Ek onthou vaagweg hoe ek iewers in my studente-dae in beleë moderne interpretasie van die Bybel, begin leer het dat sekere maniere van Bybelverstaan onaanvaarbaar is. Twee van die maniere wat slegte name gekry het was om die Bybel te psigologiseer of te tipologiseer. Die bedoeling was om so daarteen te waak dat die Bybel nie van sy betekenis in die onmiddellike verband losgemaak word vir ander agendas nie. Dit sou inlees in die Bybel tot gevolg hê en ons moes die Bybel lees vir wat daar staan, sonder om iets van buite af in te forseer.
Wat nie vir my geleer is nie, altans nie aanvanklik in die liberale opleiding waaraan ek blootgestel is nie, is dat die Bybel altyd-alreeds met bepaalde raamwerke benader word en dat 'n bepaalde neo-evolusionêre metode sluipend toegang kry wanneer dit nie pertinent hanteer word nie. Daar is ook nie vir my geleer dat die tipologiese lees van die Bybel van die veronderstelling uitgaan dat die Bybel nie net op mikrovlak gelees moet word nie, maar ook op makrovlak en dat tipologie erns maak met die die makrovlak van die Bybel. Soos wat Patrick Fairbairn dit treffend verduidelik: Die kerkvaders het die Bybel in die lig van die geheel gelees, terwyl moderne eksegete geneig is om al die klem op die besondere teks in die onmiddellike konteks te wil lees.
Ongelukkig het die huidige tydvak van fragmentering van die Teks daartoe gelei dat die tastende en tierende tipologiese visie op die geheel erg skade gely het. En tog sien al hoe meer mense in dat ons weer 'n tyd betree waar beide benaderings met nuwe vuur met mekaar mag en moet omgaan. Maar dan sal ons moet leer om tipologie te rehabiliteer en nie oor te gee aan gekaapte en verskraalde moderne opvattings daarvan nie.
'n Lang aanhaling wat praat
Onderstaande het ek by
Scott Hahn gevind. Die waarde van Hahn is dat hy dit nie bloot as metodiek aanbied nie, maar werklik help om dit as 'n omvattende idee aan die orde te stel wat jou hele uitkyk kan verlig. Tipologie kan jou wêreld omkeer. Ja dit roer aan die senuwees van jou hele wêreldbeskouing. Om dit te verduidelik, gaan ek vir Hahn self oor tipologie aan die orde stel, met een belangrike bywerking. Deur hierdie tolk gaan hy Afrikaans praat:
"Die woord wat
Paulus hier gebruik, typikos in die Grieks, impliseer meer as 'n eenvoudige ''les" wat uit die verlede geput kan word. In die Joodse interpretasie
impliseer ''n tipe' 'n sekere simboliese, futuristiese eienskap of betekenis -
soos wanneer Paulus in Romeine 5:14 sê dat Adam 'die tipe was van die een wat
sou kom'. 'n 'Tipe'is 'n goddelike aankondiging voor die tyd van die
toekomstige dinge in die Kerk, wanneer die einde van die eeue aanbreek. [Laat ons daarom nadink oor tipologie en
die Bybelse wêreldbeskouing].
Die wydverspreide
gebruik van tipologie - van die Griekse woord typos ('model' of 'patroon'), is
die grootste verskil tussen die Nuwe Testament en ander geskrifte uit die
eerste-eeuse Joodse skryfwerk. Alles in die
Skrifgedeeltes van Israel word gesien as 'n verwysing na die koms van Jesus en
sy stigting van die Kerk. In werklikheid het ons bewyse wat daarop dui dat dit
Jesus self was wat die apostoliese skrywers geleer het om 'tipologies' te lees
(kyk Lukas 24: 27-45). Hoewel die woord
"tipologie" later deur geleerdes geskep is, is dit onbetwisbaar in
die Nuwe Testament. Die gebeure, beloftes en mense van die Ou Testament word
deurgaans veronderstel as dat hulle patrone of 'tipes' is wat die werklikhede wat
God in Jesus en sy Kerk bewerkstellig, voorberei en bekend maak.
Die skrywers van
die Nuwe Testament ontken nie die "aktualiteit" of
"historisiteit" van die Ou Testament nie. Wat hulle egter aanneem, is
dat hierdie oomblikke en figure uit die geskiedenis van Israel deur God bedoel
was om nog groter betekenis te hê sodra Christus ons daardie betekenis kom wys. Met ander woorde:
Moses was eg. Maar hy was ook, soos ons later sal sien, 'n 'tipe'
van Jesus. So was koning Dawid ook. Die uittog was eg, soos Paulus in sy skrywe aan die Korintiërs veronderstel, maar dit was ook 'n 'tipe' van die doop. Die voeding van die
Israeliete met manna in die woestyn was ook 'n ware historiese gebeurtenis.
