Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels
ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en
emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos
bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is
dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar
ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds
dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in
Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer
speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is
om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge
gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie
Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld,
skaamte, en vrees.
Die Moslem broederskap in Egipte poog om deur mag,
die mag van tereur, vrees te saai. Die hele saak verstaan jy beter as jy begryp
watter rol eer en skaamte in daardie kultuur speel. Oscar het beweer dat hy a.g.v. vrees en die werklikheid van terreur in ons samelewing verkeerd opgetree het,
en as die reg hom skuldig gaan bevind, gaan die ondersoek waarskynlik definitief
ook aan die invloed van jaloesie en eer en skaamte aandag gee.
Maar dit gaan nie oor vingers wys hier nie. Skuld,
skaamte en vrees is groot werklikhede, nie net by Oscar of in Egipte nie, maar
in óns eie lewens. Die gedugte driemanskap loop gewoonlik hand aan hand, maar
in elkeen van ons se lewens het een van die drie die geneigdheid om voorop te
staan, veral wanneer die dood dreig of as jy ander met die dood dreig. En omdat
ons deel uitmaak van bepaalde omgewings, het sekere omgewings die geneigdheid
om een van hierdie sake ook voorop te stel. In die Weste is ons maklik geneig
om die skuld-aspek voorop te stel. Daarom is dit vir ons so verbasend as ons
verneem dat vir mense in die Midde-Ooste, skaamte so swaar weeg. Ons kyk soms
ook so bietjie neer op diegene wat na ons mening in ander kulture so ’n groot
vrees vir allerhande magte het. Maar as jy mooi daaroor dink, het skuldig wees,
skaam wees en bang wees, baie met mekaar te make.
Die skrikwekkende is dat ons skuld en skaamte en vrees kan gebruik om ander mense, ja selfs ons geliefdes, te manipuleer.
Diegene wat dit doen het dan ook dikwels ’n heimlike vrees dat die situasie
dalk iewers kan omkeer. Ander staan aan die ontvangkant, kan nie
vry lewe nie, en die ergste van alles, wag soms net die kans af dat hulle aan
die uitdeelkant kan kom. Dit is nie moeilik om in te sien hoe al die kleur uit
die lewe verdwyn as jou omgewing vol word van hierdie sake nie.
Dit is presies wat gebeur as enige omgewing
nie hul verlossing vind in die Een wat gekom het om ons van skuld, skaamte en
vrees vry te maak nie. Jesus Christus was veroordeel aan die kruis, sonde vir
ons gemaak, lees ons in 2 Kor. 5:21. Hy het
die die kruis verdra en die skande verag, lees ons in Hebr. 12.2. Hy het die magte aan die kruis uitgeklee, lees
ons Kol. 2:15. Hy dit alles gedoen om ons skuld, skaamte en vrees weg te dra – die dood in. En Hy het opgestaan uit die dood
sodat ons nou in Hom nuwe lewens mag leef, lewens waarin daar fundamenteel met skuld,
skaamte en vrees gehandel is. Die toevlug in Christus is die enigste manier hoe ons as individue
vry word, hoe gemeenskappe vry word, ja selfs hoe ’n land vry word van die doodsdruk van skuld, skaamte en vrees.
Laat ons dit maar erken: Ons omgewing het ’n invloed op ons. Ons kan dit nie ontken dat
die situasie in Suid-Afrika ons beïnvloed nie. Maar, ek en jy kan ook die die
bordjies verhang wanneer ons by Christus uitgekom het, en weer en weer uitkom.
Ons kan in Christus geloof, hoop en liefde saai in ons omgewings. Ons kan ons
omgewing daardeur begin verander. Die Christene in Egipte vertel dat daar te
midde van die tereur ook wel sommige Moslems was wat jou aan
Cornelius in die Bybel herinner. Sommige Moslems het uitgegaan om kerke te beskerm
toe die kerke deur die Moslem broederskap se brandstigting bedreig is. En die
Christene het op hulle beurt weer boodskappe aan hierdie Moslem burgers
gestuur: "Geboue kan weer opgebou word, maar julle is kosbaar en moet veilig
bly. Moenie bekommerd wees oor die kerke nie. Ons is die kerk.”
Kan jy dink watter eerlike gesprekke oor Christus
hieruit kan voortvloei? Daardie Moslems kan dalk, net soos Cornelius, Christus
begin aanbid as hulle besef wie Hy regtig is. Daar is verder ook geluide dat
die Egiptiese regering in God se
algemene genade onderneem om van die kerke weer op hul onkoste op te bou. Wie
mooi kyk sal selfs in Egipte sien dat God werksaam is in sy algemene en
besondere genade. Christus is nie met Egipte klaar nie. In Jes 19 lees ons dat
Egipte nog die Here se volk genoem gaan word. Laat ons vir hulle bid.
Christus is ook nie met Suid-Afrika klaar nie.
Nog lank nie. Laat ons dan die lig van geloof, hoop en liefde uitdra. Dit mag
dalk sommige onder ons se lewens vra. Maar wanneer Christus ons vrymaak is ons
mos waarlik vry om te lewe en te sterwe in sy Naam. En terwyl ons dan lewe,
beteken dit mos vir ons vrugbare arbeid. Kyk gerus weer na die aanhaling van
generaal Stonewall Jackson. En as ek en jy dan niks anders doen nie, kom ons saai
saam met dapperheid en standvastige optrede wat gegrond is in die Here
Jesus se oorwinning oor die dood, ook ons vriendelikheid. Jy en ek hoef nie uitgelewer wees aan die sentimente van ons omgewing nie. In Christus kan ons die
skuld-, skaam- en vreesmeters van ons omgewings begin reguleer. Ons kan dalk
net iemand, of selfs ’n stam of volk of nasie vanuit ’n donderbui in die son van geregtigheid help inlei. Moet nooit warmhartigheid en die skoenlapper-effek onderskat wanneer Christus daarin betrokke is nie.