2024/11/15

Tot ’n val en ’n opstanding

Lees: Luk. 2:21-40

Gedagte vir kinders: Die HERE Jesus red jou of Hy bring jou tot ’n val oor jou hoogmoed.   

Oorsig: Die Here Jesus is in ’n gelowige huis van Israel onder die ou verbond gebore en hulle het met Hom as baba gehandel volgens die voorskrifte van die Ou Testament. Op die agtste dag is Hy besny en hulle het Hom die Naam Jesus gegee soos die engel beveel het (v.21). Die wet het ook voorskrifte gehad oor die reiniging van die vrou en daarna het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel, volgens ’n ander wet oor die heiliging van eersgeborenes. Die wet het toegelaat dat tortelduiwe of jong duiwe vir arm mense toegelaat kon word as offers (v.22-24).

In daardie tyd was daar ’n ouer man in Jerusalem met die naam van Simeon. Hy was regverdig en vroom (statig) en het die vertroosting van Israel verwag en die Heilige Gees was op hom. Dieselfde Heilige Gees het aan hom geopenbaar dat hy nie sou sterf voordat hy die Christus van die Here gesien het nie (v.25-26). Deur die Gees gelei, het Simeon in die tempel gekom net toe die ouers die kindjie inbring het. (v.27) Hy het die kindjie in sy arms geneem en God geloof: “Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (v.28-32). Josef en Maria het hulle verwonder oor hierdie woorde (v.33). Simeon het hulle toe geseën en vir Maria gesê: Kyk, hierdie Kind is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel. Ja, Hy sou ‘n teken wees wat teengegaan (weerspreek) sal word en ‘n swaard sou deur Maria se siel gaan oor wat met Hom moes gebeur. Maar so sou die gedagtes uit baie harte duidelik gemaak (openbaar) word (v.34-35).              

Daar was in daardie tyd ook die profetes Anna (Hebreeus: Hanna) wat uit die stam van Aser was en ’n dogter van Fanuel. Sy was al 84 jaar oud en was as jongvrou net sewe jaar getroud voor haar man gesterwe het. Sy was dus ’n weduwee, moontlik sonder kinders, en het nie weggebly van die tempel nie en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. Sy het in dieselfde uur as Simeon daar gekom en die Here geprys en oor Hom met almal in Jerusalem gespreek wat die verlossing verwag het (v. 36-38). En toe die ouers alles gedoen het volgens die voorskrifte van die wet van die Here, het hulle teruggegaan na Galiléa in die noorde van die land, na hulle stad Násaret. Daar het die Kindjie gegroei en sterk geword in die Gees en Hy was vol van wysheid. En die genade van God was op Hom (vgl. 1 Sam. 2:26). 


Besprekingsvraag: Wat leer ons hier oor die Here Jesus en mense wat al oud is?

Insig: Jesus Christus is gebore onder die wet en het in alle dinge aan sy broers gelyk geword, om sodoende al die sonde van ons hele lewe te dra (vgl. Rom. 8:3; Gal. 4:4; 5:3). Hy vervul ook Daniel se profesie van die 70 weke op kleiner skaal (vgl. Dan. 9:24). Dit het eerstens gedui op die 490 jaar vanaf Daniel tot en met die kruisiging en opstanding. Maar dit was nou ook 70 weke sedert die engel aan Sagaria verskyn het. Ons verneem in v. 22 eintlik van drie afsonderlike seremonies vanuit die Ou Testament – die reiniging van vroue na 40 dae, die verskyning van eersgeborenes voor die Here, en die toewyding van eersgeborenes aan die Here (vgl. Lev. 12:2-4,6, Ex. 13:2,12,16; 34:19; Num 18:15-16; 1 Sam. 1-2). Aan al hierdie voorskrifte is die Here Jesus onderwerp alhoewel Hy as die geliefde Seun van God dit nie nodig gehad het nie. Die seremonies herinner ons ons wel aan ons behoefte aan reiniging en die belangrikheid om as gesinne voor God te verskyn vir reiniging. Die beginsel van solidêre familie voor God in gesinne word ook nie in die Nuwe Testament opgehef nie, maar eerder voortgesit. Ons en ons gesinne het steeds hierdie reiniging nodig, nou soos vervul en bedien in die Here Jesus wat gekom het.

