2023/07/21

Patrone en uitdagings wanneer God nuwe dinge doen

Op 16 Januarie 2022 het ek die voorreg gehad om by 'n erediens voor te gaan wat ook deel was van die opening van die Afrikaanse Protestantse Akademie se jaarlikse verrigtinge. 'n Verkorte weergawe van die boodskap is later ook op Kragdag se blad gedeel. Ek leen in hierdie boodskap sterk aan op die homiletiese kommentaar op 1 Samuel van Joel McDurmon, asook die kommentaar van Peter Leithart naas 'n paar ander.

Lees: 1 Sam. 22:1-20; 1 Kr. 11: 10,15-19

Teks: 1 Sam. 22:1,2

1 Kron. 11:19b

Sing:

Ges. 39:1-3

Ges. 267:1-2

Ps. 144:1,4,5,6 

Inleiding

Een van die kenmerke van ons Whatsapp-tydvak, is dat ons deesdae met elke krisis ’n nuwe bombardering van boodskappe kry dat dit die einde van alles is. Ja, ons is by die punt dat daar al soveel keer wolf-wolf geskreeu is, dat mense geneig is om net maar te reageer met: “Die einde - hier gaan ons alweer...” Maar dit bring ons by ’n verdere dilemma. Te veel mense wat die oë rol oor die whats-app uitsprake, rol nie altyd die oë oor die heersende verhale van die hoofstroom-media nie. Hulle kan ook nie anders nie, want waar die Woord as ware Noord losgelaat word, gebeur nie niks nie. Nee, die hoofstroom-media en die hoofstroom denkwysies word die ware Noord. Wants soos al tereg aangedui is, mense wat nie meer in God en sy Woord glo nie, glo nie niks nie, hulle glo enigiets. Om dit dus in die beeld van die Matrix se rooi en die blou pil uit te druk: Diegene wat die blou pil neem, het gekies vir die hoofstroom-media as ware Noord, en hulle het ingekoop in ’n bepaalde staatsorde, waar die meubels dalk afgestof en rondgeskuiwe moet word, maar waar die mure en deure basies aanvaar is. En dan is daar diegene wat die rooi pilletjie geneem en verkies om te sien wat eintlik aangaan, maar iets haper, want dit lei meer tot whatsapp wolf-wolf boodskappe as enigiets anders.

Die Kerk van Christus doen iets anders. Hulle neem, om die beeld voort te sit, die koninklike pers pil wat gaan oor Christus as Koning en sy Woord. En dit is onder meer die roeping van die Kerk vandag om mense te wys op twee afgronde waarby ons maklik kan afval wanneer ons die tye wil lees en hanteer. Die een is om elke storie uit die monde van die Hoofstroom Media (HSM) te glo, en die ander afgrond is om elke selfaangestelde apokaliptiese profeet wat die eindtye op whatsapp aankondig, heeltemal te glo.

Ja, die Here is op pad en u en ek is nader aan die voleinding as toe ons gelowig geword het. Maar die Kerk van Christus is ook al deur die eeue met verstommende uitdagings gekonfronteer en deur watter avonture het Kerk van Christus nie al gegaan nie. En daarom moet ons uit ons gelese gedeeltes vanaand hoor: God lei sy Kerk en Koninkryk ook om nuwe dinge te doen, te midde van krisisse, te midde van nasionale, multi-nasionale en selfs globale krisisse, tirannie en massa-histerie. Donker wolke is nie net tekens dat ons nou by die einde is en net maar biddend kan toekyk nie. Nee, ons Skrifgedeeltes lei ons om om raak te sien dat God ook nuwe bewegings in sy Kerk en Koninkryk begin deur middel van krisisse en korrupsie. Vanuit ons Skrifgedeeltes fokus ons daarom op die volgende:

·       Die patroon van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die uitdagings van nuwe bewegings van God in moeilike tye

·       Die ywer van nuwe bewegings van God in moeilike tye  

Die patroon van nuwe bewegings van God in moeilike tye

Wanneer ons na die patroon van nuwe bewegings in die Skrif kyk, moet ons op twee vlakke daarop fokus. Ons kyk eerstens na die belangrikheid daarvan om patrone in die Skrif te identifiseer, en tweedens watter patroon ons hier raaksien oor nuwe bewegings in wankelende tye.

