2021/06/01

Oor dogma, drama, en diepte

Dorothy Sayers is bekend vir haar woorde oor dogma en drama:

"We are constantly assured that the churches are empty because preachers insist too much upon doctrine—dull dogma as people call it. The fact is the precise opposite. It is the neglect of dogma that makes for dullness. The Christian faith is the most exciting drama that ever staggered the imagination of man—and the dogma is the drama."

Sayers gaan dan voort om daarop te wys dat dit sentraal staan in die vraag na wie Jesus as die Christus in die belydenis van die Kerk is. Sy wys dan ook op die dramatiese Persoon van Jesus Christus wat in die dogma van die Kerk bely word. 

Op my radar het ek 'n aantal jare gelede aan die hand van die  teoloë, Kevin Vanhoozer en Michael Horton, met hierdie dramatiese beklemtoning van Sayers bekend geraak. Die drama-aspek het dan ook 'n goeie, en ek wil byvoeg boeiende effek, in beide Vanhoozer en Horton se teologie tot gevolg. Dit is natuurlik ook kenmerkend van ons tyd om die sosiale aspekte van die werklikheid uit te lig en waar dit reg gedoen word, kan dit definitief help met vrugbare ontsluiting. Dit kan ook help om konstante en dinamiese benaderings met mekaar in spel te hou. Solank die dinamiese net nie die konstante en permanente aard wil versluier of verslind nie, want dit is wat ongelukkig te tiperend van ons tyd geword het. Maar dit kan vir seker help om die vonkel uit te ken, ja ook die vonkel van ouderdom en goeie wyn. So gebruik Horton 'n treffende struktuur van vier dawerende D's om die verskillende loci van die sistematiese teologie te benader: Drama, dogma, dissipelskap, doksologie.    

Vergun my ook 'n verdere D: diepte. Die dogma gee diepte aan die boodskap van die Skrif. Daarsonder is die prediking opsigtelik plat.

By 'n ander geleentheid sal ons stilstaan by die feit dat dogma ook deelnemend behoort te wees, maar daarmee sluit ek eintlik net komplemeterend aan by die drama, dissipeling en doksologie van Horton. Om terug te keer na diepte: Wat het in die volksmond gebeur dat dogma met droog geassosieer word, eerder as met drama en diepte? Hier is dan my uitdaging: Stel die knegte op die kansel op die proef. Ons behoort drie tipes vinnig te vind: (1) sonder dogma en plat, (2) met dogma en droog, en (3) met dogma en diepte. Ek dink nie daar bestaan so iets soos sonder dogma met diepte nie. Daar bestaan hoogstens so iets soos preke met diepte sonder besef van die dogma waardeur dit gedra word. G.K. Chesterton het by geleentheid daarop gewys dat daar eintlik net twee soorte persone is - die wat dogmaties is en dit weet, en diegene wat dogmaties is en dit nie weet nie. Daarmee het hy op die wêreldbeskoulike standaarde gewys waarmee elkeen bewus of onbewus rondloop. Maar ook ons maak onsself bekend in ons spraak, ook wanneer ons onsself verwens en besweer dat ons nie dissipels van die tydsgees is nie. Kyk in hierdie verband gerus weer na die aflewering oor 'n mondvol wêreldbeskouing. 

Wat goeie prediking doen, is om die dogma van die Kerk, implisiet of eksplisiet in 'n bepaalde teks, in kontak te bring met die dogma van die tyd. Dit kan meer as kontaksport veroorsaak. Dit kan dood en opstanding bewerkstellig waar dit God behaag. Maar dit is wat die dwaasheid van die prediking kan doen wanneer daar diep geduik word in die Teks. Dit gebeur natuurlik met inagneming van die konteks in die hele Bybel en die konteks van die hele Kerk. Daarom kan die dogma, die drama en die diepte nie uitbly nie. En so kan hierdie bebaarde modernisme van ons tyd wat voorgee om babahaartjies van 'n nuwe postmoderne orde te wees, ook bedien word met die ewige Woord wat altyd oud en altyd nuut is vir elke nuwe tyd.