In die eerste aflewering is die klassieke publikasie van ’n politieke filosoof
van die twintigste eeu, Eric Voegelin, bekend gestel. Volgens Voegelin is die Gnostisisme
die essensie van modernisme en nuwe dinge is nie so nuut is soos wat ons dink
nie. Hy is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van
die gnostiese bewegings tot in ons tyd geëien kan word. In hierdie aflewering
kyk ons na sy tweede en laaste essay in sy publikasie met die titel Science,
Politics and Gnosticism.
Surrogaat-godsdiens: Gnostieke massabewegings
In sy tweede referaat, Ersatz Religion: The Gnostic Mass Movements of
our Time, hanteer Voegelin die gnostiese
massabewegings en die intellektuele bewegings van sy tyd (en ons tyd) as
minderwaardige plaasvervangende godsdienste. Insiggewend genoeg toon hy hiermee
aan dat daar nie so ’n groot verskil is tussen massabewegings en intellektuele
bewegings as wat sommige dink nie. Voegelin voer aan dat beide hul oorsprong
het in bepaalde intellektuele en kleingroepe. Dit laat ’n mens dink aan die
kleingroepe waaruit die Kerk ook gegroei het en versterk die vermoede van die
nabootsing van godsdiens. Hierdie vermoede word ook verder bevestig wanneer
Voegelin opmerk dat ons die woord altruïsme aan Auguste Comte te danke het, en
dat dit die sekulêre plaasvervanger vir liefde is wat gebruik om word om die
broederskap van mense sonder die Vaderskap van God te erken. Hieronder tel hy die
progressiwisme, positivisme, Marxisme, vorme van psigoanalise, kommunisme,
fascisme, en nasionale sosialisme.
Voegelin identifiseer ’n gnostiese lyn vanaf die antieke Mediterreense gebied deur bewegings van die Hoë Middeleeue heen, tot by die Westerse Renaissance en Reformasie. Hy identifiseer ses kenmerke van die gnostiese houding. (1) Ontevredenheid met die eie situasie (nie so vreemd nie); (2) die geloof dat die situasie te wyte is aan swak organisasie van die wêreld (meer vreemd – dit is hiervolgens strukturele probleme eerder as sonde-probleme); (3) redding uit hierdie bose toestande/strukture is moontlik; (4) Die wese van die wêreld moet verander word in ’n geskiedkundige proses; (5) Die verandering moet geskied deur menslike aksie en die mens se eie pogings; (6) die ingeleides met kennis sal vir ons die metode wys hoe dit moet gebeur. Dus: ’n formule vir selfverlossing en wêreldverlossing.
Tipiese simbole
Hierdie houding vind uitrukking, nie net in bepaalde denkpatrone nie, maar ook tipiese simbole. Die motiewe en simbole sal hier net kortliks genoem word, en dan sal daar veral na twee uitdrukkings daarvan gekyk word wat ligte tot in ons dag laat opgaan.
Voegelin identifiseer eerstens drie soorte binnewêreldse verabsoluterings van die Christelike verwagting. Die eerste het te make met die einddoel van die lewe wat hier en nou reeds sy volle verwesenliking moet bereik. Dit word vergestalt in alle vorme van progressiwisme. Die tweede vorm het te make met ’n waardestelsel en ’n staat van volmaakte waardes - ’n perfekte sosiale orde - waarin veral ’n sekere soort geïdentifiseerde boosheid oorkom moet word. Die derde tipe verenig die vorige twee aksente van doel en waarde en Voegelin identifiseer dit veral in die uitlopers van Marx en Comte wat hy as ’n tipe aktiewe mistisisme beskryf.’n Tweede reeks simbole wat kenmerkend van die moderne Gnostisime is, herlei
Voegelin terug na Joachim van Fiore wat geleef het aan die einde van die 12de
eeu. Joachim leef in ’n tyd van opbloei en reageer op Augustinus wat in die 5de
eeu die einde verwag het. Joachim identifiseer die era van die Vader en die
Seun en die Heilige Gees en meen dat hulle, anders as Augustinus, in die era
van die Gees leef. Reeds hier kom die simptome van die konsep van ’n
post-Christelike era na vore. Vier simbole is in hierdie skema kenmerkend: ’n
Derde era, ’n leier, ’n profeet, en ’n gemeenskap van geestelik outonome
persone. Ons fokus hier net kortliks op die eerste en die laaste. Die konsep
van ’n derde era is met verskillende variasies ’n deurlopende tema by baie,
maar Voegelin boor deur die onderskeide na die onderliggende saak. Dit is dat ’n
derde era van perfeksie ’n heersende simbool is in die selfverstaan van die
moderne gemeenskap. In hierdie simbool lê die idee van ’n vergeestelikte
mensdom wat in gemeenskap lewe sonder die bemiddeling en ondersteuning van instellings.
Dit vloei voort vanuit Joachim se siening dat
die geestelike gemeenskap van monnike in sy tyd moes bestaan sonder die
sakramentele ondersteuning van die Kerk. Voegelin merk op dat dit ooreenkom met
die massabewegings van sy tyd wat die finale era sien as ’n vrye gemeenskap van
mense ná die uitsterwing van die staat en ander instellings. Hy wys daarop dat dit
die duidelikste waarneembaar is in kommunisme, maar dat die idee van demokrasie
ook gevoed word uit die simbolisme van ’n gemeenskap van outonome mense.