Wat patrone in die Skrif betref, het ons met ’n baie belangrike saak te make, en iets wat by die APA in die opleiding van predikante al hoe harder basuin word. Dit gaan oor daardie bekende woord wat die ou Kerkvaders reeds as baie belangrik beskou het, maar wat in ons tyd te dikwels sy swaargewig-betekenis verloor het. Dit is die saak van tipes (vgl. 1 Kor. 10:6 in Grieks) in die Bybel. Van vroeg af het die Kerk in die lig van die Nuwe Testament gevra hoe sekere persone en gebeure en instellings reeds tipes in die Ou Testament is wat na Christus en sy liggaam, die Kerk, heenwys. En dit was een van die vernaamste redes waarom die hele Bybel as Woord van God beskou en as sodanig hanteer is. Vandag kry ons dit dikwels dat daar mense is wat in wese maar net die Nuwe Testament lees en dan is daar ook diegene wat skynbaar net die Ou Testament lees. Wanneer ons egter daarvan uitgaan dat dieselfde God Homself in die Ou en Nuwe Testament openbaar en Jesus Christus die sleutel tot die hele Bybel is, raak dit moontlik om die Ou Testament in die lig van Christus te lees en so die diepte daarvan te ontdek en ’n hele Bybel te hê wat gloei van betekenis.

Om die waarheid te se, hierdie saak is so belangrik, dat daar teoloë is wat daarop wys dat dit die gebrek hieraan die oorsaak is waarom die Kerk nie altyd effektief genoeg kan veg in die Naam van Christus nie. Die rede is dat tipes en patrone help om die eenheid van die Bybel te waardeer en ook die wyse by uitstek is waarop die Bybel in jou gedagtes en in jou beendere ingaan. Dit word selfs beskou as een van die belangrikste wapens in die hervorming van die Kerk. Want die herhalende patrone bevestig die eenheid van die Bybel, lei jou na Jesus Christus in wie dit vervul word en dit beïnvloed so ons lewenspatrone en uitkyk op die lewe omdat ons deel is van Christus se liggaam. Ja, dit werk op ons verbeeldings in en help ons om ons verbeelding te hervorm om oor God se wêreld in Bybelse kategorieë en patrone te dink en te doen. Gebeur dit nie, is die Kerk se ore nie ingestem op die Woord van God nie, en kan ons dan selfs binne die Kerk die Bybel met ander kategorieë van die dag lees en kan ons en ons samelewing nie werklik verander word tot eer van God nie. En om prakties te raak, kom ons vra dan nou wat beteken dit as ons dit toepas op ons gelese gedeelte.  

Ons lees hier van Dawid as gesalfde van die Here wat in vernedering lewe, maar ook hoe dat die vernedering die eerste tekens toon van verhoging. Maar Dawid is die besondere gesalfde koning in die Ou Testament wat heenwys na die groot Gesalfde Koning van die konings, ons Here Jesus. Daarom het die kerkvaders geredeneer dat as iets oor die gesalfde van die Here se vernedering en verhoging gesê word, moet die Kerk van Jesus Christus in die lig van Christus vra hoe dit ons iets leer oor die pad van Christus en sy liggaam, die Kerk se pad in hierdie wêreld. Watter patroon sien ons dus hier waardeur die Kerk van Christus in die krag van die Gees opgeroep word om deel te neem in ons tyd? Ons sien iets van die patroon van nuwe dinge wat God doen.

