Gedagte vir kinders: Die HERE se beloftes soeter as heuning vir elkeen
wat dit glo.
Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet (torah – omvattende
onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer daarvan. Dit is gerangskik
aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet en elke letter van
die alfabet het dan agt verse wat met daardie spesifieke letter in die Hebreeus
begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal oor die A tot Z
van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende woorde wat die onderrigting
beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt soorte beskrywings
gebruik, maar elke afdeling onder elke Hebreeuse alfabet-letter gebruik ten
minste ses van woorde.
Ons lees in vers 97 onder die Hebreeuse letter, Mem, dat die Psalmis hier
’n belydenis doen, sonder enige klag of versoek. Hy het die HERE se wet (onderrigting/instruksie)
lief. Daarom bedink hy dit die hele dag (v.97). Daar is ’n besondere gevolg
hiervan wat hy in die volgende verse noem waar hy stel dat dit hom laat uitstyg
bo verkillende groepe mense. Dit maak hom (1) wyser as sy vyande. Vyande gaan
hier oor hulle wat in opstand teen God is en hom vervolg en planne maak in
stryd met God se wil. Die Psalmis begrond sy wyser wees in die feit dat God se
gebooie syne is (toegeëien) vir ewig (v.98). Die HERE se getuienisse laat hom
verder ook (2) uitstyg bo al sy leermeesters. Die rede is dat die HERE se
getuienisse sy bepeinsing (meditering/deurdenking) is (v.98). Die Here se
bevele gee hom selfs meer verstand as die ou mense. Die rede is omdat hy die
bevele ook doen (bewaar; v. 100).
Hierna gaan die Psalmis voort om te getuig dat hy in sy praktiese lewe sy
voete teruggehou het van elke verkeerde pad, sodat hy wel die HERE se woord kan
bewaar (v.101). Hy verduidelik verder dat hy van die Here se verordening nie
afgewyk het nie, aangesien die HERE self (Ú) hom geleer het (v.102). God self is
dus teenwoordig in sy verordeninge. Van hier af gaan die Psalmis voort om sy
genieting van God se woord en sy beloftes te beskryf. Hy roep uit dat die HERE
se beloftes soet is vir sy verhemelte, meer as heuning vir sy mond (v.103). Hy
sluit dan hierdie gedeelte af deur te verklaar dat hy verstand kry uit God se
bevele. Daarom haat hy elke leuenpad (v.104). Die haat gaan is dus nie uit
vanaf ’n seergemaakte eie-ek nie, maar eerder dat hy verstand gekry het uit God
se bevele oor die ware en goeie pad en daarom die afskuwelike alternatiewe wat uitloop
op ondergang, verafsku.
Besprekingsvraag: Wat is die geheim van ’n lewe wat in wysheid uitstyg?
Insig: Postmoderne mense verbeel hulle maklik dat hulle nou totaal bevry anderkant ’n vorige era getree het en daarmee ook van sekere strukture en strakke redenasies bevry is. Daar is egter een ding waarmee die mens van vandag net so vasgevang is en selfs meer as vorige geslagte: Die nietige najaag van jou outonomie (eie wetlikheid) wat eenvoudig sal eindig waar Adam en Eva, Babel en elke eie poging van “I did it my way” al lankal beland het. Die Woord wys hier op die lewegewende alternatief wat tot wysheid lei wat jou bo jou tydgenote kan laat uitstyg. Wanneer ons dit verneem kan ons nie anders as om na te dink oor die lewe van Dawid as jong vlugteling teen die bestaande orde van die ongehoorsame Saul nie. En natuurlik is daar ook sy groot Afstammeling, die Here Jesus op aarde, wat dit meer as enigeen vergestalt het om van kleins af wyser as die leraars en die ou mense te wees en sy vyande te troef (vgl. Luk 2:46-47; Mat. 15:1-20; 22:46). Dit is opvallend dat hierdie afdeling met liefde begin (v.97) en met haat eindig (v.104). Dit beteken dat ons eers deur ware liefde moet werk om die regte soort haat te kan vertoon wat nie in ons eie-ek gestel is nie. Die Kerkvader, Augustinus, het ook daarop gewys dat hierdie liefde vir God se onderrigting verstaan moet word vanuit die vorige vers 96 wat ontdek het dat God se gebod baie wyd is en daarom soveel ruimte bied om waarlik te leef. Hier is werklik sprake van die groot en liefdevolle alternatief op mense se eiewilligheid.