Ons vind hier ook die heerlike getuienis van ouer figure wat reeds in hierdie reiniging lewe, saam met herders en engele by die geboorte van Christus. Simeon dra dieselfde naam as die stamvader Simeon wie se woede later deur Jakob vervloek is (Gen. 49:7). En tog, die stam Simeon het later hul plek gevind in die assosiasie met die stam Juda uit wie die Messias uiteindelik gebore is (Rigt. 1:1-3). Simeon word beskryf as toegewyd (vroom: eulabes), die woord wat ook destyds gebruik is om ’n waardige staatsman te beskryf. Hy bevestig dat godvresende ouer mense die vervulling van God se beloftes verwag. Ook Kersfees behoort ons daarom te laat deurkyk na die beloftes en verwagting van die tweede koms van ons Here. Simeon leer ons ook van berusting om heen te gaan wanneer God se doel met ons op aarde afgehandel is: “Laat u kneg nou maag gaan”. Daar is kerklike tradisies wat vandag nog elke aand die Nunc Dimittis (Sagaria se beginwoorde) bid/sing om so as gelowiges voor te berei op die heengaan na God toe. Daar is ’n tyd om ons kop gewillig en in oorgawe neer te lê voor Hom in wie hande ons tye is en elke aand behoort eintlik so ’n inoefening te wees. Anna, die Griekse weergawe van Hanna, bevestig verteenwoordig  Israel as weduwee en onvrugbare (vgl. Jes. 54:4-5; 62:4-5,12) en dat Jesus Christus die antwoord op alle alleenheid en onvrugbare lewe en eensaamheid is. Sy bevestig ook dat jy steeds in die ouderdom volstoom vir die Here kan leef en dat ons geensins die bediening van gebed en getuienis moet onderskat nie. Die senior dae kan van die vrugbaarste tye van ons lewe voor sy aangesig wees.      

Ons hoor ook hier groot woorde oor die heerlike vooruitsig van Jesus Christus se lig tot verligting van die nasies. Hy gee terselfdertyd (let wel) betekenis (heerlikheid) aan Israel en die Ou Testament. Maar Hy is ook die een wat ’n skeidslyn veroorsaak. Dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament sien ons dit (vgl. Jes. 8:14-15; 28:13-16; Luk. 10:17-18; Rom. 9:33; 1 Pt. 2:6-8). Hy is ’n struikelblok wat tot aanstoot en ’n val kan lei, maar ook die enigste rede waarom ons kan opstaan in ’n nuwe lewe. Daarom kom ons elkeen by kruispaaie oor Hom in ons lewe. Lukas openbaar egter hier dat God reeds van sy kleintyd af bevestig het dat God se guns op Hom was en dat hy, dag vir dag toegeneem het om dit te wees wat Hy reeds was. Soos Samuel destyds, is Hy van kleins af reeds God se antwoord op die godsdienstige leiers wat afvallig geraak het (vgl. v. 40; 1 Sam. 2:26). Uiteindelik is Hy die enigste antwoord op elke feilbare leier. Daarvoor is Hy gebore en het Hy gekom. In Hom kan sy lede, sy Kerk, nou ook beleef dat sy genade op hulle is en daarom bedien in sy krag.      

Werke geraadpleeg:

Darrell Bock. Luke: NIV Application Commentary.

R.C. Sproul. Luke: An Expositional Commentary.

R. T. France: Luke: Teach the Text Commentary Series.

Matthew Henry

Ancient Christian Commentary