En let mooi op: Ons hoor hier van die gesalfde Koning, maar wanneer ons verder lees, hoor ons ook van ’n profeet en later hoor ons ook van ’n priester. Ons hoor van ’n klompie mense wat deur die beskikking van God saam begin vergader en ons hoor selfs van ’n klein weermag daarmee saam wat begin vorm. Dit is nie vergesog om te stel dat ons hier iets sien van die vernuwing van ’n volk en koninkryk nie. En die verstommende is dat dit begin ontluik toe dit werklik lyk of alles nou verby is. Die spelonk van Adullam staan hier enersyds in die teken van die einde en van die dood. Dawid het nêrens meer om heen te vlug nie, behalwe na hierdie spelonk. Dit dui op die uiterste laaste. Grotte is dikwels in die Bybel plekke van nood en die dood. Dikwels was dit ook die plek van grafte. Maar dit bring gelowiges natuurlik ook alreeds by verwagting, want ons dien mos die God wat spesialiseer in lewe uit die dood. Dit is belangrik en die geskiedenis van die Kerk bevestig dit. Hoeveel keer in die geskiedenis al het mense gemaak asof die Kerk van Christus sg. irrelevant geraak het, en telkens het die Kerk herrys saam met hulle Verlosser wat die enigste nuwe era reeds ingelei het.  

En om die kwessie van dood te onderstreep is dit eintlik nie net Adullam wat in sekere sin hier simbool van die dood is nie, maar ook Abjatar, die priester. Want hy is die enigste priester, so lees ons aan die einde van hoofstuk 22, wat oorleef het toe Saul al die priesters van Nob laat ombring het, deur Doeg, die Edomiet, omdat Saul  hulle verdink het. Maar let op, wanneer Abjatar by Dawid opdaag, is daar nou nie net ’n koning nie, nie net ’n profeet nie, maar ook ’n priester. En ook Dawid se familie soek hom op en voeg hulle by hom. Hulle het waarskynlik ook nie veel van ’n keuse nie, want ons weet hoe word naasbestaandes misbruik wanneer die bose vyand iemand wil bykom. En tog, die krisis bind hierdie familie weer aan mekaar. En wat gebeur verder? Mense hoor via grottelegramme van die vesting en allerhande soorte figure, ook obskure figure, sommige benoud en in skuld en ander verbitterd oor die tirannie en swak toestande waaronder hulle leef, maar daar is ook hulle wat helde geword het en van wie ons later grootse dinge lees.

Toe dit lyk of alles ten gronde gaan, alle opsies uitgeput is, alles daarmee heen is, neem ons alreeds die eerste tekens waar van nuwe lewe wat al hoe duideliker vertoon. En dit is ’n patroon in die Skrif. Ons God het behae in skynbare doodloopstrate. Want dit is waar ons geloof uitgedaag word en waar ons besef dat ons regtig net op God kan vertrou. Dink aan Abraham wat so lank nie ’n erfgenaam gehad het nie; dink aan Isak wat geoffer moet word en eers toe die mes gelig word, kom die uitkoms; dink aan Moses wat eers geroep word veertig jaar na die tyd wat hy gedink het dit gaan gebeur; dink aan Gideon wat net met 300 man oorbly om teen die massas Midianiete te veg. Dink aan Elia wat onder die besembos lê. Waarom kom ons by sulke kranshangende situasies? Sodat ons al die eer aan God kan gee. En daarom, wanneer die Kerk van Christus ook in Suid Afrika in ’n toestand is, wanneer die land in ’n toestand is, is dit die teken dat die doemprofete reg is, dat al wat nou oorbly die wederkoms is, dan is die antwoord nee, nie noodwendig nie. Want God gebruik juis omstandighede waarin dit duidelik is dat daar geen menslike hoop meer is nie, om sy nuwe werk te begin toon. Soos met ’n verseëlde graf wat soldate bewaak. En daarom sien ons ook in Adullam meer as net tekens van radeloosheid en hopeloosheid. Ons sien God se genade en eerste tekens van vernuwing van Kerk en Koninkryk.

