2021/10/21

Boekbespreking: Joyce Little, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order (1)


Wanneer ’n publikasie reeds in 1995 verskyn het, en dit spreek in 2021 steeds asof dit gister geskryf is, het iets merkwaardig plaasgevind. Dit is die indruk waarmee Joyce Little ’n mens agterlaat in haar publikasie, The Church and the Culture War: Secular Anarchy or Sacred Order. Hoewel Little vanuit Rooms Katolieke perspektief skryf, is verreweg die meeste elemente wat sy hanteer ook vir Protestante van waarde. Ook waar ’n mens in Protestantse forsheid verplig voel om die stem te laat hoor, is daar moontlikhede om die saak om te bou tot iets wat steeds waarde het. Die rede is dat Little op besondere wyse die hedendaagse wêreldbeskouing uitpak en punt vir punt weerlê met die antiek-tydlose benadering wat oor eeue heen kom. Little  toon oortuigend aan hoe al die bekende mantras van ons dag eintlik maar net ’n (wan)orde verteenwoordig wat streef om ’n alternatief te bied op die oorspronklike orde van God. Uiteindelik kom dit neer op die heilige orde van God wat verruil word vir sekulêre anargie. Volgens Little skep sekulêre anargie weer al die redes vir een of ander vorm van tirannie wat dan noodwendig moet oorneem om ’n mate van orde te herstel.   

Boute en moere van twee teenoorstaande ordes

In sewe hoofstukke gaan Little stelselmatig te werk om die verskillende elemente uitmekaar te haal wat opgestel word teen God se heilige orde vir die samelewing en wat die Kerk veronderstel is om te verkondig en te bewaar. Op treffende wyse lei sy in deur die hedendaagse konsep van mag vanuit veral die feminisme in teenstelling te bring met die konsep van gesag. In die opvolgende hoofstukke hanteer sy abstrakte taal teenoor geïnkarneerde taal (hfst. 2); syfer teenoor sakrament (hfst. 3), gelykstelling teenoor hiërargie (hfst. 4); keusevryheid teenoor selfgeskenkte vryheid (hfst. 5); outonomie teenoor kerklike moederskap (hfst. 6); en feministiese suspisie teenoor die vertroue van Maria as uiting van ’n nuwe Eva en van die Kerk (hfst. 7). Little sluit die werk af met ’n epiloog waarin sy twee films (Crimes and Misdemeanors vs. Groundhog Day) naby aan 1995, met mekaar vergelyk en waarin sy die uiteenlopende wêreldbeskouings in die twee films aantoon. Elkeen van Little se hoofstukke verdien selfstandige behandeling en diep nadenke. Little se boek is daarom die tipe werk wat maklik met rooiwyn gepaard sou kon gaan. Hierdie publikasie bied werklik die geleentheid vir opvoedingsinstansies om meer grondliggend na te dink oor die sogenaamde waardes wat elke instelling belangrik ag. Reeds die woord, waardes, wat ook deur een van Little se hoofstukke met Orwelliaanse nuutspraak (Orwellian newspeak) in verband gebring sou word, behoort ons te laat oorweeg of die woord norme nie ’n beter keuse is nie. En verder sou Little se werk kon help om die normes en waardes as boute en moere van ’n bepaalde wêreldbeskoulike enjin uitmekaar te haal en stuk vir stuk in oënskou te neem. In hierdie aflewering word daar oorsigtelik op die eerste hoofstuk ingegaan.

Reeds in 1995 wys Little op die woord "bemagtiging" wat ’n sekere uitkyk op mag veronderstel. Sy wys van meet af aan dat die Kerk eerder werk met die konsep van gesag (outoriteit – hierna sal die woorde outoriteit en gesag uitruilbaar gebruik word vir die woord authority) werk. Sy wys daarop dat dit nogal ’n verskil maak wanneer jy net gehoorsaam omdat iemand meer mag het, of omdat iemand met outoriteit beklee is. Little verwys onder andere na die denke van die Duits gebore Amerikaanse politieke filosoof, Hannah Arendt, wat aangetoon het dat godsdiens, tradisie en outoriteit, ’n bepaalde eenheid gevorm het by die Romeine en dat die Kerk daarop voorgebou en hiermee selfs anderkant die Romeine beweeg het. Sulke gesag is nie bloot dwangmatig nie, staan vrye gehoorsaamheid voor, is verteenwoordigend van aard, en is nie self-gegenereer nie. Verwysend na ’n idee van mag wat strek vanaf Francis Bacon tot by Friedrich Nietzsche, toon sy hoe mag hedendaags opgestel word teenoor die idee van outoriteit. Dit gaan oor mag wat deur kennis die natuur wil oorheers eerder as beheers. En dit verteenwoordig ook die spreekwoordelike wil tot mag van die sogenaamde supermens wat hom anderkant goed en kwaad wil opstel en daarom alle waardes wil oorstyg of transwaardeer.