Voegelin wys daarop dat hierdie simbole-kompeks aktief aan die gang is onder politieke massabewegings in die moderne era. Hy noem ook verdere gnostiese simbole soos Latynse Averoisme en Middeleeuse nominalisme, maar gaan nie verder hierop in nie, omdat hy die reeds genoemde simbole as dominant ag. Die kontrolerende simbole gaan wel duidelik oor die wil tot binnewêreldse verabsolutering van die voleinding (the will to immanentization). Kenmerkend hiervan is om ’n nuwe wêreld te bou waarin die inherente strukture verander moet word. Gewoonlik word daar dan een of ander belangrike element uit die wêreldbou-program uitgehou om dit nie so duidelik te maak dat dit onrealisities en eintlik ’n wankelrige visie is nie. Voegelin illustreer dit dan in die werk van Thomas More se Utopia, Hobbes se Leviatan, en Hegel se konstruksie van die geskiedenis.
Gnostieke op die sielkundebank
Aan die einde beweeg Voegelin na die sielkundige vlak en vra wat hierdie tipe
wêreldbou aandryf. Hy is oortuig dat dit uiteindelik niks anders as magshonger is
nie. Hy stel dat dit voortspruit uit ’n drang om om ’n wêreld te regeer wat
getriomfeer het oor nederigheid - die nederigheid daarvan om die werklikheid met
sy unieke kenmerke in ontvangs te neem en jou daaraan te oriënteer. In die
gnostiese visie op die werklikheid hoef dit nie meer te gebeur nie. Voegelin is
egter van mening dat die werklikheid nie so maklik na eie sin gelooi of geplooi
kan word nie. Hy beskou dit as blote fantasie-satisfaksie, maar hy vra wel wat
mense daartoe bring om dit te probeer doen. Voegelin reken dit is omdat genade
en geloof nie in ons besit is nie, nie direk tasbaar is nie, en dat nie alle
mense sterk genoeg was vir wat hy noem die heroïese avontuur van die geloof
nie. Sulke mense word dan maklik vatbaar vir iets meer “konkreet” wat gewoonlik
in Christelike gemeenskappe een of ander gnostiese konstruk word.
Hy sluit af deur die gnostiese verskil te illustreer in verskillende kulturele kontekste om aan te toon hoe dit met verskillende gestaltes in verkillende samelewings na vore tree – Jode, Grieke, en Islamiete. In die geval van die Jode sien ons byvoorbeeld in die lewe van Moses hoe die mense terugval in die ou gode van politeïstiese samelewings. In die geval van die Grieke wys hy op Plato wat gestel het dat sukses eers in die lig van die oordeel aan die einde vasgestel kan word en hoe die hardgebakte politici van realpolitik wat hierdie lewe voorop stel, dit geminag het. Die hardnekkige en demoniese volharding in aksies wat deur die drifte wakker gemaak word, was net as soveel meer konkreet beskou in die hier en nou. Voegelin reken dat hy dieselfde tendens ook vind in Islam wanneer die godvresende gebede wat bewus is van die oordeel, in kontras gestel word met diegene wat eerder deur wapengeweld God se heerskappy hier en nou wil uitbrei. Laasgenoemde is vir sommige net meer konkreet en verteerbaar as daar gevra word wat nou moet gebeur. Voegelin is van mening dat bogenoemde neigings om die lewe van geloof na finale werklikhede oor te dra in die hede en na tasbare vervulling in hierdie wêreld, ’n algemeen menslike probleem is. Hy hoop dat dit sal help om iets by te dra oor die verstaan van sosiale prosesse in verskillende samelewings. Hy vertrou dat hy teoreties en wetenskaplik bygedra het om die gnostiese fenomeen terug te spoor na die ontiese wortel en die ontologiese tipes en konsepte wat steeds met ons is. Die vraag is wat ons daarmee maak.
Wat maak ons hiermee?
Eric Voegelin laat ’n mens besef waarom die filosofie van Plato en
Aristoteles steeds ’n belangrike bolwerk teen heersende filosofiese strominge
is en in gemeenskapsuniversiteite aandag moet kry. Die objektiewe en deelnemende
aard daarvan, asook die bereidheid vir
transendente verwysingspunte, bied bealngrike oriëntasie vir ons tyd. Meer nog,
dit kan help om die demoniese van ons tyd uit te ken en te besweer. Dit
bevestig ook dat die Kerk se verkondiging ook op die vlak van motiewe, simbole
en denkpatrone gevoer moet word. Die feit is dat ook kerkmense hulself bekend kan
maak in hul spraak, ook wanneer hulle hulself verwens en besweer dat hulle nie
dissipels van die tydsgees is nie. Daar is dikwels 'n mondvol wêreldbeskouing
in die woorde en konsepte wat ons gebruik. Wat goeie prediking doen, is om
die dogma van die Kerk, implisiet of eksplisiet in 'n bepaalde Teks, in kontak
te bring met die dogma van die tyd. Dit kan meer as kontaksport veroorsaak. Dit
kan dood en opstanding bewerkstellig waar dit God behaag. Maar dit is wat die
dwaasheid van die prediking kan doen wanneer daar diep geduik word in die Woord,
met inagneming van die konteks in die hele Bybel en die konteks van die hele
Kerk. Daarom kan die dogma, die drama en die diepte, die motiewe, die simbole
en die denkpatrone, nie uitbly wanneer Woord en sakrament en liturgie bedien word
nie. En so kan die moderne Gnostiek van ons tyd wat voorgee om totaal iets nuut
in die geskiedenis te wees, ook bedien word met die teologie en filosofie wat
altyd oud en altyd nuut is.