Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.
Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in
die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks
in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie
oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons
teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas
Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het
om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe
min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die
hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n
verleentheid.”
Diegene wat dieper wil delf, kan gerus Farrow se klassieke werk, Ascension and Ecclesia ter hand neem, of sy meer populêre, Ascension Theology. Laasgenoemde word egter sterker met Rooms Katolieke sentimente gekleur en daarom word sy groter werk eerder aanbeveel. Op populêr-protestantse vlak is hierdie werk van Schreiner egter sterk aan te bevel. Saam met Tim Chester en Johnny Woodrow se werk oor die Hemelvaart, The Ascension: Humanity in the Presence of God, verteenwoordig Schreiner se publikasie waarskynlik die mees kragtige onlangse uiteensetting waarom die Hemelvaart van Christus so belangrik is.
Reeds aan die begin wys Schreiner op vyf redes waarom Hemelvaart
verwaarloos word en daarna waarom dit nie verwaarloos behoort te word nie. Hy
wys onder meer daarop dat die Hemelvaart die geboorte van die nuwe verbond inlei
en daarom die nuwe era met Christus op die troon by die Vader aandui. Dit laat
’n mens besef dat enige ou of nuwe praatjies oor ’n nuwe era, troontruuks is
wat eintlik in opstand is teen die Hemelvaart en die bestyging van die hemelse
troon wat reeds die bepalende nuwe era
ingelei het. Schreiner gaan dan voort om aan te dui hoe die ampte van Christus
as Profeet, Priester en Koning nuwe betekenis kry na die Hemelvaart. Op uiters
boeiende wyse lê hy ook verbande tussen die ampte in die Ou Testament en hoe dit
vervul is in Christus en watter betekenis dit vir die Kerk vandag het.
Skrifgedeeltes wat handel oor Eden en die tabernakel word byvoorbeeld direk met
die Hemelvaart in verband gebring. En Dan.7:13-14 wat handel oor die Seun van
die mens wat by die Vader aankom, asook Psalm 2 word met baie meer diepte
waardeer.
Schreiner toon oortuigend aan dat die Hemelvaart kardinaal belangrik is
indien Christene hulle ampte as profete, priesters en konings effektief wil
uitleef. Dit gee sin aan ons belydenis en vorm selfs die hoogtepunt voor die
wederkoms van Christus. Hierdie publikasie beslaan net meer as 100 bladsye en
is baie bevatlik geskryf. Daarom kan die werk van harte vir enige Christen
aanbeveel word wat begeer om die diepte en implikasies van hul geloof beter te
begryp.