Die kontras tussen outoriteit en (pure) mag

In ’n besonder helder paar sinne verduidelik Little (p.29) die kontras tussen outoriteit en (pure) mag soos volg:

“Outoriteit aan die een kant, is gewortel in, en lei al sy legitimiteit af van, die gegewendheid van die werklikheid wat nie selfgeskep is deur hulle wat outoriteit uitoefen nie. Outoriteit getuig van daardie werklikheid en streef daarna om ons aanvaarding van, en ons gehoorsaamheid daaraan, op te roep. Mag, aan die ander kant, streef daarna om enige realiteit te bemeester en te beheer.”

Net op die volgende bladsy skryf sy weer in 'n besondere oomblik:

“...terwyl outoriteit kyk na ’n funderende gebeure in die verlede wat die werklikheid geskep het en waarnatoe alles geroep word om hulle daaraan te konformeer, en op die tradisie staatmaak om kontinuïteit tussen daardie gebeure en alle daaropvolgende geslagte te handhaaf, sien mag die verlede net as die bron van ’n bepaalde werklikheid wat dit streef om te oorkom en daarom word daar na die hede en die toekoms gekyk  as die arena vir die eie prestasies.”    

(Kommentaar: Dit is duidelik dat ’n diskontinuïteit met die verlede hierin veronderstel word en dat ’n teologie wat uitsluitlik op die tweede of derde artikel van ons geloof die klem plaas, makliker sal val vir hierdie tipe benaderings wanneer dit oorgedra word na die teologie.) 

In ’n belangrike voetnota wat Little tussen hierdie twee aanhalings aanbring, wys sy op een van die ironieë van ons dag. Dit is dat hiërargie geassosieer word met ongelykheid en dat mag (soos met die woord bemagtiging) geassosieer word met gelykstelling (egalitarisme). Die omgekeerde is egter volgens Little eerder waar. Verwysend na die destydse kardinaal Ratzinger se woorde in sy werk, Church, Ecumenism and Politics, toon sy aan dat hiërargie nie heilige dominansie beteken nie, maar eerder heilige oorsprong. Hiërargiese diens en bediening bewaar  die oorspronge wat heilig is en maak juis nie arbitrêre besluite nie, maar staan eerder in diens van gelykwaardige behandeling. Mag, aan die ander kant, bekla altyd op een of ander manier die uitoefening van kontrole oor iets of iemand en is sinoniem met ongelykheid. Die hedendaagse idee van mag gaan oor niemand wat niemand beheer nie, want elkeen kan enigiemand deur bemagtiging op afstand hou. Little wys dan daarop dat selfs waar dit moontlik is, dit nie ’n gelukkige visie verteenwoordig nie, aangesien dit vervreemding van mekaar in die hand werk. Maar meer nog, dit is ook nie werklik moontlik nie, aangesien mense bewysbaar ongelyk is in skoonheid, atletiese vermoëns en ook in hulle vermoë om mag uit te oefen.

Little verwys spesifiek ook na Hannah Arendt se artikel, met die veelseggende titel in die verlede tyd, What was Authority? Hiermee spreek Arendt reeds in 1958 haar oortuiging uit dat outoriteit ’n woord van die verlede is, en verdwyn het van die moderne wêreld. Little verwys hiermee saam ook na Arendt se klassieke werk, The Origins of Totalitarianism (1951). Hierin poneer Arendt dat die moderne wêreld gekenmerk word deur die verwerping van dit wat gegewe is – in die natuur sowel as die geskiedenis. Daarom kan gesag ook nie aanvaar word nie. In haar finale hoofstuk wys Arendt daarop dat die verlies aan outoriteit ’n lang en komplekse geskiedenis het in die Weste waarin godsdiens en tradisie eerste ondermyn is. En sonder godsdiens en tradisie kan outoriteit ook nie bestaan nie. Getrou aan haar Rooms Katolieke tradisie, wys Little ook op die toepassings wat Arendt hieroor maak. Volgens Arendt beteken dit dat Luther moes geweet het dat tradisie en godsdiens nie kon bly toe hy die outoriteit van die Rooms Katolieke Kerk van destyds uitgedaag het nie. En Hobbes en die politieke filosowe van die sewentiende eeu kon nie verwag dat outoriteit en godsdiens kon bly sonder tradisie nie. En humaniste kan weer nie verwag dat die tradisie van die Westerse beskawing kan bly bestaan sonder godsdiens en outoriteit nie. 

