Gedagte vir kinders: Jesus Christus is vir ons gekruisig
sodat baie mense gered kan word.
Oorsig: Ons lees in al die evangeliebeskrywinge van die intog in
Jerusalem. In Johannes verneem ons van ’n groot menige feesgangers, met baie
wat spesifiek kennis geneem het van Lasarus se opwekking uit die dood. Hulle
het palmtakke, die simbool van feesviering en oorwinning, opgeneem. Hulle het
dit gedoen toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom en Hom tegemoet gegaan met
woorde uit Ps. 118:25: “Hosanna (Here, red ons) ... Geseënd is Hy wat kom in
die Naam van die Here!” En hulle het bygevoeg: “die Koning van Israel”
(v.12-13).
Die Here Jesus het toe ’n jong esel gevind en daarop gaan
sit. Dit het Sagaria 9:9 se woorde in vervulling laat gaan oor Jerusalem se
Koning wat op die vul van ’n eselin sit. Die dissipels het later eers besef dat
hulle so deel was van die Skrif wat vervul is (v. 14-16). Die skare het hiermee
saam ook van Lasarus se opwekking uit die dood getuig. Dit het die skare nog groter
gemaak. Die Fariseërs het met mekaar hieroor baklei dat hulle niks vorder nie
en dat die hele wêreld agter Jesus aan loop (v.17-19). ’n Deel van hierdie hele
wêreld was blykbaar Grieke wat Jodegenote (vgl. Hand. 13:43) geword het en op
die Paasfees saam met die Jode aanbid het. Hulle het na die apostel, Filippus,
gegaan en gevra dat hulle Jesus graag wil sien. Filippus het dit vir Andreas
(beide het Griekse name) vertel en hulle weer vir die Here Jesus (v.20-21).
Jesus het geantwoord dat die uur gekom het dat die Seun van mens verheerlik (kruisiging tot hemelvaart) moes word. Hy verduidelik dit toe met die beeld van ’n koringkorrel wat eers in die grond moet sterf voordat die plant daaruit veel vrug kan dra (v.23-24). Hierdie patroon herhaal ook in elke dissipel se lewe wanneer iemand sterwe in Hom aan hulleself met die oog op die ewige lewe. Dit beteken dat Jesus gevolg moet word, en dat waar Hy is, sy dienaar ook sal wees en dat die Vader so iemand sal eer (v.25-26). Hy het toe gesê dat Hy ontsteld is oor dit wat nog moes gebeur. Hy sou die Vader egter nie vra om uitkoms nie, maar eerder dat die Vader sy Naam sal verheerlik. Hierop het ’n stem uit die hemel geantwoord: “Ek het dit verheerlik” (sy aardse bediening), “en sal dit weer verheerlik” (die kruisiging en opstanding - v.27-28)”. Sommige het gemeen dat dit ’n donderslag en ander dat dit ’n Engel was. Jesus het geantwoord dat dit vir hulle gebeur het en dat (1) dit die oordeel van die wêreld was en (2) dat die duiwel (owerste) buitentoe gedryf sou word. En (3) Hy sou van die aarde af verhoog word en so almal na Hom toe trek. Daardeur het Hy gewys op sy kruisdood (v.29-33).
Besprekingsvraag: Watter gevolge het Christus se kruisdood alles volgens die
gedeelte?
Insig: Christus se intog op Palmsondag wys
heen na sy oorwinning wat vrede bring. Dit was die vervulling van die Skrifte
oor ’n Koning wat inry op die vul van ’n eselin (Sag. 9:9-10). Salomo, die seun
van Dawid het op ’n muil ingery (1 Kon. 1:38-40) as teken dat dit ’n heerskappy
van vrede sou wees. Maar dan profeteer Sagaria van ’n ander dag waar die groot
Seun van Dawid sou inry om sy heerskappy van vrede te bring. En dan vervul
Jesus Christus hierdie woorde reeds voor sy kruis. Die Fariseërs profeteer
onbedoeld in hul frustrasie presies wat telkens in die geskiedenis van die Kerk
en haar missie op aarde sou gebeur: Dat godsdienstige leiers gefrustreerd sal moet
toekyk hoe die hele wêreld agter Hom aangaan en dat Christenskap effektief in hierdie
wêreld penetreer en mens vir Christus wen. Waarom?
Wanneer ons let op Christus se reaksie
wanneer die Godvresende Grieke Hom wil sien, begin ons die geheim van die groot
oes begryp. Die hele wêreld wat daar reeds na Hom getrek word, is ’n sein vir
iets anders as wat ons verwag. Want eers moes iets gebeur en wat die groot oes
sou moontlik maak. Die koringkorrel moes in die grond val en sterf. Hy moes
eers sy lewe gee. Hieroor word hy ontsteld en ons hoor woorde wat herinner aan
Getsemane. Sou Hy die vader vra om Hom te red van die kruisdood? En dan
verklaar Hy dat hy juis daarvoor gekom het. Wanneer Hy sê: Vader, verheerlik u
Naam, moet ons hoor dat Hy eintlik vir die Vader vra: Laat die kruisiging van
die Seun van God deurgaan. Daarsonder sal daar geen oes wees nie en loop alles
op niks uit. En die Vader antwoord uit die hemel, net een van drie keer in die openbare
bediening van Christus (vgl. Mt. 3:16-17; 17:5). Die antwoord kom dat Hy reeds verheerlik
is, in die bediening van Christus, en Hom ook sal verheerlik in die kruising en
opstanding.
Waarom moes die kruisiging gebeur?
Want so sou die oordeel van eenmaal, in die middel van die geskiedenis ingetrek
word. So kan ons in Christus sien wat ons sonde veroorsaak, maar ook daarvan
vrykom. Wanneer ons die verstommende versoening deur Christus in die geloof
aanvaar, sien ons dat ons geoordeel word, maar ook vry word vir ’n nuwe lewe. Hiermee
saam is die satan ook uitgewerp uit sy magsposisie en heerskappy (vgl. HK 1).
Satan kan nog verlei en seermaak, maar sy mag is verbreek. En uit die bevryding
uit oordeel en Satan se mag, hoor ons die heerlik-positiewe gevolg: Christus
trek deur sy kruisdood en verheerliking almal na Hom toe (vgl. Jes. 52:13). Die
Seun van God gee sy lewe vir die wêreld, en dit trek geweldig. Ja, hierdie
ontsaglike liefdesdaad dring ons om aan onsself te sterwe en vir Hom te lewe.
Werke geraadpleeg
Matthew Henry
Ignatius Catholic Study Bible, New Testament.
John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.
Frederick
Dale Bruner, The Gospel of John: Pillar New Testament Commentary.