2021/05/14

Boekbespreking: Gnostic America: A Reading of Contemporary American Culture & Religion according to Christianity’s Oldest Heresy, 2014, deur Peter Burfeind



 Waarom lyk dit deesdae of alles skielik intuimel? Waarom is daar sulke definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken en te vervang? Waarom kan ’n universiteit byvoorbeeld nou selfs begin reëlings tref dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word nie? Peter Burfeind, ’n leraar in die Lutherse tradisie, het ’n baie definitiewe antwoord. Soms kry ’n mens die gevoel dat hy ’n hamer gevind het en dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog, daar is net te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.

Burfeind het jarelank (sedert die middel van die 1990’s) ondersoek ingestel na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker dwaalleer reeds in die Bybelse tye na vore getree het (vgl. 1 Johannes) en dat dit die Kerk soos ’n skaduwee deur die eeue heen volg. Burfeind reflekteer onlangs oor sy publikasie wat uiteindelik in 2014 verskyn het, Gnostic America, en noem die dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het. Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik aan dat dit nie net ’n probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander eertydse Westerse lande.

Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag steeds springlewendig?

Burfeind identifiseer 14 kenmerke van hierdie dwaling: (1) God se Naamloosheid as fundamentele uitgangspunt; (2) ’n universalisme van volheid; (3) geskeidenheid as kosmiese euwel; (4) anti-gesag; (5) oorstyging van geslagtelikheid; (6) die verwerping van Logos; (7) die argetipiese rol van Sophia as ’n spesifieke soort wysheid; (8) mistisisme, ekstase en “wedergeboorte”; (9) gnostiese elitisme; (10) die reis van die self teen die argontiese owerhede en magte; (11) antinomianisme (wetteloosheid); (12) liefde as eros en as kosmiese bungee-koord; (13) die gnosties-magiese konneksie; en (14) die New Age en paradigmas van “emergence”.

Daar kan nie hier op die verduideliking van elke kenmerk ingegaan word nie, maar enkele uitsprake wat op die oog af sterk verbande toon met onlangse nuusgebeure kan wel genoem word om ’n idee te gee. Geskeidenheid word in die Gnostisisme beskou as die primordiale euwel en dit sluit ook Eva in wat van Adam geskei is. Die verdeling van geslagtelikheid is daarom volgens die Gnossies ook een van die fundamentele euwels van ons wêreld. Die manlik/vroulike onderskeiding roep weer in gnostiese opvattings allerhande ander “verdeeldhede” en “diskonneksies” na vore soos die verdelings van rasse en nasies, en wat in die Gnostiek as sleg geag word.

Die Gnostisisme is ook sterk gekant teen respek vir instellings wat betrokke is by die oordra van die verlede - soos familie, gemeenskap, kultuur, tradisies in die kerk, en selfs staatsrituele. In die Gnostiese denke is hierdie instellings egter alles skeppings van ’n vreemde God, stelsels van hierdie valse en bose wêreld wat oorstyg moet word. Die Gnostiese opvatting is dat daar rewolusionêr of oorstygend (transcending the past) beweeg moet word, sê Burfeind.  Die mees onlangse gonswoord vir laasgenoemde benadering is “ontluikend” of “opkomend” (in Engels “emergent”).

Die respek vir tradisie het uitgegaan van die standpunt dat ontwikkeling plaasvind op grond van die verlede, maar in die gnostiese denkwyse gaan dit oor ’n revolusionêre opstand teen die verlede of “opkomende” oorskryding van die verlede. Revolusionêr en opkomend het soortgelyke doeleindes, maar dit verskil in middele, sê  Burfeind. Eersgenoemde is bereid om die saak te dwing, terwyl laasgenoemde glo dat gedagtes eers sal verander deur die heidense trekkrag van gnostiese ikone, en dan daarna deur 'n stortvloed van samelewingsverandering.

Dit klink alles net te bekend. Op die vraag waarom dit lyk of alles van die verlede skielik intuimel, het hierdie publikasie met 418 bladsye baie konkrete antwoorde wat roep om arm daarteen te druk. Die genuanseerdes mag reken dat die hamer net te kwistig geswaai word, maar dit is juis ook waar die krag daarvan lê. Die Griekse digter, Archilochus het die bekende woorde uitgespreek dat die jakkals baie dinge weet, maar dat die krimpvarkie een groot ding weet. Dit beteken onder meer dat sommige mense baie strategieë het en met kontraste kan saamleef, maar dat ander na die groot prentjie kyk en onderliggende organiserende beginsels naspeur. Burfeind is ’n krimpvark. In ’n era waar te veel dink dat die postmoderne tydvak net jakkalse benodig, toon Burfeind sy unieke waarde. Hy maak ’n mens daarvan bewus dat net te veel dinge verklaar kan word aan die hand van ’n baie ou dwaling. Dit behoort ’n standaardwerk te wees vir voorgraadse studente in teologie en filosofie. Daarna kan daar na meer gesofistikeerde en omvattende studies soos die van Eric Voegelin (Science, Politics and Gnosticism) en Hans Jonas (The Gnostic Religion) gekyk word.