Gedagte vir kinders: Die Here self is ons grootste besitting
en erfenis.
Oorsig: Ps. 119 gaan oor iemand wat liries is oor God se wet
(torah – omvattende onderrigting) en daaroor in gesprek is met die Gewer
daarvan. Dit is gerangskik aan die hand van die 22 letters van die Hebreeuse
alfabet en elke letter van die alfabet het dan agt verse wat met daardie letter
in die Hebreeus begin om te praat met God oor sy wet. Dit gaan dus in ons taal
oor die A tot Z van God se wet, in gebed. Daar is altesaam agt verskillende
woorde wat die Woord beskryf en in vyf groeperings van Ps. 119 word al agt
soorte beskrywings gebruik, maar elke groepering onder elke Hebreeuse alfabet-letter
gebruik ten minste ses van hierdie beskrywings.
Ons lees in vers 57 onder die Hebreeuse letter, Get, dat die
Psalmis bely dat die HERE self sy deel, met ander woorde sy eintlike erfporsie
is. Daarom het hy ook gesê dat hy sy woorde sal bewaar. Wat is dan sy reaksie
en gebed tot sy HERE? Hy (1) smeek Hom met (2) sy hele hart om (3) genade in
lyn met (4) God se belofte (imra - vgl. v.58). Hy dink daarom ook na oor
sy paaie (weë) en laat sy voete teruggaan na God se getuienisse (edot: statute).
Hy doen dit met haastigheid en talm nie om God se gebooie (mitsvot: bevele)
te onderhou nie (v. 59-60). Die Psalmis vertel dat hy dit wou doen, maar was
daar versoekinge (strikke) van die goddelose wat hom omring en verhinder het.
Tog het hy God se wet (torah: onderrigting) nie in sulke omstandighede
vergeet het nie (v.61).
Die Psalmis gaan dan voort om te vertel hoe kosbaar die HERE en sy Woord vir hom is. Selfs middernag, die tyd wanneer ons dikwels die meeste weerloos, swak, losbandig of uiters traag is vir enigiets behalwe slaap of sonde, staan hy aktief op om God te loof vir sy regverdige verordeninge (mishpatim: oordele; v.62). Hy wys dan ook vir wie hy ’n spesiale vriend (metgesel) is. Dit is almal wat die HERE vrees, met ander woorde die wat vir Hom ontsag het en Hom eerste stel en wat sy bevele (piqqudim: voorskrifte ) onderhou (v.63). Die Psalmis eindig met ’n lofprysing tot sy HERE, die Verbondsgod van Israel en vandag die Kerk. Hy noem Hom op sy Naam, en bely dat die hele aarde vol is van die HERE se goedertierenheid (hesed: verbondstrou; v.64). Wat gebeur wanneer ’n mens bewus raak van die HERE se goedertierenheid en verbondstrou wat oral is? Hy wil hierdie God intiemer ken deur sy insettinge (choqim: dekrete) te leer.
Besprekingsvraag: Hoe help God se genademiddele ons om Hom nie
te vergeet nie?
Insig: Ps. 119 word geplaas tussen die Hallel-psalms
(113-118) wat veral met Paasfees, en die bedevaartsliedere (120-124) wat veral
met die Huttefees in verband staan. Die fees tussen-in is Pinkster (Lev.23).
Pinkster was 50 dae na Paasfees by Sinai (vgl. Ex.19:1) en Psalm 119 wat liries
is oor God se wet sluit nou hierby aan. Pinksterfees beteken vir Christene dat
die wet van God in hulle harte vreugdevol brand as mense van die nuwe verbond. Die
Psalmis bely reg aan die begin wat die verbond
beteken: Die HERE self is jou deel, jou kosbaarste erfenis. Ons word dikwels
deur omstandighede uitgedaag om opnuut te stel wat werklik vir jou die allerbelangrikste
is. Kinders van die HERE eien dit telkens weer toe en bely dit, ook weekliks in
die verbondsvernuwingfees, dat die HERE en die verbond met Hom fundamenteel is.
Wie die verbond met die Here so bely, word gekenmerk deur
bepaalde kenmerke en karaktertrekke in hul lewens. Wanneer jy besef wie jou
Here is, besef jy dat jy (1) alleen by grasie van sy genade leef, en (2) dat
dit nie deur goeie werke nie, maar deur sy beloftes ons deel word. En (3) dat
Hy daarvoor aangeroep moet word. Dit vryf telkens ons hare deurmekaar, maar gee
ons ook telkens moed omdat daar so vir elkeen hoop is wat Hom aanroep (Ps.
145:18). Genade beteken egter nie wetteloosheid nie. Nee, hier lei dit dadelik daartoe
dat die Psalmis sy weë aan die Woord meet, dit daarvolgens rig, sonder om te
talm.
Hierdie voorneme word egter verhinder deur strikke van die
goddelose (bv. wêreldse verleidinge of dreigings) wat jou letterlik omring en kan
vasvang. Die Psalmis bely egter dat hy nie vergeet het nie. Dikwels gaan afval
gepaard met God se weg wat vergeet word. ʼn Groot deel van ons geloof is om te
“onvergeet” (vgl. anamnesis of dan “nie-amnesia”). Wat help ons om nie
te vergeet nie? Die Psalmis noem vier sake: (1) Wees fiks in jou diepste
menswees met lof en dank teenoor die HERE; (2) kies jou vriende volgens godvresenheid;
(3) sien sy genade oral en (4) honger na
sy Woord. Ons kan dikwels ’n verkeerde pad of besluit terugherlei na verwaarlosing
van hierdie sake. Ons troos: Christus het dit reeds in ons plek gedoen - diep
in die nag (Mk. 1:35), en bly waak toe niemand meer saam met Hom waak nie (Mt.
26:38-40). Hy identifiseer sy metgeselle (Mk. 3:33-35), en sy voedsel: om die
Vader se wil te doen (Joh. 4:34), terwyl Hy God oral in die natuur waarneem
(Mt. 6:26-30). So gaan Hy alleen kruis
toe om ons afvalligheid los te koop sodat ons deel van God kan word en ons sy deel
kan wees en in die krag van sy Gees uit Hom kan lewe.
Werke geraadpleeg
John Gill.
Matthew Henry.
Tremper
Longman III, Psalms.