Ware liefde wys alreeds in bepeinsing (v.97). Die Woord word dus oor en
oor in die gedagtes gemaal die hele dag. Die gevolge hiervan kan ook getoets word
in die praktyk. Sulke mense styg uit in wysheid bo vyande, mentors, en ouer
mense met ervaring. Ja, vyande kan gefnuik word, en mentors en ouer mense wat
in die sisteem vasgeval geraak het kan verbygegaan word, tot eer van God
(v.98-100). Die geheim van so ’n lewe word gegee in die daaropvolgende verse. Dit
gaan oor die verkeerde pad wat vermy word (negatiewe) en sy Woord wat prakties
bewaar word (positiewe). Dis so eenvoudig as om nie van die verordeninge af te
wyk nie (negatiewe) en om by God te leer (positiewe; vgl. v.101-102). Dit is
die uiterlike kant, maar in die daaropvolgende verse (v. 103-104) leer ons iets
ken van die innerlike kant van die Psalmis en van sy geestelike smaak. God se
beloftes is soet, meer as heuning wat as die soetste middel geag word (vgl. Rigt.
14:18; Spr. 5:3; Hooglied 4:11). Daar is ’n diep innerlike verlustiging in God
se Woord by hulle wat lewende gemaak is deur sy Gees. Die effek van hierdie
verhouding met God deur sy Woord is om verstand te verkry (v.104). Dit is baie
meer as kennis. Dit gaan daaroor om in gemeenskap met God die lewe te sien soos
dit in sy ware wese is. Ons oupas en oumas het soms net laerskoolopleiding
gehad, maar hulle het deur God se genade iets hiervan geken.
Dit is iets wat ook deurwerk na jou emosies – beide liefde en haat. Jy
kan nie my vriend wees voor jy my nie wys wie jou vyand is nie, het Langenhoven
gesê. Ons kan dit aanpas: Jy kan nie werklik lief wees as jy nie daarmee saam kan
toon wat jy haat nie. Of omgekeerd: Jy kan net geloofwaardig haat as jy weet
wat jy waarlik liefhet. Anders kan jy eenvoudig nie effektief die stryd
aanknoop nie. Die Psalmis haat elke leuenpad, elke weg wat vir die mens reg
lyk, maar waarvan die einde weë van die
dood is (Spr. 14:12). Persoonlike en kollektiewe illusies kan jou tydelik
troos, maar uiteindelik speel dit in die hand van die satan en die bose en is vernietigend.
Daarom moet ons leer om ook die Wraakpsalms te waardeer. Wanneer die heerlike
alternatief uit God se Woord ons aangryp, behoort ons elke leuenpad te haat wat
ons en ons geliefdes daarvan wegvoer. Waar begin die uitstyging oor vyande,
mentors en oues dus? In praktyk by die vermyding van die slegte pad, maar dieper
nog, by die verlustiging in en bepeinsing van God se Beloftewoord. Dit is naby
ons in Christus wat hierdie lewe reeds in ons plek geleef het. Dit is in ons
mond en in ons hart om dit deur sy gees te doen. Laat ons ons dan verlustig in
die ruimte en verlustiging en uitstyging wat sy Woord bring. En uitstyg om die
heerlike alternatief aan die wêreld te wys.
Werke geraadpleeg:
Akin,
Daniel. Exalting Jesus in Psalms 119 (Christ-Centered Exposition Commentary).
Bellarminus,
R. A Commentary on the Book of Psalms.
Brueggemann,
W & Bellinger, W. Psalms, New Cambridge Bible Commentary.
Geoffrey
Grogan. Psalms (Two Horozons Old Testament Commentary – THOTC).
Ash, C. Psalams:
A Christ-Centered Commentary, Volume 4.
Matthew Henry.