(Kommentaar: Arendt se punt oor die triade van outoriteit , tradisie en geskiedenis kan wel aanvaar word, maar Luther is nie noodwendig skuldig aan die afbreek hiervan nie. Die basis van gesag kan wel verskuif, soos by Luther, maar dit beteken nie dat daar hiermee met begronde gesag weggedoen word nie. Gedelegeerde en afgeleide gesag is nog steeds gesag. Vergelyk in hierdie verband ook die reaksies van Protestante op die  belanghebbende werk van Brad Gregory, The Unintended Reformation wat onder meer hieroor gedagtes geopper het, hier, hier, hier, hier en hier). 

Die feministiese konsep van mag

Hierna gaan Little voort om noukeurig aan te toon hoe die feministiese konsep van mag vandag hierop inwerk. Feministe is oortuig dat die Pous en biskoppe en daarom ook nie ander gesagsdraers in kerke, nie Christus en die apostels verteenwoordig nie, maar net hulleself. Dit gaan hiervolgens dan daaroor dat die uitoefening van kerklike gesag niks anders is as die gebruik van mag om ander te domineer nie.  Daarom kan ook die tradisie beskou word as niks anders as manlike patriargie en chauvinisme wat nou net uitgesprei is oor tyd nie. Die tradisie is hiervolgens nie net besmet nie, maar geperverteer deur die euwel van patriargie. Verwysend na Sandra Schneiders se woorde, gaan dit nie daaroor dat die tradisie probleme het nie, maar eerder dat die tradisie self die probleem is. Daar word selfs sover gegaan as om die funderende gebeure van die geloof en die apostoliese getuienis te bevraagteken. Daarom dring konsekwente feministe selfs daarop aan dat ons nie eers die kanon van die Bybel kan vertrou nie, want ook daardie besluite is besmet deur patriargie. Dit weerspieël volgens iemand soos Elisabeth Schussler Fiorenza bloot die keuse van die historiese wenners. Die kanon is daarom niks anders nie as die resultaat van magstryd in die vroeë Kerk. Daarom moet die oorspronklike gebeure gerekonstrueer word.

(Kommentaar: Vergelyk in hierdie verband Richard Neuhaus se onderskeiding tussen Feminisme en Radikale Feminisme, asook hoe hy verwante sake beoordeel hier, hier, hier, en hier. Vir ’n oorsig oor Neuhaus, die stigter van die behoudende en filosofies begronde joernaal, First Things, kyk hier.)

En natuurlik kan so ’n proses vir konsekwente feministe nie hier stop nie. Want as die Kerk se geloof gebaseer is op ekklesiologiese mag (power) wat die geloof verwring het, alreeds in die Apostoliese era, het dit baie konsekwensies. Dan moet die probleem met die Kerklike instelling ook verder gevoer word na ’n probleem met die geloof self. Daarom was dit nie genoeg nie, verduidelik Little, vir diesulkes, om vroue nou bloot by te voeg en in te roer nie. Nee, reeds sedert 1978 het vroue volgens Schneiders begin besef: “Ons praat daaroor of die God van die Joods-Christelike openbaring die ware God is of eintlik net man wat groot geskrywe staan om hul dominansie te legitimeer.” Daarom kan selfs gevra word of Jesus, ’n historiese manlike figuur, die Messias en Verlosser is vir hulle wat nie manlik is nie. En of dit wat die Kerk sakramente noem, nie maar net gereedskap van manlike rituele is om vroue te misbruik nie. Little wys daarop dat dit wat feministe in gedagte het, neerkom op die vervanging van patriargale mag deur feministiese mag: “Wat hulle wil hê, is nie die herstel van waarheid in die fundering van die gebeure van ons geloof nie (met die veronderstelling dat waarheid onderdruk is), maar ’n rekonstruksie  van ons geloof op die fondasie van die feministiese siening van sake.” 

