2013/12/28

Noem dit by die naam

In beseringstyd van die jaartal 2013 is dit gepas om darem te bevestig dat hierdie woernaal nog leef. James Matthew Wilson het die vonk verskaf. Hy resenseer 'n boek van Dreyfus en Kelly met titel, All Things Shining: Reading the Western Classics to Find Meaning in a Secular Age. Die here, Dreyfus en Kelly, word nie dawerend besing nie, maar wel punte gegee vir skitterlopies hier en daar. Tog is James Matthew se uiteindelike bevinding sterk krities. En hy verskaf in hierdie siel ontbranding vir 'n hertoetrede tot die blogosfeer. In sy evaluering maak hy die volgende uitspraak: 

For all the brilliant erudition of this volume, it seems the authors do not entertain Christianity as a plausible answer to our modern woes simply because they do not wish to. Theirs is one more Cartesian direction of the will, choosing to see our age as secular and nihilist rather than pagan and idolatrous.

Lees weer die laaste sin. James Matthew Wilson verskaf 'n lewensbelangrike perspektief. Die woorde sekulêr en nihilisme is welluidende, gewilde gonswoorde in ons dag. Maar die vraag moet gevra word of dit nie dalk eufemismes geword het nie - sagte woorde wat die eintlike dilemma nie by die naam wil noem nie.
Vorige geslagte het die kernprobleem heidens en afgodies genoem. Ja, dit is wel nodig om te weet met watter spesifieke afgode ons moet rekening hou. In 'n onderhoud oor wêreldbeskouing 101 maak Stephen Perks die stelling dat die aanvaarde publieke opinie duidelike aanduidings gee van die eintlike G(g)od wat 'n samelewing aanbid. Nou, as dit nie die lewende God is nie, is dit mos afgodies en by implikasie heidens. Dit is baie goeie voorbereiding vir die nuwe jaar om 'n paar dinge in ons eie lewens en in die samelewing die name te gee wat hulle verdien. Dit maak egter net werklik sin as as ons al hierdie name voor die voete van die groot Naam bring wat hulle kan indompel in die dieptes van die see.