En daarom broeder en suster, mag ons ook op die uitkyk wees vir die Adullams in die geskiedenis en ook in ons tyd vra of daar nie dalk Adullams in ons eie lewe en eie tyd is nie. Ons wil by die APA dit waag om te stel dat die APA nou wel nie voorgee om die Adullam te wees nie, want streng gesproke behoort elke gesonde Kerk waar die gesag van Christus via die ampte van profeet, priester en koning bedien word, so ’n plek te wees, saam met soveel ander Christelike instellings wat hierop bou. Maar ons ons sien deur God se genade tekens van ’n Adullam ook by ons - ’n plek waar mense begin vergader vanuit allerlei verrassende oorde. Ons het klein begin met opleiding vir predikante. Onderwys het mettertyd bygekom in soveel skoolvakke asook sielkunde. Voorverlede jaar het Kommunikasiekunde en Sepedi deel van ons vakke geword, en sedert verlede jaar is Politieke Wetenskap en Ekonomie vir die eerste keer ook by. Ons begin om ’n formidabele repertorium van dinamiese vakke op te bou. En ons het nie net die vakke nie. Ons het leerkragte in die volle sin van die woord, ja mentorkragte, wat vra hoe ons hierdie vakke nie net met ’n Christelike sousie benader nie, maar eerder hoe Christelike sout in hierdie vakke ingewerk word om die volle smaak en genot van elke besondere vak na vore te bring. En ons soek tot in die diepste grondslae van elke vak waarom daar verskillende denkskole is en wat ons daarmee maak in die lig van Christus. Ons kyk ook toenemend waar die dinamiet geplant kan word om verkeerde voorveronderstellings op te breek sodat dit waarlik ontsluit kan word in Hom wat die ware Ankerpunt is. Ja, ons het deur die genade middele wat ons in staat stel om, hoe langer, hoe meer formidabele leiers in die meningsvormende velde in te stoot om hierdie geslag se verskillende denkskole met opgewondenheid en visie te bedien op ’n wyse wat regtig ’n beter alternatiewe moderniteit voorstaan. En daarom wil ons u vra: Bid vir ons en word vriende van die APA wat ons met u gebede en finansiële en ander hulp seën. Ja, bid dat die patroon van nuwe dinge wat God doen wat niemand eintlik sien aankom het nie, by ons bevestig sal word.

Die uitdagings van nuwe bewegings van God in wankelende tye

Want nuwe dinge gebeur nie los van uitdagings nie. Maar soos ’n bekende Protestantse prediker en leier, Douglas Wilson,  dit onlangs gestel het: “Hou op om jammer te wees vir jou kinders en kleinkinders. Waarom sou ons geslagte draakvegters, ja draakdoders, grootmaak en teleurgesteld wees omdat hulle drake kry om teen te veg? Hou moed, want dit is gevaarliker as wat jy gedink het.” En daarom moet ons mekaar maar ook weer vra: Wil ons regtig hê dat ons geseënd sal wees, selfs besonder geseënd sal wees? Goed dan, onthou: Jy word geseën met besondere gawes om besondere uitdagings en drake te gaan hanteer. Watter uitdagings sien ons in ons gelese gedeelte?

Ons verneem van wat ons vandag se terme sou kon noem staatsverval in Israel. In die vorige hoofstukke tot by ons gelese gedeelte verneem ons hoe Saul op verskillende verbondsterreine ontrou word – familie, kerk en staat. En skrikwekkend, hy, Saul, wat nie die oorloë van die Here getrou teen Amalek wou voer nie, is nou al by die punt waar hy oorlog voer teen die dienaars van die Here. Hy laat vermoor die priesters van Nob in ’n massa-moord en ’n banvloek. Net Abjatar ontvlug. En nou moet ons onthou dat God dit gebruik ook om die oordeel oor die huis van die hoëpriester Eli se nageslag te begin voltrek soos wat klein Samuel geprofeteer het omdat Eli sy seuns nie daadwerklik vasgevat het toe hulle die Kerk van die Ou Testament in die oë van die volk veragtelik gemaak het nie. Wat natuurlik vir ons ’n geweldige waarskuwing oor kompromie in die Kerk is. Ons moet die Here smeek dat, indien in sy raad mag bestaan, dit nie toenemend hierdie afmetings in ons land en in die wêreld sal begin aanneem nie -  vervolging van die kerk met ampsdraers eerste nie. En die werklikheid van die valse Kerk as valse profeet in die hand van die staat wat hiermee sal help, is nie denkbeeldig nie. Die tragiese hier is dat die mense rondom Saul te lam is om die toenemende tirannie teen te gaan. Weliswaar wier hulle darem nog om leiding te neem, maar hulle kan dit ook nie meer teenstaan nie.  En ons herinner ons weer wat die mense by die Nuremberg hofsake na die Tweede Wêreldoorlog was: “Ek het maar net bevele uitgevoer.” Of: “my hande was afgekap.” Laat ons ook geen illusie hê nie. Tirannie in die staat, al is dit ook aanvanklik in ’n sagte vorm, word erger as daar nie ’n daadwerklike ommekeer plaasvind nie. Dit is die uitdagings wat ons gelese gedeelte onder ons aandag bring – geleidelike verbondsontrouheid wat eers sagte en toe harde verdrukking en vervolging beteken. En tog, so word sekere profesieë hier vervul en blyk dit terugskouend stuiptrekkings te wees. Ja, toe die ergste op aarde gebeur en die Seun van God gekruisig word, blyk dit die voorspel te wees tot die beste nuus van alle tye.

