verder ook duidelik vir wie
hierdie seën bedoel is: vir elkeen wat die Here vrees en in sy weë wandel
(v.1). Geslag of ras of rykdom of armoede bepaal nie hierdie saak nie. Onthou
weer Petrus hieroor toe dit duidelik word dat die nuwe verbond op nuwe wyses
deurbreek na alle mense (Hd. 10:34-35). En tog moet ons nie hieroor bloot
individualisties dink nie. Dit is duidelik dat dit hier verbondsmatig
hanteer word. Die godvresende man se gesin – die vrou en die kinders - word saam
betrek. En van daar af sien ons weer hoe dit verbind word aan die voorspoed van
die hele Jerusalem en die shalom-uitroep oor Israel herinner verder dat
dit net binne die groter uitdyende konteks die volheid kry wat vir die kinders
van God bestem is.
Ware geluk word hier ook nou
verbind aan die godvresende uitlewing van die kultuuropdrag – nie bloot aan geld
of goed of mag nie. Reeds aan die begin het God die mens die opdrag gegee om te
vrugbaar te wees en oor sy skepping te heers, dit te bewerk en te bewaak
(vgl. Gn. 1:28, 2:15; Ps. 127:1). Nie leeglê nie, maar die werk van die hande
word hier beloon. Saam hiermee hoor ons ook die vrugbare vermeerdering en seën
van die huisgesin wat ’n vreugde is. Lewensin word gevind wanneer ons elkeen op
unieke wyse binne eie omstandighede aan die kultuuropdrag aandag gee. Die gesin
is die basiese verbondsbousteen van die samelewing. Dit is nie bloot ’n
twintigste eeuse konstruk nie. Dit wys ook heen na die familie van God. Daarom
mag ons hier ook heenwysend ook reeds iets sien van die Bruid van Christus wat
vrugbaar is en van kinders wat soos olyfboompies is en wat later ook die heidene
insluit wat deel van die verbond sou word (vgl. Rom. 11:17-24). Laat ons onthou
om dit ook telkens, soos hier, in verband te bring met elkeen wat die
Here vrees en met die vrede oor Jerusalem en die volle Israel van God.
Geraadpleegde Werke:
John Gill
Matthew
Henry
Korte
verklaring
Jamieson-Fausset-Brown