Little verwys ook na Sheila Collins wat stel dat die vervanging deur feministiese rekonstruksie (her-story in plaas van his-story), noodwendig enorme skeuring tussen die verlede en die toekoms veroorsaak. Feministe gee egter nie om nie, want hulle reken dat hulle die minste het om te verloor en is daarom meer oop vir ’n radikale, diskontinue toekoms. Die toekoms is hierin die sleutel en daar word selfs deur iemand soos Letty Russell gepraat van die “geheue van die toekoms” waarin die sogenaamde gemarginaliseerdes en verdruktes ’n nuwe gemeenskap sal geniet: “Dit daag daarom ook beide die inhoud en gedagte-strukture uit van teologie soos ons dit ken.” Daarom moet ons besef dat ons tot nou toe in ’n “huis van slawerny” gelewe het wat feministe subversief omver moet werp. In dit wat die feministe dan omver wil werp, is die rol van herbenoeming van die werklikheid baie belangrik. Daar sal in ’n volgende hoofstuk van Little hierna teruggekeer word.

(Kommentaar: Dit is duidelik dat die teologiese sanksionering van hierdie benadering met ’n gedagte van ’n nuwe skepping (nova creatio) sal werk waar die verlede en die toekoms, die proton en die eskaton, nie meer as in kontinuïteit met mekaar hanteer kan word nie. Dit moet noodwendig ook in opstand wees teen enige sprake van skeppingsordinansies. Die bekende stelling van Thomas Aquinas dat die genade nie die natuur vernietig nie, maar heilig en verheerlik, en wat ook deur gereformeerdes soos Turretinus onderskryf word, moet noodwendig in hierdie benadering verwerp word. Dit is dan ook nie verrassend nie dat Gereformeerdes en behoudende Rooms Katolieke op hierdie punt ooreenstemming het.)

Afgewys: Om self oor goed en kwaad te besluit

In ’n insiggewende aanhaling wat Little van Letty Russell gee, word die verskil tussen tradisionele outoriteit en feministiese outoriteit soos volg verder verduidelik:

“Die patriargale denkwyse besluit wat die waarheid is en trek ’n streep, en skielik word diegene anderkant die streep ketters. Ons weet egter dat teologiese lyne altyd aan die beweeg is in antwoord op veranderinge in die menslike kultuur. Daar is min duidelike strepe, en dit is miskien beter om nie die vraag na outoriteit so aan te voer nie. In die Christelike geloof is daar ’n sentrum (verbintenis aan Jesus Christus) en ’n sirkel (’n hermeneutiese sirkel). Elke teologiese interpretasie affekteer elke ander een, sodat ons voortgaan om rondom die sirkel te beweeg terwyl ons probeer om metafore asook modelle te skep wat getrou is aan die sentrum van ons verbintenis.”

Little se reaksie hierop is ook die moeite werd om aan te haal: “Hier het ons waarlik ’n selfgegenereerde mag wat ditself beskou as vry om die eie verbintenis aan Christus te definieer en om eiewillig die metafore en modelle te skep wat uitdrukking daaraan verleen.” Little verwys ook na ’n selfbenoemde heks, Starhawk, by ’n spiritualiteit-sentrum wat voorspraak maak vir die hergeboorte van die antieke godsdiens van die groot godin. Hierdie vrou laat duidelik blyk hoe die konsepte van outoriteit en mag hanteer word: “Dit is ongemaklik om jou eie outoriteit te wees, maar dit is die enigste omstandigheid waaronder ware persoonlike mag kan ontwikkel.” Vir Little is dit ’n bevestiging dat daar vir die feministiese siening net een soort outoriteit is en dit is mag, en dat manne wat mag in die verlede uitgeoefen het, vervang moet word deur vroue wat mag in die toekoms uitoefen.

Kommentaar: Die sou in hierdie verband die moeite loon om verder oor die politiek van mag en die politiek van afguns te besin. En daarom sal die baanbrekende denker oor mimetiese begeerte en afguns en sondebokke, René Girard, ook nie verbygegaan kan word nie. Hiermee saam moet die eenvoudige "wet" van gesag nie vergeet word nie. Die prediker, skrywer en teoloog, Douglas Wilson, verwoord dit soos volg: Outoriteit vloei na diegene wat verantwoordelikheid neem.    