En te midde hiervan is die gesalfde en sy volk wat rondom Hom vergader getrou. Gaan lees gerus Ps. 142 en Ps. 52 wat in hierdie omstandighede ontstaan het. Hulle bid en soek die gemeenskap met God op.  Ons sien ook dat daar nie voortydig na die mag van Saul gegryp word nie. Een teoloog is van mening dat dit die tipiese beproewing is wat Adam moes deurstaan en wat Dawid as ’n nuwe Adam ook moet leer om te weerstaan. Daarom: Wanneer die Here guns gee, leer steeds om te wag op die Here se tyd. Laat Hy die werke van die hande bevestig en bly getrou in die kleine. Want as ons nie in die kleine getrou kan wees nie, hoe kan ons verwag om met meer vertrou te word? Ons moet leer om volwasse in die geloof te word. Dit is ’n organiese en intieme proses en geen skielike getalle kan rondom dit beweeg nie.  

En Dawid het in die nuwe volk wat rondom hom gevorm het, genoeg gehad om aan te werk. Ons lees in vers 2 dat die wat by hom aangekom het benoud was, skuld gehad het en verbitterd was. Nou nie die mees ideale klomp mense met die beste motiewe nie. Party was net moeg genoeg van al die onderdrukking en skuld en swaarkry dat hulle bereid was om hulle bekende gemaksones te verlaat en by Dawid aan te sluit. En hierdie mense moes begelei word in die Woord van die Here. Die Kerk het steeds ’n taak om mense te bedien met die reinigende krag van die Woord. Elke ekstreme linkse of regse wat gefrustreerd is met die heersende toestande, is nie per definisie gereed om as revolusionêr van die koninkryk op te tree nie. Soms moet hulle soos die Kretense sterk bestraf word soos wat Paulus vir Titus (1:12-13) beveel. En dit is hier waar die ou-ou uitdaging vir die Kerk weer is om nie die Woord aan die hand van die politiek te interpreteer nie, maar die politiek aan die hand van die Woord - links of regs. Wanneer dit nie gebeur nie, is ons besig met korrelasie teologie. Maar hierdie klomp mense het die gesalfde koning gehad, die profeet Gad en die priester Abjatar. En mettertyd word hulle ’n formidabele leer. En so behoort ons ook koninklik, priesterlik en profeties toe te tree tot die uitdagings wat ons moet trotseer. Dit is insiggewend dat die profeet Gad vir Dawid vermaan om nie maar in die spelonk te bly nie, maar uit te beweeg in Juda in (v.5). Dawid word dus aangemoedig om in die geloof uit te beweeg in God se voorsienigheid. En terwyl hy besig is, op God te wag om die wasdom en leiding te gee (v.3). En terwyl hulle in die kleine getrou is, natuurlik met ywer getrou te wees en die goeie stryd te stry. 

