Gedagte vir kinders: Die Heilige Gees bring wysheid en omgee in ons harte in.
Oorsig: Ons lees in Handelinge 4-5 dat die eerste gemeente se harte
oop was vir mekaar se behoeftes. Die satan het egter selfs dit gebruik om
sommige mense (Annanias en Saffira) skynheilig te laat en die Here het sterk
hierteen opgetree deur sy apostels. Soos wat die gemeente in Jerusalem gegroei
het, het daar ook nuwe probleme ontstaan. Daar was Aramees-Hebreeussprekende
Jode in Jerusalem, maar ook Griekssprekende Jode wat ver buite Jerusalem
grootgeword het. Hulle het hul Joodse geloof behou en hul later tot Jesus Christus
bekeer en in Jerusalem gewoon. Soos wat die gemeente uitgebrei het, het sommige
Griekssprekende weduwees egter nie aandag gekry soos die ander nie en dit het
spanning veroorsaak (v.1).
Die 12 apostels het die mense bymekaar geroep en hulle daarop
gewys dat hulle ’n bepaalde prioriteit moet behou, anders gaan die bediening van
die Woord van God en gebed skade ly as hulle aandag ingesluk word deur die kos-behoeftes
op tafel vir al die mense (v.2). Hulle oplossing was om vir sewe manne uit te
kyk wat (1) goeie getuienis by mense gehad het oor die algemeen, en (2) vol was
van die Heilige Gees en wysheid en wat spesifiek aangestel kon word om aan die
probleem aandag te gee (v.3). Die apostels het onderneem om by hulle grootste
prioriteit te hou: (1) Volharding in die gebed en (2) die bediening van die
Woord (v.4).
Die menigte het hierdie werkswyse goed gevind en die volgende
mense gekies wat insiggewend genoeg almal Griekse name gehad het: Stefanus, wat
spesifiek beskryf word as vol van geloof en die Heilige Gees (vgl. Hand. 6 en
7), en Filippus (vgl. Hand 8). Dan was daar ook Prochorus en Nikanor en Timon
en Parmenas en Nikolaus (v.5). Nikolaus, word beskryf as ’n Jodegenoot uit Antiochië
(vgl. Hand. 2:10 en 13). Dit beteken dat hy ’n Griekssprekende heiden was wat die
God van Israel aanvaar het (Jodegenoot) en later ook tot geloof in Jesus
Christus gekom het. Hierdie sewe manne is voor die apostels gestel en die
apostels het toe gebid en hulle die hande opgelê en so is hulle aangestel (v.
6; vgl. Num. 8:10; Dt. 34:9; 1 Tim. 4:14). Later lees ons dat Stefanus saam met
die tafeldiens ook die Woord kragtig verkondig en verdedig het. Die Woord van
God het deur hierdie aksie net verder toegeneem en die getal dissipels in
Jerusalem het baie vermeerder. Selfs baie priesters van die Jode het gehoorsaam
geword aan die geloof (v.7).
Besprekingsvraag: Het die werk van die Heilige Gees ook te make met administrasie?
Insig: Die Kerk van Jesus Christus het altyd nuwe seëninge, maar ook uitdagings.
Eers was daar die uitdaging van skynheiligheid toe die mense werklik vir mekaar omgee (Hand. 5). Nou word die eenheid bedreig toe die getalle meer word en meer as een taal en moontlik kultuur akkommodeer moes word: Hebreër-Jode, Grieksprekende Jode en heidene (Jodegenote) wat almal gelowig geword het. Geregtigheidskwessies kom reeds hier aan die orde. Hier is belangrike wenke vir Kerk en kulturele werklikhede, maatskaplike en geregtigheidskwessies ingesluit.
Dit duidelik dat die apostels ’n
bepaalde prioriteit as ononderhandelbaar handhaaf en wat vir die Kerk van alle
tye belangrik bly: Die bediening van gebed en die Woord. Dit is nie dat die
Kerk nie besorg is oor gemarginaliseerdes soos weduwees nie (vgl. 1 Tim. 5). Die
wees, die weduwee en die vreemdeling as uitgelewerde minderhede het reeds baie
wette in Israel gehad wat hul belange beskerm het (vgl. Dt. 24:17-21). Hierdie
sorg vloei egter voort uit God se verlossing. Dit gaan altyd eerste oor die boodskap
van die evangelie van Jesus Christus wat die mag het om ware transformasie te
bring. Daarsonder is die Kerk net nog ’n weldoener wat mense help, maar nie
regtig verander nie. Wie enigsins al met maatskaplike probleme te doen gekry
het, weet dat dit maklik geld en sorg in ’n bodemlose pit kan wees sonder die
veranderende mag van die evangelie.
Prioriteit beteken egter nie dat die
Kerk brood-kwessies en uitgelewerdes opsy skuiwe nie. Dit gee juis rigting aan
effektiewe bediening en dit sluit goeie struktuur en wysheid in. Die probleem
van groter getalle herinner aan Moses wat ook moes leer om te delegeer (Ex. 18).
Hier word spesifiek sewe man gekies, wat sterk simboliese waarde het ( 12 en 7;
vgl. ook Est. 1:14). Hoewel nie hier so genoem nie, herinner dit aan die latere
diakenamp. Die optrede getuig ook van groot wysheid, want Griekse minderhede
word hanteer deur die hele sorg aan diegene met Griekse name toe te vertrou. Sodoende
word die werklikheid van verskillende groepe en minderhede erken en skitterend
hanteer en bied selfs ’n model vir burgerlike samelewing (politeia). Terselfdertyd is die vereistes vir die wat gekies word, hemelhoog:
Vol van die Heilige Gees en wysheid. Later word van hierdie persone kragtig gebruik
in die verdediging en verkondiging van die evangelie. Prioriteite, goeie strukture
en wysheid staan in die Kerk van Christus onder leiding van die Heilige Gees nie
los van mekaar nie. En die gevolg is hier dat die Koninkryk uitbrei.
Werke geraadpleeg
J. Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year
A.
Patrick Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary
Jaroslav Pelikan, Acts: Brazos.