Maar dit was ook 'n 'tipe' van die nagmaal, die ware brood uit die hemel...
Dit is belangrik
om te verstaan wat tipologie is en wat dit nie is nie. Tipologie is nie 'n tegniek
waarmee skrywers van die Nuwe Testament die Ou Testament meganies lees soos 'n fortuinverteller nie.
Tipologie bied eintlik 'n heel nuwe wêreldvisie, 'n manier om die hele werklikheid te beskou - verlede,
hede en toekoms - volgens bepaalde patrone van God se
konsekwente handelinge met sy volk. Tipologie, soos dit in die Nuwe Testament toegepas word, veronderstel dat daar 'n goddelike ekonomie, 'n goddelike plan, aan die werk is in die wêreld (kyk Efesiërs 1:10). Dit veronderstel ook dat
God op sekere konsekwente maniere werk en dat ons kan verstaan wat God in
Jesus en die Kerk doen deur na die modelle en patrone van sy handelinge met
Israel in die verlede te kyk.
Dit is nie dat
hulle geglo het dat die geskiedenis homself herhaal nie. Elia of een van
die profete kom nie terug uit die dood nie, soos baie van Jesus se tydgenote
verwag het (kyk Markus 8:28). In plaas daarvan wek God 'n nuwe en groter
profeet in Jesus op. Wat Jesus sê en doen, roep na en bou voort op die simboliese
woorde en dade van Elia en die profete, maar dit gaan verder anderkant dit. Elisa het
garsbrode vermeerder om sy volgelinge te voed. So ook Jesus. Maar wanneer Jesus
dit doen, wys Hy nie net terug na Elisa nie, maar wys ons ook vooruit op 'n
nuwe en nog groter wonderwerk - die gee van sy vlees en bloed as brood en wyn
in die Nagmaal (kyk Johannes 6: 1-14; 2 Konings 4: 42-44).
Soos ons gesê
het, blyk dit dat Jesus die apostels geleer het om die Ou Testament so te lees.
Maar in die Ou Testament self kan ons sien dat Israel se profete dieselfde
benadering volg. Soos geleerdes
soos kardinaal Jean Danielou, S.J., aangetoon het, was die verlede vir die profete
proloog en voorbereiding. God se groot werke in Israel in die verbygegane dae, is gesien as die fondamente, die belofteryke note, vir nuwe en groter werke wat Hy
in die toekomstige Messiaanse tyd sal doen. Die vorm van dit wat kom, kan gesien
word in dit wat reeds was (kyk veral na Danielou se The Bible and the Liturgy).
Profesie is niks
anders as die tipologiese lees van die geskiedenis nie. Kyk na die latere
hoofstukke van Jesaja, veral hoofstukke 65 en 66. Jesaja beskryf die
toekomstige verlossing wat die komende Messias sal bring. Hy beskryf hierdie
verlossing in terme wat geheel en al getrek word uit die hoogtepunte van die
geskiedenis soos dit in Israel se Skrifte vertel word. Jesaja sê wat kom, is 'n
nuwe skepping, 'n nuwe paradys, 'n nuwe uittog, 'n nuwe koninkryk en 'n nuwe
tempel en 'n nuwe Jerusalem. Watter een is dit dan? Dit is alles wat genoem is hierbo.
Die skrywers van
die Nuwe Testament het gesien dat al hierdie 'tipes' in Jesus vervul word. Hy
is die Nuwe Adam (kyk Romeine 5:14), die eersgeborene van 'n nuwe skepping. Sy
liggaam is die nuwe tempel (kyk Johannes 2: 19-21). Hy lei die nuwe Eksodus
(kyk Matteus 2:15) en sy Kerk is die nuwe Jerusalem en die nuwe Koninkryk
(kyk Galasiërs 4:26; 1 Petrus 2: 9; Openbaring 1: 6)."
Hoe die Nuwe Testament die Oue gebruik
C.H. Dodd se publikasie
Al waaroor ons tot dusver gepraat het, verteenwoordig 'n relatiewe nuwe ontdekking (of herontdekking) vir die Nuwe-Testamentiese wetenskap. Waarskynlik was die beslissende keerpunt 'n boekie wat in 1953 deur 'n Protestantse geleerde, C.H. Dodd, gepubliseer is (in Afrikaans so vertaal): Volgens die Skrifte: Die onderbou van die Nuwe-Testamentiese teologie.
