2023/04/29

Die Herder en Gasheer

Lees: Psalm 23

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus is ons goeie herder.

Oorsig: Psalm 23 gebruik twee besondere beelde om ons Here en Verlosser te beskryf: Herder en Gasheer. Hierdie Psalm van Dawid spel die konsekwensies daarvan uit. Die Psalm begin reeds verstommend. Die HERE, skepper van hemel en aarde, Verbondsgod van Israel en later die Kerk, is my Herder. Dawid was self ’n herder van skape en later ’n koning-herder van ’n volk (vgl. Es. 34:1-5; 37:24). Dawid het geweet van herderskap en kan daarom die Herder-beeld besonders toepas. Die herder-beeld vir die HERE was ook deurgaans in Israel belangrik (Gen. 48:15; Dt. 2:7; Es. 34:12).

Omdat die HERE my herder is, sal niks in my lewe kortkom (ontbreek) nie (v.1). Gelowiges het wel baie begeertes en nie alle wense is goed of word noodwendig hier vervul nie, maar daar kom niks kort wat ek werklik nodig het nie. (vgl. Fil. 4:6-7). Hierdie Herder laat my verder neerlê in groen weivelde - totaal ontspan in vertroue by Hom en die groen belewenis van sy sorg in weivelde. Hy lei ook na waters van rus wanneer ek opstaan vanuit sy rus (v.2). Hy verkwik/herstel verder my siel - Hy bring lewe terug in my diepste wese wanneer dit uitgeput is. Sy leiding is verder spesifiek in die spore van geregtigheid – dit is die pad van lewe en onsterflikheid (vgl. Spr. 12:28). Hy doen dit alles om sy Naam ontwil (v.3). Dit beteken nie dat Hy dit nie doen vanuit ’n slegte ego nie, maar om sy wonderlike Naam en wese aan ons en die wêreld bekend te maak. Hierdie sorg beteken dat ek geen onheil hoef te vrees nie, selfs nie daar waar die skaduwee van die dood dreig nie, soos daar waar skape in baie gevaarlike plekke verkeer. Waarom nie? Want hierdie Herder is met my. Hy het ’n stok en ’n staf - die stok om te slaan en te beskerm en die staf om te begelei, aan te help en te dissiplineer op die regte pad. Dit gee troos en stel gerus (v.4).  

Die beeld van herder gaan hierna oor na die beeld van die gasheer. Die HERE is self, verstommend genoeg,  ons Gasheer. Hy berei ’n tafel vir my, wat teken is van ’n intieme verhouding en oorvloed. Die verstommende is dat dit gebeur te midde van en teenoor die vyande wat dit moet aanskou. Die hoof word gesalf (vet gemaak) met olie, soos 'n eregas, en die oorvloed is so groot dat die beker oorloop (v.5). En dit bring die Psalmis by sy gevolgtrekking. Wat hom sal volg, soos wat hy die Herder volg, is net God se goedheid en guns (chesed: verbondstrou), al die dae van sy lewe. Meer nog, Hy sal in die huis van die Here bly vir altyd (in lengte van dae – v.6). Dit mag elke gelowige agterna sê.

Besprekingsvraag: Hoe voorkom ons dat ons hierdie Psalm soetsappig lees?

Insig: Ons moet daarteen waak om hierdie Psalm bloot sentimenteel te lees.


Reeds die eerste woorde arresteer ons met iets geweldig: Die HERE van hemel en aarde is tog ook ons Herder. Die herder-beeld is enersyds gebruik om die werk van konings te beskryf. Andersyds was dit ondankbare werk wat toegewys is aan die laagste stand van die volk (vgl. Gen. 46:34). Herders moes die omslagtige en vir ons dikwels irriterende sorg dra van diere wat baie broos en dom was, met al hulle kwale en dikwels nietige probleme. En die goeie nuus van die evangelie is dat die lewende God, die HERE, die Verbondsgod van Israel en die Kerk, my persoonlike Herder mag wees. Hy was en is daarmee geneë om die nederige werk vir ons te doen. Jesus Christus het in een van sy Ek-is uitsprake spesifiek hierby aangesluit: "Ek is die goeie herder." En die groot bewys teenoor valse herders en verlossers: Hy lê as die goeie herder sy lewe af vir die skape sodat ons oorvloed kan hê, hier en anderkant die dood (Joh. 10:10-11; vgl. Hebr. 13:20-21).

 Dit is belangrik om die fokus in hierdie Psalm reg te hou. Die fokus is in die eerste plek nie op ons nie, maar op Hom. Juis daarom het ons hier met sulke goeie nuus te make. Omdat Hý die Herder is, is daar vir ons heerlike persoonlike gevolge. Tog veronderstel die een kant altyd die ander kant. Omdat Hy die Herder is, kom ek niks kort nie, laat Hy my neerlê, lei, verkwik, vertroos en bemoedig Hy my as lid van sy kudde. Omdat Hy die Gasheer is, is daar ’n tafel van oorvloed vir my teenoor die teenstanders. Omdat Hy Gasheer en Herder is wat voorgaan, kan goedheid en guns my volg. Dit beteken natuurlik ook dat ons ons afhanklike posisie en skaapstatus sal erken en sy sorg toeëien. Ons is meer broos, en uitgelewer en doen dom dinge as wat ons dink. Daarom word ons opgeroep om ons eiewilligheid op te sê en die stem en leiding van die goeie Herder te leer ken. Meer nog: Op hierdie weg word dit duidelik dat ons in Hom nie net skape van sy kudde nie, maar ook koninklike kinders aan sy tafel is, en wat gesalf word met koninklike status teenoor die teenstanders.

Hoe leer ons sy stem en bediening aan ons, wat ons verstand te bowe gaan, ken? Deur in praktyk te leer, en Hom vra om ons te leer, wat dit is om in Hom te rus, gelei, gevoed en verkwik te word. Dit gebeur nie los van die genademiddele nie, die voeding deur sy Woord en die sakramente. Laat die beeld van die tafel en die intimiteit daarvan hier nie by ons verbygaan nie. Onthou ook dat die kerkvader, Augustinus, spesifiek gevra het dat Hy sal onthou dat ons by die nagmaalstafel nie net vertroos word nie, maar ook versterk word. Die versterking en salwing en oorvloed gebeur te midde van die vyande en die bedoeling is tog dat ons van daaruit koninklik sal stry teen die sonde. In Jerusalem by die tempel kon Israel te midde van uitdagings dit reeds beleef. Die hele Ou Testament is reeds vol daarvan. In Jesus Christus en sy liggaam die Kerk, is die oorvloed daar, meer as ooit. Ons mag nie toelaat dat stryde ons moedeloos maak nie. Laat ons sy stem ken en laat Hy ons lei en versterk. Goedheid en guns volg ons in Hom. Laat ons daarom in die Huis van die Here bly en so in Hom en uit Hom leef.

Werke geraadpleeg

J. Bergsma, The Word of the Lord. Sunday Readings for Year A.

Geoffrey W. Grogan, Psalms: The two Horizons Old Testament Commentary.

Ellen T Charry, Psalms 1-50, Brazos.

Patrick Henry Reardon, Christ in the Psalms.

Walter Brueggemann en William Bellinger, Psalms, Cambridge.

David Guzik, Psalms, Enduring Word Commentary.

Matthew Henry.

Peter Kreeft, Widom from the Psalms