Die ywer van nuwe bewegings van God in wankelende tye 

Want sien, as gesalfde met die Gees van die Here, het Dawid se ywer reeds met die leeu en die beer duidelik geword. En dit het hom weer gereed gemaak om ook kans te sien vir die reus, Goliat. En as ons verneem van Dawid se helde, sien ons ook waartoe sy getrouheid en heldhaftigheid in die krag van God se Gees gelei het. Ook sy makkers toon die kragtige werk van God se Gees as hulle getalle, leeus en reuse aandurf en verslaan. In 1 Kr. 11 lees ons hiervan en een besondere gebeurtenis vra ons aandag  - ’n gebeurtenis wat die mense daarna lank bygebly het, sodanig so dat dit spesiaal opgeteken is. Terwyl Dawid se manne die goeie stryd gestry het, het Dawid by geleentheid ’n begeerte in hom voel opkom na die water van Betlehem waar hy grootgeword het wat hy so goed geken het. In daardie tyd is dit deur die Filistyne beset. En in ’n skynbaar onbewaakte oomblik vra hy wie vir hom water sal bring. Sy voorste manskappe is so ywerig dat drie van hulle deur die linies breek en onder doodsgevaar dit vir Dawid gaan haal. En Dawid besef toe dat hulle hierdie water eintlik met hulle bloed en hulle lewe – hulle siel - gekoop het. En hy kan tog nie as koning sulke water drink asof hulle hul lewe moet waag vir sy plesier nie. Daarom weier Hy, want Hy sien raak dat sulke water net aan die Here self as offer gegee kan word.

As sulke ywerige stryders bereid was om dit te doen vir die gesalfde wat maar net heengewys het na die groot Gesalfde, broeders en susters, hoeveel te meer sal ons dan nie met ywer ons alles in die stryd werp om deur die linies van die vyand te breek vir die groot Gesalfde nie? En dit gebeur soos by hulle, nie deur op ons ywer te fokus nie. Nee, dit gebeur deurdat ons BeGeesterd raak deur die dade van die groot Gesalfde – deur ons verbondenheid aan Hom en gesalf met dieselfde Heilige Gees as Hy. As Hy nie sy eie lewe vir ons ontsien het nie, as Hy die dood oorwin het, en ’n toegang gemaak het tot die ewige heerlikheid, wat hou ons dan terug? Ons het al die rede in die wêreld om met ywer in God se diens te staan. Die doel op aarde is nie ’n lang lewe in die eerste plek nie, maar ’n ywerige lewe in diens van God en sy koninkryk.

Want dit moet ons weet – dit is hoe God bepaal het dat sy koninkryk kom – deur ons daarin te betrek en waarin ons leer om ons lewe, ons siel daarin te plaas. Dawid verwys na die lewensgevaar wat die drie helde trotseer het en wat letterlik neerkom dat hulle hul siel, hul nephesh, op die spel geplaas het. Hulle het dus in die krag van die Gees met hulle hele wese die goeie stryd aangeknoop. En ons kan ook, want ons deel in dieselfde Gees van Christus wat eerste sy lewe vir ons oorgegee het. Dit is maklik om van nuwe bewegings van God te praat en dat ons daarmee geassosieer wil wees. Maar laat ons ook duidelik verstaan dat dit ons siel vra, juis omdat ons liggaam en siel, in lewe in sterwe, nie meer aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Saligmaker wat met sy dierbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het, en ons so bewaar dat sonder die wil van ons Hemelse Vader, geen haar van ons hoof kan val nie, ja ook dat alles tot ons saligheid moet dien. Daarom verseker Hy ons ook van die ewige lewe en maak Hy ons van harte gewillig en bereid om  voortaan vir Hom te lewe (HK 1). 

En dit is die Gees waarin die APA ook hierdie jaar ingaan. Ons is opgewonde omdat ons van mening is dat ons tekens waarneem dat ook ons in God se genade ’n Adullam is. Wat in dieselfde Gesalfde se krag arbei as soveel ander moontlike Adullams wat ook in sy Naam besig is om te vorm. Vra gerus biddend of u nie meer berekend by hierdie groep behoort in te skakel en help nie, en bid vir ons en stry saam met ons die goeie stryd. Die tekens dat daar soveel korrupsie en verval rondom ons is, is nie noodwendig die teken dat ons Whattsapps of Telegrams moet aanstuur dat die einde naby is nie. Ons behoort ook gereed te maak vir nuwe dinge wat God moontlik deur ons wil doen, terwyl ons wag op die groot vernuwing van alle dinge wat eenmaal daar sal wees. En so, terwyl ons wag, is ons dan nie ledig nie, maar vol van Godverheerlikende dade tot eer van sy Naam, tot bevestiging van ons saligheid en tot getuienis vir die wêreld. Amen.