Dodd het begin deur die vermoede uit te daag dat die skrywers van die Nuwe Testament nie weet wat hulle doen nie, of dat hulle die Ou Testament buite konteks aangehaal het. Sy noukeurige studie het twee dinge bewys: Eerstens dat die skrywers van die Nuwe Testament altyd Ou-Testamentiese gedeeltes in konteks aanhaal. En alhoewel dit 'n vars en dieper interpretasie in die gedeeltes bring, bly hulle interpretasies grotendeels getrou aan die oorspronklike bedoelings van die Ou-Testamentiese outeurs. Tweedens het Dodd bewys dat die skrywers van die Nuwe Testament altyd in die aanhalings van verse en sinne uit die Ou Testament die leser op die 'hele konteks' van die gedeelte waarna verwys word, gewys het. By die interpretasie van hierdie gedeeltes, het hy bygevoeg, het die skrywers van die Nuwe Testament altyd 'verstaanbare en konsekwente beginsels' gevolg. Dit wil sê, hulle werk vanuit 'n basiese ooreenkoms dat daar 'n 'regte manier' was om die Skrif te lees en te interpreteer, en hulle het altyd daardie reëls gevolg.
Die gevolgtrekkings - wat uitgeroep het teen die lig van die wetenskaplike konsensus - was dramaties genoeg, veral komende van Dodd, wat een van die mees gerespekteerde Nuwe-Testamentiese geleerdes ter wêreld was. Maar Dodd het aangevoer - oortuigend ook - dat die Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe aangehaal word, net die punt van die ysberg was. Hy het gesê dat die hele Ou Testament dien as 'n soort 'narratiewe onderbou' vir die Nuwe Testament, sowel as vir die dogmas, belydenisskrifte en sakramente van die vroeë Kerk. Hy skryf:
"Alhoewel dit nie eksplisiet in die Nuwe Testament vermeld word nie, word dit oral veronderstel ... [dat] geskiedenis van die volk van God gebaseer is op 'n sekere patroon wat ooreenstem met God se ontwerp vir die mens, sy skepsel. Dit is 'n patroon, nie in die sin van 'n voorafbepaalde reeks onvermydelike gebeure nie, maar in die sin van 'n soort meesterplan wat deur die Skepper self aan die orde van die menslike lewe in hierdie wêreld opgelê word ... Dit is hierdie patroon, 'baiekeer en op baie maniere' in die geskiedenis van Israel geopenbaar, waardeur die Nuwe-Testamentiese skrywers reken dat hulle ten volle in die gebeure van die Evangelieverhaal gebring is.
Wat Dodd hier beskryf, klink baie soos die manier waarop ons die 'Bybelse wêreldbeskouing' hierbo beskryf het. En dit is ook so.
Subtekste en nuwe kontekste
Die implikasies van hierdie bevindings vir ons, as hedendaagse uitleggers van die Bybel, is belangrik. Waarom? Omdat die meeste van ons grootgemaak is om die Bybel te lees met dieselfde vooroordele as die wetenskaplike konsensus wat ons beskryf het. Ons is geleer om die Ou Testament te lees asof dit 'n ander boek is as die Nuwe. Jy kan dit steeds hoor in parogiale Bybelstudies en kategese - daar word gepraat van "die God van die Ou Testament" asof Hy anders is as die God van die Nuwe; daar word gepraat van die "Hebreeuse Geskrifte" asof dit nie deel van die Christelike Geskrifte is nie, ensovoorts.
Hierdie skeiding van die Ou Testament van die Nuwe was die dwaalleer in die vroeë Kerk. Wat ons vandag het, is eerder naïwiteit as wat dit kettery is. Ons dink dat ons meer 'wetenskaplik' is om op hierdie manier te lees. Ons ondersoek die Skrif amper soos 'n plantkundige 'n blaar kan ondersoek - deur disseksie en deursnit. Maar wat Dodd en ander sedert hom getoon het, is dat ons nie eers op die oppervlak van die begrip van die Nuwe Testament kan krap as ons so lees nie. Ons moet let op die 'narratiewe onderstruktuur'. Dit beteken dat ons die Ou-Testamentiese konteks van die Nuwe-Testamentiese tekste moet bestudeer.
Dit is dus wat ons in hier gaan doen met die Evangelie van Matteus. Ons gaan nie die are van die blaar bestudeer nie, maar die hele blaar. Nie net die hele blaar nie, maar ook die boom waaruit die blaar gekom het. Ons gaan nie net belangstel in aanhalings as aanhalings uit die Ou Testament nie, maar ook in eggo's en toespelings. En ons gaan kyk na die groter kontekste van daardie aanhalings. Ons gaan agterkom dat die Ou Testament - die hele Ou Testament - die konteks vorm vir wat Matteus in sy Evangelie doen."