Gedagte vir kinders: Pinksterdag herinner ons dat die
Heilige Gees gegee is vir God se kinders.
Oorsig: Op die dag van Pinksterfees in
Jerusalem, tien dae nadat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was die
dissipels eendragtig bymekaar. Skielik het uit die hemel ’n geluid
gekom soos ’n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle was.
Toe het hulle tonge van vuur gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit. (v.1-3). Hulle is toe almal vervul met die Heilige Gees en het in ander tale
begin spreek soos wat die Gees dit aan hulle gegee het om uit te spreek. Dit
het in Jerusalem gebeur waar Jode gewoon het wat afkomstig was uit elke nasie waarheen
hulle sedert die ballingskap verstrooi is (v.4-5).
En toe hierdie geluid van die
rukwind kom, het baie mense saamgestroom en was verward, omdat hulle elkeen gehoor
het hoe hulle in die taal spreek van die plekke waar hulle gebore is. Dit het
hulle baie verbaas en verwonderd gemaak en hulle het vir mekaar daarop gewys dat dit dan Galileërs
uit die Noorde was wat toe so gepraat het in die tale waarin hulle gebore is
(v.6-8). Die tale word dan gegee soos wat dit van wes na oos rondom Jerusalem
gevind is: Parthers en Meders en Elamiete, en die inwoners van Mesopotamië,
Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke
van Libië by Cirene. Dit was die tale van Romeine wat in Jerusalem vertoef het,
en ook tale waarin sommige Jode grootgeword het asook heidene wat die Jode en hulle God goedgesind was (Jodegenote), tesame met Kretense en Arabiere. Hulle het elkeen
in hul eie taal gehoor hoe daar oor die groot dade van God gespreek word (v.
9-11). Dit het hulle verbaas en radeloos gemaak omdat hulle nie geweet het wat
om daarvan te maak nie. Ander weer, het gespot en gesê dat die mense vol soetwyn is
(v.12-13).
Petrus het toe opgestaan en hulle met
’n groot stem toegespreek. Hy het eerste daarop gewys dat die mense nie dronk
was nie, aangesien dit nie sommer om 9:00 (die derde uur) moontlik was nie
(v.14-15). Hy het dit toe verklaar deur te wys op die woorde van Joel 2:28-32 (v.16-21).
Dit is dat die Here in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle vlees - seuns en dogters (profeteer), jongmense (gesigte) en oumense (drome droom), en
selfs die laagste stande, diensknegte en diensmaagde, sal profeteer. Die Here
sou ook wonders in die hemel en op aarde gee voordat die Here se groot dag kom.
En elkeen wat in sulke toestande die Naam van die lewende God, die HERE,
aanroep, sal gered word. En dan gaan Petrus aan om vir hulle uit die Skrifte te
wys dat die Naam van hierdie HERE, die gekruisigde en opgestane en gekroonde Jesus
Christus is.
Besprekingsvraag: Watter verbande is daar oor Pinkster tussen die Ou en Nuwe Testament?
Insig: Pinksterdag kan net waardeer word as ons die agtergrondmusiek van die Ou Testament onthou. Dink aan Babel, aan Sinai, aan die oes-eerstelinge en aan die Israeliete se verstrooiing in die ballingskap.
By Babel in die taalverwarring verneem ons hoe God ’n valse
eenheidsgedagte veroordeel, maar tog ook sy kultuuropdrag (Gen. 1:28) deurvoer.
Deur die versoening van Jesus Christus in die nuwe verbond, het die
eskatologiese eeu aangebreek (vgl. Mat. 26:28; Jer. 31:31-34) en word dit nou moontlik
om ware eenheid te bring deur al die nasies sy dissipels te maak (Mat. 28:18-20).
Die nasies hoef egter nie dieselfde te word of dieselfde taal te praat nie, want
op Pinksterdag hoor elkeen in sy eie taal van die groot dade van God (v. 11). Die
veelkleurigheid van die mensdom word behou tesame met ware eenheid in Christus (Schreiner:
universele partikulariteit). Die vyandskap val dus weg, maar die verskeidenheid
kan selfs duideliker gedefinieer word (Kuyper). Babel word in Christus dus uniek
op sy kop gekeer sodat beide die eenheid en die verskeidenheid van nasies en volke, soos in die
Drie-eenheid van God, gelyktydig geld.
Ons hoor ook toespelings op Sinai. Die
totstandkoming van die Kerk onder die ou verbond by Sinai vind ongeveer 50 dae
na die eerste Paasgeleentheid plaas (vgl. Ex. 19:1). Daar verneem ons reeds van
vuur en rookdamp wanneer God verskyn, maar die mense kan dit nie verdra nie. Hulle
besef dat hulle ’n middelaar nodig het. Deur hierdie middelaar ontvang hulle
God se wet. Op Pinksterdag in die nuwe verbond, ook 50 dae na die Paasfees waar die Lam vir ons geslag is, gebeur iets baie besonders en enig in sy soort. Die gelowiges het hulle Middelaar in die hemel en die vuur en rookdamp kan verdra word, sodanig dat die tonge van vuur op elkeen gaan sit. Iets baie wonderlik gebeur. Mense word vervul met
die Heilige Gees, soos wat die heerlikheid van God die tabernakel en tempel in
die Ou Testament gevul het. Die Middelaar wat terug is by die Vader maak dit alles moontlik. Nou is Christene dus self tempels van die lewende God by wie Hy
inwoon. Nou is die wet nie net op kliptafels nie, maar op Christene se harte
geskrywe (vgl. Jer. 31:33-34; Joh. 1:17).
God vervul ook sy beloftes dat Hy
Israel sal versamel uit die verskillende lande (vgl. Jes. 43:5-7; 60:4; Hos.
1:10). Die mense is in Jerusalem uit alle oorde op Pinksterdag vergader, die
geboortedag van die Kerk onder die ou verbond by Sinai. Na die ballingskap is hulle verstrooi en het hulle in verskillende tale grootgeword. Al die plekke wat hier genoem word, beskryf die omvang
van die Romeinse ryk. Nou word hierdie plekke egter almal deel van Christus se
koninkryk. En op Pinksterdag dat hulle nog maar eerstelinge is van die groot oes wat op pad is. In die Kerk van
die nuwe verbond kan alle nasies en tale van die groot dade van God In Jesus
Christus hoor. Die res van Handelinge vertel ons hoe die nuwe verbond in
Christus en deur die Gees deurbreek na Judea, Samaria en tot aan in die
hoofstad van die destyds bekende wêreld, naamlik Rome. So is die uiteindes van
die aarde in beginsel toe reeds bereik en so sal die hele wêreld uiteindelik
onder die heerskappy van Jesus Christus kom: Uit die Vader, in die Seun, en
deur die krag van die Heilige Gees.
Werke geraadpleeg
Patrick Schreiner, Acts: Christian
Standard Commentary
Jamieson-Fausset-Brown
John Gill
Matthew Henry
SG De Graaf
Abraham Kuyper, “Uniformity: The
Curse of Modern Life,” in Abraham Kuyper: A Centennial Reader, red. James Bratt
(Grand Rapids: Eerdmans, 1998), 36. (met dank aan Schreiner vir die verwysing).