Gedagte vir kinders: Jesus het die dood oorwin en sal
die wêreld eendag oordeel.
Oorsig: Paulus het op sy tweede sendingreis
vir Silas en Timotheüs in Berea agtergelaat en solank na Athene gegaan. Terwyl
Paulus vir hulle wag in Athene, het sy gees opstandig geword oor die stad vol
afgodsbeelde was (v.16). Hy het toe in die sinagoge met die Jode en godsdienstige
mense gespreek en ook elke dag op die mark met die mense wat hom teëgekom het. Onder
hulle was Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikureërs het geglo die lewe
gaan oor genot en materialisme en net hier en nou en toevalligheid. Die Stoïsyne
was het geglo aan plig en ’n lewe van vasbyt en nooit te bly of te hartseer te wees
nie. Hulle wou probeer om die goddelike beginsel (logos) van die wêreld
te verstaan. Al hierdie mense het met Paulus gestry en gesê dat hy ’n
praatjiesmaker en verkondiger van vreemde gode is. Dit was in reaksie op Paulus
se boodskap van die evangelie van Jesus en die opstanding (v.17-18).
Hulle het Paulus toe geneem en na
die Areopagus gebring waar ernstige toetsing van idees plaasgevind het om te hoor
wat sy nuwe en vreemde leer was. Die Atheners en uitlanders het ook baie graag nuwe
idees en neigings aangehoor (v.19-21). Paulus het toe begin deur aan te sluit
by hulle godsdienstigheid en ’n altaar aan ’n onbekende God. Hy sou hierdie onbekende
God aan hulle verkondig (v.22-23). Hierdie God het (1) alles gemaak en woon nie
in tempels met hande gemaak nie. Hy het (2) ook nie behoefte aan iets nie. Hy
gee eerder aan almal lewe en asem en alles (v.24-25). Hy het al die nasies van
die mensdom uit een bloed gemaak om oor die hele aarde te woon waar hulle
bestem is. Daar kon hulle God soek, al is Hy (3) nie ver nie, maar naby ons,
want in Hom leef ons, beweeg ons, en is ons. Sommige digters van hulle het dit
ook gesê: Ons is ook sy geslag (v.26-28).
Paulus se gevolgtrekking: As mense God
se geslag is, moet ons nie dink dat die godheid gelyk is aan menslike kuns en
uitvinding nie. Hy het toe gesê dat God die tye van onkunde hieroor in die
verlede oorgesien het, maar nou aan al die mense verkondig dat hulle hul moet bekeer.
Die rede is dat God ’n dag bepaal het waarop hy die wêreld regverdig sal
oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het. Hieroor het Hy aan almal sekerheid
gegee deur Hom uit die dode op te wek (v.29-31). Toe die mense van die
opstanding hoor het sommige begin spot en ander gesê dat hulle weer later sal
luister, maar sommige het gelowig geword. Dit het vername mense ingesluit soos
Dionisius die Areopagiet en ’n vrou met die naam Dámaris (v.32-34).
Besprekingsvraag: Hoe behoort die Kerk met die omgewing se kultuur om te gaan?
Insig: Dit is opvallend hoe universeel en
omvattend die lewende God hier beskrywe word. Hy het die wêreld en alles
daarin gemaak, gee aan almal lewe en asem, het uit een bloed al
die nasies gemaak om oor die hele aarde te woon. In Hom leef, beweeg
en is ons. En Hy verkondig nou aan al die mense oral dat
hulle hul moet bekeer. Paulus wat hierdie omvattende God ken en dien, sien die
klomp afgode in die stad en sy gees word opstandig. Wanneer ons Hom sien, behoort
ons ook. Die pluralisme vandag is in wese net ’n kodenaam vir politeïsme, en
het nie bestaansreg voor die aangesig van die God wat Paulus aan die Grieke
verkondig nie. Voor Christus se opstanding het God dit oorgesien en sy oordeel
is uitgestel. Maar nou het die finale tyd aangebreek. Christus se uniekheid word
hier begrond in twee sake: Hy het die dood oorwin en God gaan deur Hom die
wêreld in geregtigheid sal oordeel. Bekering het alles daarmee te make dat
hierdie opgestane Jesus en sy oordeel bevestig wie die lewende God is.
Paulus is enersyds hieroor baie ferm,
en andersyds sluit hy tog ook aan by sy hoorders se wêreld. Hy gebruik die
kontakpunt van die onbekende God, en neem selfs ’n frase uit ’n gedig van
Aratus se gedig Phaenomena wat wyd bekend was. Hy bevestig wel die beste
sentimente uit hul eie geledere, maar voer dit tog ook verder of keer dit op die
kop deur die opstanding uit die dode. Hy praat dus in Griekse idioom oor die
boodskap van die Bybel, maar verchristelik andersyds die Grieke. Hy appelleer op
hul verstand en digkuns, maar is ook baie duidelik oor oordeel en bekering.
Sendelinge wys daarop dat as jy nie diepliggend op die vlak van
voorveronderstellings (aannames) mense reghelp nie, die verandering bloot
bolangs is.
Wat is die diepliggende sake hier?
God is groot en baie verhewe (transendent) en kan onmoontlik gelyk gestel word
aan beelde of wat ons ook al oor Hom versin. Mense is na sy beeld geskape en
Jesus Christus, sy beeld, het ons kom herstel (Kol. 1:15; 2 Kor. 4:4). God het
ons ook nie nodig nie (Ps. 50). Hy neem inisiatief, alles is syne, het Christus
reeds uit die dood opgewek en sal deur Hom die wêreld oordeel wat sy versoening
minag. En tog, al is Hy so verhewe, is Hy so naby ons (immanent) dat ons leef, beweeg
en is deur Hom. Die meeste valse opvattings oor God laat nie reg geskied aan sy
verhewenheid en sy nabyheid nie. So ontstaan weergawes van deïsme weens
gebrek aan immanensie, en van politeïsme en panteïsme weens gebrek aan transendensie
(Bavinck). Die goeie nuus is dat ons deur Jesus Christus die lewende God mag
ken en geniet, en mag vrykom van sy oordeel en al die drogbeelde oor God.
Werke geraadpleeg
Patrick Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary
Jaroslav Pelikan, Acts: Brazos.
Herman Bavinck, Magnalia Dei.