Little wys ook daarop dat Feministe nie die enigste groep is wat nie outoriteit begryp nie. Daar is ook ander groepe wat waardering vir die begrip verloor het. Verwysend na die bekende ensikliek van Pous Johannes Paulus II, Veritatis Splendor, wys sy op die afwysing van die hedendaagse dwaling waarvolgens mense die reg het om goed en kwaad vir hulself te besluit. Om waarheid te beskou as iets wat geskep word en daarom ook deur ons beheer word, maak van vryheid iets wat ons self definieer. Indien iemand egter nie transendente waarheid wil handhaaf nie, neem die dwang van mag noodwendig oor. Daarom moet mense ook verstaan dat die Kerk nooit self kon besluit wat die waarheid is nie, maar slegs daarvan kon en kan getuig en dit bely en leer. Die Kerk het daarom met betrekking tot waarheid en moraliteit slegs die outoriteit om getuienis te lewer, dit te verteenwoordig en dit te verkondig.

Little sluit af deur na Jesus Christus te verwys. Hy leer ons dat die Koninkryk van God regeer word deur outoriteit en nie deur blote mag nie. En sy mag word ook gekenmerk deur sy liefde. In hierdie verband wys Little dan ook in ’n voetnoot daarop dat die Kerk Ockham en Calvyn se voorstellings van God se mag wat absoluut en vrymagtig is, afgewys het. Hierteenoor stel dan dat God se mag altyd gekwalifiseer word deur sy wese wat liefde is.

(Kommentaar: Dit is ’n vraag of Ockham en Calvyn sonder meer gelyk aan mekaar gestel kan word. Beide Ockham en Calvyn se verteenwoordigers sal verder ook hieroor nagevors moet word - oor die sogenaamde potentia absoluta teenoor die potentia ordinata - ten einde te bepaal hoe gelowiges uit hierdie tradisie hulself hieroor sou verantwoord. Vergelyk ook hier die genoemde resensies op Gregory se werk wat onder meer hieroor handel.)

Christus se outoriteit op aarde om te spreek, het ook presies gelê in sy gehoorsaamheid aan die Vader. Ook ons vermoë om met gesag te spreek as Christene, lê in niks anders nie as ons gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Verwysend na Jeremy Rifkin se publikasie, Time Wars, wys sy daarop dat die minagting van geskiedenis die voorwaarde is vir die vrye uitoefening van pure mag. Daarom is dit dringend noodsaaklik dat die Christelike geheue verhelder en verdedig word. Little koppel hierdie outoriteit natuurlik aan die Ministerium van die RKK, maar die saak bly ook vir Protestante relevant. Sy beklemtoon wel dat Pous en Magisterium nie iets skep nie, maar slegs die erfenis oordra wat die deel van alle Christene is. Sy wys ook aan die hand van Ratzinger op die Kerk as instelling wat nie ons skepping is nie, maar eerder die werklikheid wat ons ontvang uit die geskiedenis van hulle wat glo en wat ons aangee as iets wat nog onvolledig is en net vervul sal word wanneer die Here weer kom. 

Ten Slotte

By Protestante sal ons seer sekerlik meer gewag wil maak van afgeleide gesag, maar ook hierdie gesag is begrond, konkreet en iets wat nie self geskep is nie. Ook by Protestante, weliswaar op ’n ander wyse, veronderstel geloof, tradisie en gesag mekaar. Waar gesag (vir Protestante die Woord en belydenis, tesame met die afgeleide gesag van die Kerk) ondermyn word, sal die geloof wat eenmaal oorgelewer is, uiteindelik ook moet val. Of dit moet so geherdefinieer word dat dit eintlik nie meer herkenbaar is nie. Die in-woord wat vandag gebruik word om ons sag te maak, is dat die verlede slegs oorstyg word, maar dit bring ons reeds by die volgende hoofstuk waarin Little die rol van herdefiniëring hanteer. Want herdefiniëring kom dikwels maar net neer op wyn wat water moet word. Verwatering, of meer deftig gestel, reduksionistiese afwatering, dit is wat dikwels gebeur wanneer sogenaamde mondige modernes hulle hand aan die nuwe wyn van die nuwe verbond slaan. En daarom kan ’n konsep van pure mag nooit kers vashou by die gesag en outoriteit van Christus en sy liggaam nie. Dit daag ons wel uit om die gesag van Christus so te bedien dat dit duidelik is dat outoriteit en gesag in en deur Hom heeltemal nuwe dimensies kry.